Country Legende, Lance James – Marius De Vos

In ons derde aflewering van ons country legendes kyk ons na die kleurvolle loopbaan van die BIG DADDY van Suid-Afrikaanse country, Lance James. Hy is sekerlik die grootste vegter vir diè musiekgenre in ons land, en ‘n fantastiese kunstenaar en mens wat oral respek afdwing! Dankie Lance vir jare se opoffering om country te laat groei en vir jou reuse musikale bydrae.!

Lance James Liebenberg is op 18 Julie 1938 in Germiston gebore. Sy skoolopleiding ontvang hy aan die laerskole John Ware en Mayfair Primary, terwyl hy dit voltooi aan Parktown Boy’s High. Na skool het hy in 1954 by Springbokradio aangesluit. In 1957 maak hy sy eerste plaatopnames. Vanaf 1959 tot 1961 was hy woonagtig in Engeland en lid van die Britse sangkwartet genaamd Group One. Met sy terugkeer na Suid-Afrika was hy as kontrabas-speler lid van o.a. die orkeste van Werner Krupski, Sam Sklair en Dan Hill. Hy het verder as bestuurder van drie platewinkels in Johannesburg sy brood verdien. In 1964 begin hy vir die SAUK werk en bied ook sy eie program aan. Op 3 September 1965 tree hy in die huwelik met Val Wilson en twee dogters is uit hul huwelik gebore. Lance het in hierdie jare verskeie opnames gemaak, maar sonder enige groot sukses, totdat Albie Venter van Brigadiers voorgestel het dat hy in Afrikaans moet sing. In 1968 neem Lance en Min Shaw hul eerste duetplaat Bymekaar op, en behaal dadelik groot sukses. Sy eerste solo-album, Are You Lonesome Tonight (met die treffer Sweethearts Of Yesterday), is ook in die jaar uitgereik.

Lance se eerste groot solo-treffer was Dankie, wat die nommer-13 posisie in April 1970 bereik het op die nasionale Top 20. Sy opname van Vicki (ook die temalied vir die gelyknamige rolprent) bereik nommer-4 in Junie 1971 op Springbokradio se Top 20 en word sy grootste treffer nog. In 1971 vertolk hy die hoofrol in die musiekrolprent Lindie, met medespelers Lindie Roux, Pietie Meyer en Christine Basson. Hy is al vir jare een van ons land se top radio-omroepers en was baie gewild met programme soos Musical Moneybox, Highveld Requests, Op Die Drumpel en Keep It Country. Hy het by verskeie radiostasies uitgesaai o.a. Springbok, Hoëveld, Port Natal en Orion. In Januarie 1974 bereik hy die nommer-17 posisie op die nasionale Top 20 met sy weergawe van What’s Your Mama’s Name Child. In 1982 stig Lance sy eie vermaaklikheidsagentskap nl. LJ Promosies. Die agentskap is vandag nog steeds een van die grootstes in ons land en reël konserte, toere, verblyf, vervoer, onderhoude, ens. vir menige top kunstenaars. Hy het in die 80’s en 90’s gesorg vir baie country-optredes o.a. die Carling Country Tours en die Keep It Country Festivals. In 1989 stig hy saam met Joanna Field, Sally Vaughn, Billy Forrest en Clive Bruce die gewilde groep Over The Hillbillies.

Sedert 2000 het hy verskeie Top 10 treffers opgelewer op IFM 102.2 se nasionale Country Top 10 soos Forever And Ever, Heaven Is My Woman’s Love, What’s Your Mama’s Name Child (nuwe opname), I Heard The Bluebird Sing (met Joey Lane), Friends Forever, Two Cowboys (beide met Bobby Angel), Mansion Over The Hilltop en Wings Of A Dove. (Sien ook sy nommer-1’s hierna aangegee). Verdere countrytreffers sluit in Sweetheart Of Yesterday, My Best Friend, Della And The Dealer, Long Black Limousine, Say Forever You’ll Be Mine en After The Fire Is Gone (laasgenoemde twee met Barbara Ray). Hy het ook verder verskeie opnames gemaak met o.a. Michael Lovell, Ken Espen, Mike Simpson, Rollo Scott, Roy Martin, Christine Jenkins, Zona Visser, Joanna Field, Sally Vaughn, Over The Hillbillies en Gene Rockwell. Sy Afrikaanse treffers sluit in Dankie, Vicki, Ahoi Madagaskar, Lindie, Goeienag Moeder Goeienag, Vriendskap (met Jurie Els), Kom Terug Na My, Elkeen Kan Liefde Gee, Mooifontein, Bloedrooi Die Rose, Silwer En Blou en Bymekaar (laasgenoemde drie met Min Shaw).

Van sy vele prestasies sluit in:

  • Sarie-toekennings as Vokale groep / duetpaar van die jaar saam met Min Shaw (1969) en Barbara Ray (1979), Afrikaanse Album van die jaar (1970), Album van die jaar (1971) en (1978 met Barbara Ray).
  • Treffers op Springbokradio se nasionale top-20 : Dankie (#13 – 1970), Vicki (#4 – 1971), What’s Your Mama’s Name Child (#17 – 1974) en After The Fire Is Gone (#5 – 1977 met Barbara Ray).
  • In 1981 word hy vereer met die Loony-toekenning vir sy bydrae tot countrymusiek.
  • Hy is in 2001 deur S.A.C.M.O. in die plaaslike Country Music Hall Of Fame opgeneem.
  • Melodie-toekennings (IFM se jaarlikse country-toekennings) as Country groep of sangpaar van die jaar (2000 saam met Bobby Angel), Legende Status Toekenning vir sy onskatbare bydrae tot S.A. Countrymusiek (2001) en Country-album van die jaar (2005).
  • Nommer-1 treffers op IFM 102.2 se amptelike country Top 10: No Charge (2001), Somewhere Between (2000 in duet met Barbara Ray) en Deck Of Cards (2005).

Onder sy skatkis van albums tel die volgende: Langspelers: Are You Lonesome Tonight (1968), Ahoy Madagaskar Ahoy (1969), Vicki (1970), Gee My Jou Hand (1970), Sweethearts Of Yesterday (1973), Keep It Country (1980), Most Of All (1982), Lance James Now (1987), Bymekaar (1968), M & L (1972), Min & Lance (1974), Min & Lance Country Music (1974) en Weer Bymekaar (1982 – laasgenoemde vyf met Min Shaw). CD’s: Lance James Sing Dankie En Ander Treffers (1996), Onthou Jy Nog? (1996 met Min Shaw), After The Fire Is Gone (1996 met Barbara Ray), Vriendskap (1997), 24 Gunsteling Treffers (1997), The Heart And Soul Of Lance James (1999), 20 Gewildste Treffers (1999), Somewhere Between (2000 met Barbara Ray), No Charge (2001), Ahoy Madagaskar Ahoy! (2002), Till Each Tear Becomes A Rose (2003 met Joey Lane), Treffers Deur Die Jare (2003 met Min Shaw) en One Day At A Time (2004).

Lance James is sonder twyfel een van ons land se kunstenaars met die meeste opnames/uitreikings. Hy is al vir byna 50 jaar ‘n kampvegter vir afrikaanse- en countrymusiek en het die bynaam van Big Daddy verwerf oor die professionele wyse waarop hy na ander kunstenaars in die bedryf bly omsien. Hy is woonagtig te Bordeaux in Randburg en sommer nog baie gelukkig getroud. Lance bly besig met sy eie optredes landswyd en sorg nog steeds dat verskeie ander kunstenaars besig bly met optredes, toere, ens. Hy is nog steeds ons Big Daddy van country, en ons sien met groot verwagting uit na nog vele van sy briljante opnames en optredes!

One thought on “Country Legende, Lance James – Marius De Vos

  • 30/04/2018 at 10:53 vm
    Permalink

    good day

    i want to know how can i get hold of marius de vos there is something i want to found out from hom about master copies

    Reply

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest