Beeskraal – 20 Jaar In Die Kraal

Die beeste was uit in die veld, maar het weer kraal toe gekom vir verskeie redes; eerstens om te spog met 20 jaar in die musiekbedryf en tweedens met ‘n splinternuwe album, “20 jaar in die Kraal”. Dié Pretoria Rock-groep het die volk vasgevang in die laat 90’s met hul unieke ‘rock’ klank wat bestaan het uit tradisionele instrumente wat gemeng was met ‘rock’ instrumente. Toe al was hul al as revolusionêr gebrandmerk. BEESKRAAL is seker dié bekendste Rock groep in die land wat nie net spog met treffer-op-treffer nie, maar ook met energieke optredes waar elke lid sy individuele vernuf op hul instrumente wys. En jy hoef nie te wonder of hierdie om-die-kraal praatjies is nie, want BEESKRAAL het al soveel toekennings ingepalm wat bewys het, hierdie is A-graad ‘bees’.

Die nuwe album is ‘n versameling van hul grootste treffers oor die jare en sluit liedjies in soos ‘Strate van Pretoria’, Redes, Duisend Ure, Plaasdorp”, ens. Hulle trek ook ‘n nuwe vel oor ‘n Anton Goosen keurspel wat jou tot in jou are gaan terugneem.

2002 was hulle die enigste afrikaanse groep wat op aanvraag van die regering by die Vryheidsdag by die Uniegebou opgetree het. Daarna volg uitnodigings na London. 2003 maak hul naam saam met Mondoza by die ‘World Food Hunger Concert’, wen ‘n KANNA- en word benoem vir ‘n Huisgenoot Tempo en SAMA toekenning! 2004 volg ‘n ATKV ere-toekenning vir bevordering van Afrikaanse Rock musiek en die twee opeenvolgende jare speel hulle London en België aan die brand. 2008 stel hul hul 10 jaar in die bedryf album bekend en doen ‘n drie-week uitverkoopte rits konserte saam met Dozi by Emperors Palace. 2010 word hul benoem vir drie Rapport VONK toekennings en in 2011 stap hul weereens weg met die toekenning vir ‘Beste Rock Groep’; ‘n toekenning deur Huisgenoot Tempo’s.

Beeskraal doen ook baie liefdadigheidswerk en ploeg terug in hul gemeenskap. Hulle is nou betrokke by “Woman Against Rape, Stop geweld-misdaad-aksies, Helpende Hand, DBV en Wolmertrust vir minder-bevoorregtes”.

As jy hulle 20 jaar terug al begin volg het, gaan hierdie album soos ‘n heerlike reunie voel. En as jy ‘n nuwe ‘rocker’ is, sal jy verstaan hoekom hierdie beeste uitvoerkwaliteit is en die toets van die tyd van die Afrikaanse Musiekbedryf weerstaan het!

Die beste van 20 jaar – op een album! Hierdie album gaan deel van jou ‘rockersdae-herinneringe’ wees, om nie eers te praat van jou stukkie Afrikaanse erfenis nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest