Apie en Boela Skiet (span) Spek -Gerald Young

Na die episode met Daisy die koei half vergete was, kuier Apie en Boela een Desembervakansie weer op die plaas. Hierdie keer was al die diere baie rustiger want hulle het intussen `n plan gemaak met dié twee terroriste se stoutgatgeit. Sien, daardie diere het `n Taal Skool vir diere op die been gebring waar hulle almal mekaar se taal kon leer praat. Hierdie ding van elf amptelike tale in ons land het eintlik daar op daardie plaas begin. Só kon hulle mekaar waarsku as Apie en Boela in die nabyheid was. Soos die een dag toe Akkedis teen die muur in die son sit en bak. Hy sien toe Apie en Boela kom nader en hy waarsku toe vir Perd wat by die dammetjie staan en water suip. Maar nou in perdetaal, want Akkedis kon vlot Perds praat. “Haai Perd, pasop, hier kom daai twee kalante!” Die perd sê toe vir Akkedis, in akkedistaal, “Dankie Akkie. Ek waardeer dit!” Maar toe sien  Perd, doer staan Bees en wei. Hy skree toe vir Bees, maar nou in Afrikaans, want dit was `n Afrikaner bees, “Haai ou maat, ons moet hier wegkom. Apie en Boela is op pad!” en hy beduie so met sy een poot in die rigting van Apie en Boela. Bees sê toe vir Perd, trots en in suiwer, korrekte Afrikaans, want Afrikaans is mos sy taal! “ Dankbaar Mnr. Die Perd. Dankbaar!”

Maar weet jy, dit was nogal `n slim perd daai. Baie goedhartig en bedagsaam ook. Toe hy af buk om `n laaste trek water te vat, sien hy daar sit `n Platanna in die water, en hy weet hy moet haar ook waarsku. Hy sê toe vir haar, maar nou in plat, Anna taal., want die plat Anna se woordeskat was ietwat beperk,  “ Hei,…, moeilikheid. Kruip weg!”

Nogal `n oulike plan wat die diere gemaak het nê?

So amper aan die einde van die vakansie, toe hulle nou erg verveeld en op hulle gevaarlikste was, hoor Apie en Boela dat Ouboet Neef Faan vir hom `n kar gekoop het wat hy wou restoureer. Baie opgewonde en met groot afwagting hardloop hulle laatmiddag af grootpad toe om Faan in te wag. Hulle wil mos die eerstes wees wat in sy se nuwe ‘ou’ tjorrie ry. Hulle wag en wag maar al wat kom is Faan. Na `n ruk kry verveeldheid die oorhand en daar, langs die groot pad broei daar weer onheilighede uit.

Apie se oog vang `n spul verrottende spanspekke, perskes en ander vrugte wat so neffens die indraaipad weggegooi is. Hoe die goed daar gekom het weet nugter alleen, maar vir Apie en Boela was dit soos krimis van vooraf.

“Haai Boela, check daar,” sê hy. “Daai goeters lyk nes kanonbomme. Kom ons speel oorlog-oorlog. Dink jy ons kan hulle skiet?”.

Boela hoef mos nie te dink nie. Hy wéét hulle kan. So vinnig as wat sy ronde lyf hom toelaat hol hy op huis toe, en na `n ruk kom hy terug met `n klomp ou fiets binnebande wat soos bandeliere oor sy skouers gedrapeer is. Oom Maans het mos niks, maar niks ooit weggegooi nie en dit het natuurlik dié twee gesterk in hulle kwaad.

“Ek’t hierdie ding gecheck op Hagar die Verskriklike,” sê Boela terwyl hy die binnebande middeldeur sny. Hy las toe twee rye binnebande aan mekaar en maak hulle vas tussen twee bome. “Dit werk soos `n moewiese kettie,” sê hy trots.

Daar trek die twee toe weg en hulle skiet spanspek en vrugte bomme vir `n vale. Die probleem was dat die twee helsimpies naderhand gemik het vir karre en lorries wat op die teerpad verby gery het! Dis mos baie groter sports daai!  Gelukkig het hulle meestal mis geskiet, maar die pad het naderhand soos fruit salad gelyk!

Op `n kol het `n Engelsman stilgehou en hulle gevra, “What do you think you’re doing? Do you want to cause an accident!?”

“No Uncle Oom, we jus are skietting vis team bacons!” antwoord Boela in sy beste direk vertaalde Engels.

Net toe hulle ammunisie begin opraak, gewaar hulle `n ouerige kar wat stadig aangery kom.

“Jissie, hierdie een gaan ons lekker pot! Kyk hoe stadig ry hy,” haak Apie af en hy laai `n   groterige spanspek in die ‘kanon’. Hy trek toe terug met ekstra krag en lanseer sy ‘bom.’  Ongelukkig is dit toe `n kolhou. Kaboom! Die spanspek tref die kar en slaan `n duik in die ou skedonk se bonnet. Dit spring teen die windskerm op en kraak dit in `n miljoen melk-wit sterretjies. Die drywer se uitsig is toe versper, en hy raak die pad byster en beland in die doring draad. Toe hy daar uitklim sien hulle dit is toe al die tyd Ouboet Neef Faan met sy nuwe ou-kar! Menseregte, ‘dignity’ en al daai soort goeters was toe skoon uit die wetboeke uit gevee! Faan maak toe die twee outjies sommer daar en dan bymekaar en foeter hulle met een van daai einste bicycle binnebande.

Apie en Boela kon nie verstaan waaroor al die bohaai was nie, want Faan se nuwe ou kar was in elk geval 1n stuk scrap. “Ja, maar ek het dit gekoop om dit te restoureer!” het Faan gekerm.

“Ag toe maar Faan,” het Oom Maans later gesê toe hulle by die huis kom.. “As die karretjie eers reggemaak en geverf  word sal dit mos weer mooi lyk.”

Die volgende dag, toe Ouboet Neef Faan van die werk af kom, trek hy sy oorpak aan en sit af skuur toe om aan sy skedonk te werk.

Toe hy die skuur se deure oopmaak, was die gesig wat hom begroet het genoeg om vir enige mens `n hartaanval te besorg. Faan gee die onaardigste brul-geluide en hy steier en strompel weer huis se kant toe, maar heeltyd bulder hy, “Ek gaan julle doodmaak! Sowaar as vet… ek gaan julle doodmaak! Ek gaan julle doodmaak! Sowaar as ….,” en hy gaan aan soos `n plaat wat vasgehaak het.

Doodsbleek in die gesig, probeer hy sy Pa vertel wat hy daar gesien het. “Hulle… die… d.. daardie!..,” maar hy kry niks verder gepraat nie.

“Wat is dit Faan?” vra sy geskokte Ma.

“Bedaar net, bedaar tog net, haal diep asem seun!” paai oom Maans.

“Wie kan bedaar! W.. wie de hel sal kan bedaar?! Ek gaat hulle doodmaak!,” bulder Faan, sy lippe skoon pers van kwaadgeit. “Pa… Ma.. kom kyk net wat het die twee bliksems aangevang!” sê Faan, en die trane wel op in sy oë.

Faan loop vooruit terug skuur toe en pluk die deure oop.

“My liewe …!” is toe al wat oom Maans kon uitkry toe hy daar inloop. Faan se Ma slaan haar hande oor haar mond.

“Kyk daar!” huil Faan. “Kyk hoe lyk my kar!”

Oom Maans word grys in die gesig en hy bal sy vuiste. Toe ontplof hy soos Ouma Lena se gebottelde gemmerbier! Gwaff!

“Die klein swerkaters! Wat het hulle besiel om so iets aan te vang? Weet jy… ek sal… ek sal… Loop haal hulle Faan! Want as ek…!” sê  Oom Maans terwyl hy sy belt losmaak.

Nou ja, daar staan Faan se tjor, van hoek tot kant, bo tot onder, toegeverf met blink, silwer hek- verf ! Van hoek tot kant, toegeverf sê ek jou! Dak, deure, ruite, ligte, bande, die works! Dit lyk toe kompleet soos `n moewiese bol foelie met blink wiele.

Twee verfkwaste lê eenkant en die vloer rondom die kar is vol ‘Apie en Boela grootte’ voetspore. Verdoemende getuienis!

Nou ja wat daarna gebeur het hoef `n mens nie te raai nie! Dit was mos in die ou dae toe die wet nog toegelaat het dat sitvlakke getemper kon word. En temper het Oom Maans getemper!

Toe die laaitjies agterna gevra is om te verduidelik, het hulle ewe onskuldig gesê hulle wou net help. Oom Maans hét mos vir Ouboet Neef Faan gesê as die kar geverf word sal dit weer mooi lyk!

Ja-nee. Groot geword op pakslae, daardie Apie en Boela. Elke keer ook maar net gehelp tot die volgende sarsie stoutgatgeit!

Eintlik moes dit baie gehelp het, want glo dit as jy wil, … Apie is vandag `n Regter en Boela is `n Predikant!

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest