Behou die Goeie – Wicus Van De Merwe

Daar is ‘n paar goed in die lewe wat ek nooit sal wees. Ek sal nooit ‘n motorwerktuigkundige kan wees nie want ek kan nie eers ‘n drie punt “plug” sonder ernstige konsentrasie op koppel nie. Ek sal ook nooit ‘n boer kan wees nie want op Universiteit het ek ‘n miniatuur kaktussie laat doodgaan van die dors. Die mees onlangse ontdekking wat ek gemaak het was dat ek nooit in my lewe op die aardbol ‘n diepsee visserman sal kan word nie.

Vir jare het ek stories van ander ouens gehoor oor hoe hulle die diepsee invaar en met die grootste tuna, leervis of wat ook al terugkeer land toe. Ek het my ook altyd verkyk aan die manne op die TV wat vir ure lank baklei met daai groot marlyne wat so majestueus uit die water wriemel, hoog die lug in seil om net weer neer stort in die waters van die see in ‘n poging om van die hoek in sy bek ontslae te raak. Dit het op ‘n stadium so half-en-half ‘n droom geword om eendag, dalk net eendag op so ‘n trippie te gaan en self te probeer om een van daai manne kant toe te bring. Nou verstaan my mooi, ek hou van visvang en alhoewel ek al baie varswater hengel gedoen het, kon ek nog nooit daarin slaag om ‘n seevis te land nie. Vele probeerslae van die kant af saam met pelle wat baie goed visvang het onsuksesvol vir my geëindig terwyl die ander manne met sakke vol vis huistoe gaan. Dit het maar altyd die onhaalbare droom vir my gebly om ‘n vis, enige vis, uit die see te vang. Nie eers ‘n ou kleintjie nie.

Die Nuwejaar was maar ‘n paar dae oud en ek het by ‘n vriend van my in Somerset-Wes gaan kuier wat ek in die oerdae laas gesien het, wat toevallig ook versot is daarop om vis te vang. Die foto’s teen sy muur in die braaikamer getuig van menige suksesvolle uitstappies na die see. Enige ding wat swem met skubbe het al die knie/vin voor sy stok gebuig en hy sou my vat en my ‘n paar dinge wysmaak. Miskien, net miskien, kan ek my mombakkies afhaal wat seevis my opgesit het!

Nou ja, die eerste aand het die vreugdevure hoog gebrand en die twee ou universiteitspelle het mekaar goed gegroet oor ‘n ietsie terwyl die vrouens mekaar binne besig gehou het. So teen half tien die aand lui sy foon, ‘n goeie wedersydse kennis gaan vroegoggend uit om tuna te soek en daar is twee plekke oop en wil ons saamgaan. Brannewyn het nie brieke nie en ek wou dit mos nog altyd doen en sê vir die man ja, ons is da! Vat nog so ‘n ietsie ter viering van eerste groot visvang trip die diepsee in.
Daardie nag droom ek van flieks soos “The Perfect Storm”!

Douvoordag is ons op die kaai, goed siek van die hewige kuier die vorige aand, maar tog reg vir die ekspedisie op hande. Dis eers toe ek die agterstewe van die 29 voeter van die kaai af wegstoot, dat die eerste gedagte van seesiek my byval. Nou as groentjie op ‘n boot wil jy nie seesiek raak nie, veral nie in die diepsee nie! Stories van groot bedrae geld, stokke wat in die water gegooi word en dies meer net om die skipper so ver te kry om die sieke wal toe te vat met ‘n lang dag se vangery wat nog moet kom, hoor ek al jare lank en ek het myself voorgeneem dat dit NOOIT my sal oorkom nie! Ewenwel ons is die hawe uit en die lang tog viswaters toe word aangepak. Soos my geluk dit wou hê is Valsbaai die dag vrot van die wind en is die water erg rof. Pieter Smith het my gewaarsku om net die land dop te hou as jy voel dinge begin nie lekker raak nie. Nou, enige visserman wat sy sout werd is, sal jou vertel dat dit nie ‘n goeie idee is om met ‘n babalaas op die rustigste van waters te gaan nie.

Reg vanuit die hawe staan ek so “cool” as moontlik met een oog op die land en dinge verloop toe heel goed. Na 20km begin raak Gordonsbaai klein en ek verskuif my blik na die aankomende Kaappunt wat nog 15km in aankoms is. Na ‘n uur en ‘n half op die water en 35km in raak die water erg rof en begin daar ‘n snaakse brand gevoel hier agter my borsbeen ontwikkel, en ek weet dit is nie sooibrand nie. Die skipper praat vrolik voort van die 50km wat nog voorlê voor ons by die tuna kom. My hart sink! Tot dusver kon ek nog ‘n brawe front opsit en hier en daar ‘n selfs ‘n glimlag uitwurg of ‘n grappie maak, maar nou begin dit ‘n stryd raak en die water raak net al rowwer. Links van my sien ek op ooghoogte ‘n jellievis in die deining. Ek ruk my kop na regs in my soeke na die land en sien ‘n jong hamerkophaai in die deining aan die ander kant. ‘n Ligte sweetjie slaan op my bolip uit, maar ek hou my “pose”!

“n Bitter lang 20 minute later trek tot die skipper kleinkoppie en tel die wind op na 40 knope, met branders wat dreig om bo-oor ons boot, wat teen die tyd vir my voel soos ‘n kajak, te spoel. ONS GAAN OMDRAAI LAND TOE!! Die mooiste woorde wat ek nog in my lewe gehoor het!! My geluk was egter van korte duur want nou moet ons teen die deinings invaar om te keer dat die boot omslaan, menende ons gaan met ‘n laaaaaang draai Rooi-Els om terug Gordonsbaai toe. Die terugvaart duur ongeveer twee weke en ek praat al lankal nie meer met enige iemand nie. Pleks ek maar van daai pilletjies gaan koop het gisteraand! Deining op, diening af, deining op, deining af. Dit voel of my agterkop ‘n plooi maak.

Einde ten laaste kom ons by Rooi-Els aan in stiller water aangesien die berge ons beskut teen die wind en ek slaan my in die stilligheid my spreekwoordelike hande saam en val op my spreekwoordelik knieë in dankbaarheid. Ek begin stadig stabiliseer terwyl ons rustig kreef trek en ek trek my sopnat baadjie uit. Dit is deurdrenk van die sweet en seewater. Terug aan wal is my eerste woorde aan my pel ‘n triomfantlike:”Ek het nie gekots nie!”, terwyl almal bulder van die lag.

So vriende, doen goed in die jaar wat voorlê wat jy nog nooit gedoen het nie, kyk of dit vir jou beskore is en moet dit nooit, nooit weer doen nie!!

Groetnis

Wicus

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest