Anton Goosen het ‘n lang pad gestap…..

Anton Goosen het ‘n lang pad gestap vandat hy as student per trein gereis het van Heidelberg waar hy studeer het, na Oos-Londen om ‘n 15-minute set te doen by ‘n plaaslike verskeidenheidskonsert. Die jong Anton Goosen het hoofsaaklik Engelse covers gespeel en dit is nie bekend of enigeen in die gehoor besef het watter impak Anton op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf in die algemeen en meer spesifiek die Afrikaanse musiekbedryf gaan hê nie.Daar was sekerlik skeptici. Reeds in std. 9 het ‘n skoolsielkundige vir hom gesê dat daar geen toekoms vir hom in musiek is nie. Dit was na hy op skool begin musiek speel het, sterk beinvloed deur liedjies soos Johnny B. Goode van Chuck Berry, I can’t get no (satisfaction) van die Rolling Stones en She loves you van die Beatles.
Na skool met geen onmiddellike musikale loopbaan in die vooruitsig nie het hy homself as onderwyser bekwaam en ook dan onderwys by St. Stithians gegee terwyl hy saans in kroeë speel. Min mense weet dit maar in die tydperk bekwaam hy hom ook as Suid-Transvaalse sokkerskeidregter.
Tydens sy termyn by St. Stithians skryf hy ‘n musiekblyspel, Jantjie, wat deur die leerlinge opgevoer word. Anton verlaat die onderwys in 1976 en begin as deeltydse resensent by die nuutgestigde Beeld werk. Hy gee in die tyd ook kitaarklasse en pottebakkeryklasse. Sy eerste onderhoud as beeld se musiekresensent was met die relatief onbekende Sonja Heroldt, wie se Ek verlang na jou toe pas begin het om gewildheid te verwerf. Tydens die onderhoud noem Anton aan Sonja dat hy ook liedjies skryf en na sy hom by sy huis besoek het, en deur sy liedjieversameling geblaai het, kies sy Jantjie om te sing en word dit een van haar grootste treffers.Dit was die begin van ‘n suksesvolle werksverhouding wat vir byna vier jaar geduur het. Anton het in die tyd byna eiehandig al die musiek vir Sonja se albums geskryf. Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein, Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans en Oberammergau is net ‘n paar van die treffers waarmee Sonja Heroldt die treffersparades en toekenningsaande verower het. Anton skryf nie net vir Sonja nie, maar skryf ook liedjies soos Hoeka toeka vir Carike Keuzenkamp, Straattroebadoere, Vergeet om te vergeet,Neanderthalman en Atlantis vir Laurika Rauch terwyl Richard Clayderman en Francis Goya beide Waterblommetjies opneem.In 1979 skryf Anton die temamusiek vir die rolprent Pretoria o Pretoria. Die temalied uit die rolprent, die oorspronklike weergawe van Kruidjie-roer-my-nie, word binne vier dae na uitreiking verbied. Dit begin ‘n lang reeks van SAUK inperkings vir Anton Goosen. Anton herskryf die lirieke van Kruidjie en die kortspeler van nuwe liefdesweergawe verkoop 40 000 eenhede. (Terloops die b-kant van die kortspeler was Waterblommetjies). Hierdie is die eerste kommersieël suksesvolle opname van Anton Goosen.
In dieselfde jaar reik hy sy eerste album uit, wat ook die eerste volledige Afrikaanse album ooit deur ‘n sanger was wat sy eie liedjies inheems in Afrikaans geskryf het. Die inspirasie het gekom nadat Chris Kritzinger in sy kantoor teenoor vir Anton gesê het dat hy ‘n album moet maak; iets soos ‘n singer-songwriter soos Donovan.Boy van die suburbs verkoop 80 000 eenhede – gewis nie sleg vir iemand wat geen toekoms in musiek het nie. Op die album breek Anton nog nuwe grond vir Afrikaans. Blommetjie-gedenk-aan-my word algemeen beskou as die eerste rocksong in Afrikaans en die rigting wat Anton hierna ingeslaan het besorg later aan hom die eretitel “Vader van Afrikaanse rock”.Maar Anton het nie net die musiek van rock na Afrikaans gebring nie. Die protes teen die status quo wat altyd onderliggend aan rock is, was ook deel van Anton Goosen se bydrae. Antjie Somers en Hanoverstraat is van die eerste liedjies in Afrikaans wat teen gedwonge verskuiwings geprotesteer het. Mpanzaville opgeneem deur Laurika Rauch dra sterk verwysings na die Soweto-onluste. Die ATKV verbied Anton om by hulle verhoë op te tree na hy grappies tydens ‘n crescendo-optrede in die Stadskouburg oor die nasionale vlag gemaak het. Die verbod word later onder druk opgehef. Hy skok ook die gehoor by ‘n kulturele konsert by Unisa toe hy met ‘n rockband opdaag vir sy optrede. Sowat 300 van die 1200 mense in die gehoor loop uit tydens die drom-solo.In samewerking met onder andere Laurika Rauch, Koos du Plessis, Jannie de Toit, Louis van Rensburg en Clarabelle van Niekerk is Anton die voorloper in 1979 van die musiek en liriekbeweging. Hy skryf o.a. 16 van die liedjies wat deur Merwede van der Merwe in die TV program gebruik word en is musiekadviseur vir die programreeks.en toe met die verhoogoptredes van Musiek en Liriek begin Kruidjie-roer-my-nie op die treffersparades klim. Die rubicon skeidslyn in Afrikaanse musiek is bereik – kort op sy hakke volg David Kramer, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Annelie van Rooyen e.a.

Dit is al oor die tydperk gesê dat Afrikaanse musiek in twee kategoriee verdeel kan word. Dit wat voor Anton Goosen gebeur het en dit wat na Anton Goosen gebeur het. Hy wen ook twee Saries in die tyd.Anton bou vir die meeste van die tagtigs voor op die rockgrondslag wat in die laat sewentigs gelê is. Uitgebreide toere deur Suid-Afrika en Namibië volg in die tagtigs en hy verkoop oor die 400 000 plate. In 1983 doen Anton die regie van Wildebeest, die eerste Afrikaanse rockalbum. Anton vestig homself as ‘n suksesvolle producer en die talent van hom sal veral in die negetigs na vore kom toe hy die baie suksesvolle Elke boemelaar se droom produseer vir Koos Kombuis en ook die krities geloofde Om te Breyten album. In 1985 sluit Anton ‘n platekontrak met Peter Gallo op ‘n melkbottel. Dit is die begin van ‘n verbintenis wat nou nog stewig staan. Nog twee suksesvolle albums volg: Lappiesland en Liedjieboer innie city/stad. In die albums verken Anton, wat toe pas na Gansbaailapa, sy plasie langs die Hennopsrivier getrek het, sy etniese oorsprong. Jare hierna sou hy op die “Putonnerwater” album die song Gansbaailapa aan sy ondersteuners bekendstel.In 1989 slaan Anton ‘n nuwe rigting in, saam met Lukas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk stig hy die groep die Kommissie van Ondersoek – ‘n tong in die kies verwysing na die vele kommissies wat die Nasionale Party tydens hulle bewind saamgestel het. Die liedjie Winde van Verandering word onmiddelik deur die SAUK verban. Die liedjie loop die geskiedkundge gebeure van 2 Februarie 1990 vooruit. Toe die SAUK snuf in die neus kry van die veranderinge wat kom, ontban hulle die liedjie en Winde van Verandering word ‘n radiotreffer.Ook in die jaar stel Anton Goosen die 19-jarige Ansie Kamfer, ‘n politiese aktivis, as sy bestuurder aan. Sy vertroue in haar word beloon toe sy ‘n jaar later Houtstok reël en daarin slaag om met haar eerste probeerslag 22 000 mense by ‘n Afrikaanse musiekkonsert te kry. Dit is tot op datum die grootste Afrikaanse musiekfees nog. Die FAK se mimiekfees by die Voortrekkermonument wat daar grootliks uitheemse “Afrikaanse” liedjies gesing word en deur Marius de Plooy aangebied word, op dieselfde dag word deur slegs 15 000 mense bygewoon. Soos met die musiek-en-liriekbeweging vantevore, bevind Anton Goosen hom weereens op die lempunt van Afrikaanse musiek se ontwikkelling. “Wit kaffers van Afrika” word een van die mees kontroversiële protesliedjies ooit in Afrikaans. Die CD van die Houtstok-fees opgeneem deur Peter Pearlson vang die gees van die geleentheid vas. Tussen 1990 en 1992 werk Anton Goosen aan Danzer. Hy toer ook saam met rockbands soos Jack Hammer en die Backwater Blues Band. Die titelsnit van die Danzer album “Dancer” waar Anton en Lucky Dube saamsing haal gelyktydig die nommer een posisie op die 5 FM treffersparade asook Radio Metro. Daarmee is Anton die eerste Afrikaanse sanger wat die nommer 1 posisie op 5FM behaal. Nie net was die album ‘n kommersiële sukses nie, kritici was ook gaande daaroor. Insig noem die album die beste ooit in Suid-Afrikaanse musiek.Gedurende die res van die negentigs reik Anton nog ‘n nuwe album, Bushrock uit waarop hy saamwerk met Gito Baloi van Tananas, Isaac Mstali van Stimela (wat o.a op Graceland gespeel het) Kenny Mataba e.a. En skep ‘n unieke Afrikaanse marimbaklank met vermengings van kulturele style.
Riviersonderend en Putonnerwater – twee versameling albums word ook in die tyd uitgereik. Maar met enkele nuwe werk soos Die Seewater is blou en sy toonsetting van Ingrid Jonker se Hemel vol blou Akkers. In die laat negentigs neem Anton tyd om homself te herontdek. Hy bou sy huis klaar en reis deur Afrika. In 1999 begin hy weer met lewendige optredes. Sy gehoor bestaan nou ook uit lede van ‘n nuwe geslag wat nog kinders was toe Anton op die toneel verskyn het. Heelwat van hulle was nog nie eers gebore toe Anton Boy van die suburbs uitgereik het nie. Anton se musiek word nou ook ‘n brug tussen die generasies.Ouderdom maak Anton nie minder beginselvas nie. In 1999 weier hy om ‘n prys van die ATKV te ontvang omdat hulle ook mense beloon wie se werk hoofsaaklik uit vertaalde Engelse liedjies bestaan. Anton voer die stryd teen vertalings en die mense wat op verhoë verskyn met backtracks. Gedurende 2002 word die stryd tot ‘n punt gedryf met die backtracks brigade onder leiding van Steve Hofmeyr wat Anton Goosen takel op hoofsaaklik Litnet, maar later ook in die koerante. Die bloedneus wat Steve Hofmeyr op Litnet kry laat hom ‘n vendetta begin teen Anton Goosen . Anton ignoreer hom, maar verskyn darem by KKNK 2003 in ‘n t-hemp wat met Hofmeyr die draak steek.Vis in die bos wen in 2002 vir Anton Goosen ‘n SAMA vir beste album. Die album word deur kritici beskryf as die eerste suksesvolle world music album in Afrikaans. Anton breek weereens nuwe grond vir Afrikaans. Sy bydrae tot Afrikaans word deur die letterkundige Gerrit Komrij erken toe sy lirieke in ‘n poësieversamelbundel ingesluit word. Anton is ook die producer van die Om te Breyten album wat in 2001 ‘n SAMA wen vir Beste Afrikaanse album. Op die album is die gedigte van breyten breytenbach deur verskeie Afrikaanse kunstenaars getoonset.In 2002 ontvang Anton Goosen ‘n Geraas toekenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek asook vir die Breytren-projek.. Anton is veral bekend daarvoor dat hy verskeie jong kunstenaars help om hul eie paaie te bou. Daarvan getuig die reeks Anton en Vrinne shows wat hy op kunstefeeste aanbied. Die idee vir Anton en Vrinne word gebore by die Volksjol tydens die Volksbladfees toe Valiant Swart en Karen Zoid by Anton en Beeskraal op die verhoog aansluit vir ‘n allermintige jam. Dit lei tot vele Anton en Vrinne optredes dwarsoor die land en ook tot ‘n vier uurlange optrede in die staatsteater met sy bushrockband en verskeie vrinne soos wyle Gito Baloi (Tananas), Sonja Herholdt, Ollie Viljoen, dDisselblom, Gian Groen, Andre Swiegers, Alta Joubert, Charlie Smith van Beeskraal, Steaan van der Walt,Dozi, Theuns Jordaan, e.a. ‘n Suksesvolle DVD-opname en 2x cd van die show word uitgereik in 2003.By die Huisgenootskouspel word Anton vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek met die toekenning vir Lewenslange bydrae tot musiek en hy is word ingehuldig in die Suid-Afrikaanse rock digest Hall of Fame. Anton se tweede liriekbundel het ook die lig gesien in 2005. In die bundel, Hitte van die teerpad: Songs van die Liedjieboer kyk Anton terug oor sy loopbaan met sy lirieke, staaltjies en verhale, maar hy laat ook nie op hom wag nie. Die jaar 2005 was ook ‘n jaar van vernuwing vir Anton met sy album, Groen Blomme, waarop hy met verskeie jong kunstenaars kragte saam smee. Die album word kort na die opvolgende nuwe jaar uitgereik en word met ope arms ontvang. Die Groen Blomme in die titel verwys na die jong, talentvolle kunstenaars wat saam met Anton aan die album gewerk het soos o.a. Klopjag, Gian Groen, Lienka, ens.
Die pad is lank maar hy is nog nie klaar geloop nie. Die pad loop ook nie net deur Afrika nie, maar daar is reeds verskeie suksesvolle Europese shows agter die blad. Sy pad loop ook nie alleen nie, maar loop saam met baie ander en diverse kunstenaars.Vanaf 2002 tot 2008 doen Anton en sy Bushrockband eenmaal ‘n jaar shows in die UK en in 2007 ook in België en Nederland.In 2007 verhuis Anton na die Kaap en vestig hom in Gansbaai nadat hy die slagoffer van ‘n gewapende rooftog op sy plaas aan die Hennopsrivier was.
In 2008 reik Anton en Steve Hofmeyr mekaar die hand met die Brugboukonsert en is sedertdien goeie vriende.
In 2008 reik Anton 3 dubbel cd’s uit om sy 33 jaar in die bedryf te vier: 33 A-sides (liedjieboer-treffers) 33 b-sides (getye van verandering) en 33 Sea-sides (om te rock en roll).In 2009 verskyn twee musiekboeke van Anton: Liedjieboer Boek 1 en 2 met 38 van sy werke en doen hy ook vir 4 jaar sy eie musiekprogram op Whale Coast FM: “Pampoene oppie dak”In Meimaand 2009 ontvang Anton en Yvonne Chaka Chaka elk ‘n SAMA-toekenning vir hul lewenslange bydraes tot Suid-Afrikaanse musiek en sing hul twee bygestaand deur die Lucky Dube band, pampoene oppie dak vir die 6000 grootliks andertaliges in die Sun City gehoor.
In Junie 2009 word Anton saam met Coenie de Villiers en David Kramer vereer met ‘n eeufeesmedalje deur die Akademie vir Kuns en Wetenskap vir hul onderskeie bydraes tot Afrikaanse musiek.
In 2010 ontvang Anton ‘n ATKV toekenning vir sy bydra as liedjieskrywer en word 33 A-sides heruitgereik as Anton Goosen :Grootste Treffers van die Liedjieboer, ‘n dubbel cd met al die gunstelinge soos Jantjie, Waterblommetjies, Boy van die suburbs, ‘n Brief vir Simone, Sms, Pampoene oppie dak en vele meer by Select Musiek.
In 2011 ontvang Anton ‘n goue Voortrekker-erepenning vir uitstaande jeugdiens.
In 2012 vervaardig en bied Anton ‘n baie suksesvolle musiekreeks, Liedjieboer-rumoer op RSG aan. Dit word opgevolg met nog vier reekse, en die 5de reeks word in April 2016 uitgesaai. Dit is kultus tematiese musiekreekse.
In 2012 nader die musiekdepartement DOMUS van die Universiteit Stellenbosch, Anton om sy manuskripte, uitknipsels en werk oor die jare in hul argief te bewaar vir studente vir nagraadse studies.
Sy bydra tot Afrikaanse musiek word verteenwoordig deur die 19 Liedjies van Anton Goosen wat in die FAK Sangbundel Volume 2 wat einde 2012 uitgereik is, opgeneem is. Dit is meer liedjies as enige ander liedjieskrywer in Afrikaans. Dit begrawe die strydbyl tussen hom en instansies wat uitheemse musiek aangemoedig het, aangesien die nuwe FAK bundel grootliks uit inheemse oorspronklike Afrikaanse musiek bestaan, en dus word hy genooi om by die bekendstelling by die gala-opening by die Voortrekker monument op te tree.
In Junie 2013 ontvang hy die Innibos trofee vir sy lewenslange bydra tot Afrikaanse musiek,
Hy skryf die temaliedjie vir die bekroonde skrywer, Deon Meyer , se Die Laaste Tango. Die rolprent het in Julie 2013 verskyn.
Ook in Julie 2013 verskyn sy liedjie Viva Madiba wat in 8 tale op die cd “In homage to the Madiba Legacy “ deur o.a. Gloaria Bosman, Rebecca Malope, Dozi, Charlize Berg e.a. opgeneem.
In November 2013 was hy genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig met ‘n vertoning en radio onderhoud by die 8 e Zentsuraren -fees (Festival against sencorship) in Bilbao Spanje. Van die ander vertonings in die wereldmusiekfees was La Rumeur van Frankryk en El Cabrero van Spanje. Hugh Masekela het S.A in 2012 verteenwoordig.
2015 reik Next Music Anton Goosen Volledig Vol 1 uit. Dit is die eerste van vier albums heruitgereik in ’n boksstel: Boy van die suburbs, 2deLaan 58, Liedjieboer en Jors Troelie. Volledig Vol 2 volg in April 2016.
In 2015 skryf hy die temalied vir Koos Roets se rolprent, ’n Pawpaw vir my Darling wat in Jan 2016 uitgereik is, die rolprent is ’n verwerking van Jeanne Goosen se gelyknamige boek. Die temalied is ’n onmiddelike treffer op verskeie trefferparades.
5 Maart 2016 vereer die Universiteit Stellenbosch se Woordfees hom met sy 70 ste verjaardag met ’n huldigingsprogram met o.a. David Kramer, Nick Turner, Robin Auld, Gert Vlok Nel, Gian Groen , Churchill Naude, Deon Meyer, Sonja Herholdt e.a. onder muzikale regie van Schalk Joubert. Next Music reik die reeks Volledig Vol 1, 2 en 3 uit- dit is die volledige katalogus van al 12 cd albums, alsook ’n versameling “Love Songs”. Okt 2016 – Anton en Adam Tas, Steffie le Roux en David Fourie, onderneem ’n toer deur Australië vir die Suid-Afrikaners in Brisbane, Sydney, Perth en Melbourne. 14 November het Domus Open Africa, die liedjieboer vereer met ’n functie by die muziekbibliotheek van die Konservatorium Univ Stellenbosch om die digitalisering van sy archief te vier. Anton se musiekversameling, nota ens is die eerste populêre musiek-argief wat deur Domus vier jaar gelede begin is deur Prof. Stehanus Mulder.
RSG kunstefees het Vrydag 18 November hul kunstefees afgesluit met “Danzer” waarin die musiek van Anton uitgevoer word deur David Kramer, Zolani Mahola van Fresly Ground, Sima Mashazi, Erika Lundi, Frazer Barry van Tribal Echo, Churchill Naude, Luna Paige onder mus9kale regie van Schalk Joubert bygestaan deur die Bushrockband.
21 Nov 2016 het Dr Danie J. Langner, Besturende Direkteur van die F.A.K. , die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereningine, die prestige toekenning vir besondere kultuurprestasie aan Anton Goosen van Gansbaai toegeken vir sy lewenslange bydra tot die bevordering van Afrikaanse musiek by die amfitiater van die Voortrekker Monument in Pretoria. Sy “Blommetjie gedenk aan my” se liriek is terselfdertyd in die Liedjietuin van die F.A.K. onthul.

April 2017- Anton bied die sesde RSG Liedjieboer-rumoer reeks aan -hierdie keer oor die musiek en werk van die Nobelpryswenner Bob Dylan
Oktober 2017 ‘n nuwe “organiese roots”-album, PADKOS word uitgereik by Vonk-musiek met die bekendstellingsfunksie live op RSG met meegaande video Diep Blou Seevervaardig deur Andre Calitz van Blixem Pordiksies.

Anton se aptyt vir vernuwing en musikale eksperimente is nog hoeka nie gestil nie en hy doen verskeie optrede oor die land en oorsee, akoesties-solo en /of met sy bushrockband.
——————-
Anton Goosen se nuwe CD Padkos, is sy eerste sedert Groen Blomme-projek 11 jaar gelede. Hy beskryf die musiek as organiese klanke en hy en Peter Pearlson sy ingenieur, het 6 jaar aan en af aan die album gewerk.

Slegs die Soetstemmekoor van die plaas Delta Solms wat op twee snitte, Diep Blou See en Beestepote, sing, is in ‘n ateljee opgeneem. Die meeste van die musiek is of tuis in Gansbaai, of in Peter se kantoor by die Sound Acadamy waar hy ingenieurklasse aanbied, opgeneem. Denzl Keenan van die groep Rooibaard, speel al jare saam met Anton, en sy snitte het hy tuis in Clarens opgeneem en via die internet gestuur.

Organiese klanke volgens Anton is o.a die feit dat daar geen tromme, elektriese ghitare, of elektroniese instrumente op die album is nie. Die album is deurspek van akoestiese ghitare, Hammond orrel, stomp box, cajon, trompie, bongo’s, mondfluitjie, traporrel, klavier, alt saxofoon, banjo ens.

Van die musikante wat op die album optree is o.a. Lise Swart, Schalk Joubert, Fred Koch (van die Bushrockband), Albert Frost, Gian Groen, Nielen Prisloo, Denzl Keenan, Vernon Swart, e.a.

Anton het met die skryf en opnames van die album sy musikale wortels her-ondersoek. In die openingssnit,

In die openingssnit, Diep Blou See bekyk en beskryf hy sy omgewing in Gansbaai uit die oogpunt van ‘n boomhuis waar hy als kan dophou: die noorkapperwalvisse, die wit doodhaaie, die perlemoen en galjoen, die hawe ensomeer.

 

‘n Pawpaw vir my Darling was die temaliedjie vir Koos Roets se film oor Jeanne Goosen se boek met die selfde titel. Die film was ‘n lokettreffer en so ook die liedjie.

Poliesman kan my nie vang nie is die storie van Scotty Smith oftewel George Lennox (1845-1919) wat ‘n perde en diamant dief was, by die rykes gesteel het en die arm man gehelp het. Hy was ook bekend as Suid-Afrika se Robin Hood.Ou blou geroeste kruiwa, Perlemoentjie en Sagte Kaapse Reën is liefdeliedjies, sommige in ‘n ongewone baadjie.

Die uilvrou van Niew Bethesda is die storie van Miss `helin Martins, die wêreldbekende “outsider” wat met die hulp van Koos Malgas die sementuile en beelde geskep het.

Die bulldozers gallop is ‘n surrealistiese lawigheid van hoe die Kaap en Gauteng Tafelberg en die strand (en ander) kan deel. Hy was ‘n goeie vriend van my is ‘n ode aan Anton se ontslape vriend, Ollie Viljoen- een van die grootste musikante wat ons land opgelewer het. Beestepote is ‘n herlewing van ‘n tradisionele Kaapse Karnavallied.

Innie Tsitsilama en In Werk (tot die sand alles uit die uurglas gly)is parodieë van die werklikheid en die perfektheid van ‘n Tuin van Eden en word gekyk na die futiliteit van die mens se bestaan in die modern era, en sy hunkering na die perfekte uit die gevangenisskap van sy eksistensialisme.

Mzansi (word vervolg) is tweeledig. Eerstens is dit ‘n “lokliedjie” van wat op ‘n volgende album volledig aangeraak gaan word en terselfdertyd musikaal die rou aardsheid van Anton se “homegrown” musiek.

Die bekendste songs van die liedjieboer wat deur ander kunstenaars opgeneem is:
1- Jantjie – Sonja Herholdt e.a.
2 Byewboerwa- Carike Keuzenkamp
3 Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans – Sonja Herholdt
4- Umfaan – Sonja Herholdt
5- Hoeka Toeka – Carike Keuzenkamp
6- Totsiens auf wedersehn – Vicky du Preez
7- Harlekyn – Sonja Herholdt e.a.
8- Hanoverstraat – Sonja Herholdt
9- Oberammergau – Sonja Herholdt
10- Waterblommetjies – Sonja Herholdt e.a.
11- Vergeet om my te vergeet – Laurika Rauch
12- Aai aai – Laurika Rauch
13- Straattroebadoere – Laurika Rauch
14- My life’s in good hands – Gene Rockwell
15- Trein na Matjiesfontein- Sonja Herholdt
16- Vergeet my nie – Ge Korsten
17- Die mense wat ek liefhet – Sonja Herholdt, Laurika Rauch. Lise Swart
ens.
Songs deur Anton self gesing
18- Kruidje-roer-my-nie
19- Boy van die suburbs
20- Blommetjie gedenk aan my
21- Begrafnistyd in Zeerust
22- Die Kaap is weer Hollands
23- Josie-Josie
24- ‘n Brief vir Simone
25- Jy’s ‘n Lady
26- Boude
27- Trompie
28- My Stellenbosch se nonnatjie
29- Potjekos
30- Pasgetroud
31- Klein bietjie wyn
32- Silver de Lange
33- Geelperskereën
34- Winde van Verandering
35- Kalbassies
36- Moya
37- Dancer (met Lucky Dube)
38- Kruppelkop-gewete
39-‘n Vis innie Bos
40- SMS
41-Pampoene op die dak
42- Beste Henry
43- Ferreirakamp (Sonja Herholdt/ Lise Swart)
44- Tot die pêre eendag horings kry
45- Patat
46 ‘n Paw paw vir my darling
47- Diep Blou See
48- Ou blou geroeste Kruiwa
ens

MEDIA

Lydia Winchester
011 475 2187
082 554 8453
lydiaw@mweb.co.za

 

 

One thought on “Anton Goosen het ‘n lang pad gestap…..

  • 29/07/2018 at 8:22 nm
    Permalink

    Wanneer is en waar is daar ‘n show van Anton en Gian Groen soos wat by die blou hond teater onlangs was?

    Reply

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest