ANTON GOOSEN – PADKOS

Anton Goosen se nuwe CD, Padkos, is sy eerste sedert sy Groen Blomme-projek elf jaar gelede. “Die klanke is organies; nié tegnologies ateljeegedrewe nie, en daar is weer eens heelwat musikale kruisbestuiwing” sê Anton. Hy en die bekroonde vervaardiger Peter Pearlson, sy vriend en ingenieur, het ses jaar aan en af aan die internetgedrewe album gewerk.

Die meeste van die musiek is óf tuis in Gansbaai, óf in Peter se kantoor by die Academy of Sound Engineering in Kaapstad, waar hy ingenieurklasse aanbied, opgeneem. Denzl Keenan, van die groep Rooibaard, speel al jare saam met Anton. Sy vioolsnitte het hy tuis in Clarens opgeneem en via die internet gestuur.

Daar is daar geen tromstel op die album nie. Die album is deurspek van akoestiese ghitare, Hammond-orrel, stomp box, cajon, trompie, bongo’s, mondfluitjie, traporrel, klavier, viool, alt-saxofoon en banjo.

Van die musikante wat op die album optree, is onder andere heelwat gereelde lede van die Bushrockband: Lise Swart, Schalk Joubert, Fred Koch, Denzl Keenan, Albert Frost, en dan ook Gian Groen, Nielen Prinsloo, Winston Siljeur en Vernon Swart. Die Soetstemmekoor van Solms Delta naby Franchhoek sing op twee snitte: Diep Blou See en Beestepote en hul bydra is die enigstes wat in ‘n ateljee opgeneem is.

Dié liedjieskrywer se werk word gekenmerk aan siel en fut. Sy beskrywings van mense, dinge en plekke, en die gepaardgaande emosies en ervarings wat dit meebring, kan gesien, gehoor, geruik, geproe en gevoel word. Dié album – met veertien treffende snitte – herbevestig daardie sonderlinge talent en benadering. Anton vernuwe sónder om te vervreem en verleen hernieude nostalgie en melancholie aan die bekende – én die onverwagse…

DIE LIEDJIES

Anton sê hy het met die skryf en opnames van die album sy musikale wortels her-ondersoek.

  • In die openingssnit, Diep Blou See, bekyk en beskryf hy sy omgewing in Gansbaai uit die oogpunt van ‘n simboliese boomhuis waar hy als kan dophou: die noorkapperwalvisse, die witdoodhaaie, die perlemoen en galjoen op die plaat (‘n natuurgebied tussen De Kelders en Hermanus), die hawe en dies meer.
  • Die album sluit ook die treffer ‘n Pawpaw vir my Darling, die temaliedjie vir Koos Roets se lokettreffer oor Jeanne Goosen se boek met die gelykmatige titel, in.  
  • Scotty Smith (Poliesman kan my nie vang nie) is die storie van Scotty Smith, oftewel George Lennox (1845-1919.) Hy was ‘n perde- en diamantdief en het by die rykes gesteel om die arm man te help. Hy was ook bekend as Suid-Afrika se Robin Hood van die Kalahari en geen tronk kon hom binne hou nie.
  • Ou blou geroeste kruiwa, Perlemoentjie en Sagte Kaapse Reën is liefdeliedjies; sommige in ‘n ongewone baadjie.
  • Die uilvrou van Nieu Bethesda is die storie van Miss Helen Martins, die wêreldbekende “outsider” wat met die hulp van Koos Malgas die sementuile, kamele, meerminne en beelde in die bekende Uilhuis geskep het.
  • Die bulldozers gallop is ‘n surrealistiese lawwigheid van hoe die Kaap en Gauteng, Tafelberg en die strand (en ander) kan deel.
  • Hy was ‘n goeie vriend van my is ‘n persoonlike ode aan sy ontslape boesemvriend, Ollie Viljoen: een van die grootste musikante wat ons land opgelewer het.
  • Beestepote is ‘n herlewing van ‘n tradisionele Kaapse Karnavallied.
  • Innie Tsitsikamma (khoekhoe tse-tsesa, “helder” en  gami,  “water”, asook “plek van baie water”) is die smagting om terug te keer na die eenvoud en onopgesmukte natuur in sy perfekte balans teenoor die daaglikse nuus van ‘n politiese onsekerheid en kunsmatige oppervlakkigheid van die samelewing.
  • Doekvoet vlieg die Bonnie Bonnie Skye. Sy was vir 13 jaar Anton se geselsskap en die beste reisgenoot; ‘n baie slim Jack Russell.
  • In Werk (tot die sand alles uit die uurglas gly) is die wisselwerkende droom tussen die werklikheid van daaglikse bestaan in die moderne era, en die mens se hunkering uit die chimera van die gevangenisskap van sy eksistensialisme.
  • Mzansi (word vervolg) is tweeledig. Eerstens is dit ‘n “lokliedjie” van wat op ‘n volgende album volledig aangeraak gaan word en terselfdertyd musikaal die rou aardsheid van Anton se “homegrown” organiese opnames van sy musiek.

In ‘n loopbaan wat oor veertig jaar strek, het Anton Goosen en sy Bushrockband rock- en protesmusiek in Afrikaanse laat weergalm, allemens- en folkmusiek geskep en alle grense afgebreek, uitdagende bakens gestel en horisonne laat wink. Met sy briljante albums – onder meer Boy van die Suburbs, Liedjieboer, Winde van Verandering (saam met die Kommissie van Ondersoek) Danzer en Vis innie Bos – het dié woordsmid Afrikaanse musiek verruim en wye erkenning ingeboesem.

Anton is gepas met verskeie toekennings vir sy lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek vereer.

Ervaar en geniet die organiese klanke: musikale Padkos vir lang en kort paaie.

Die album word op 5 Oktober eksklusief tussen twee en drie op RSG bekendgestel.

Save

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Pin It on Pinterest