COUNTRY-LEGENDE TOMMY OLIVER – Marius de Vos

In die vyfde aflewering van ons country-legendes fokus ons op die interessante loopbaan van Tommy Oliver. Hy is sekerlik een van die beste entertainers en komponiste wat dié musiekgenre nog in ons land opgelewer het, en daarby is hy ‘n fantastiese mens met ‘n pragtige humorsin! Dankie Tommy vir jare se luistergenot, en vir jou bydrae om country- en Afrikaanse musiek die krag te maak wat dit vandag is!

Tommy Hollamby is op 20 Desember 1950 net buite Rustenburg op hul familieplaas gebore. Hy het sy skoolopleiding by Rustenburg North Primary, Randgate Primary en Rustenburg Hoër ontvang. Hy het as agtjarige sanglesse begin neem en in skoolkonserte gesing. Hy het in die Randfonteinse stadsaal sy openbare debuut as sanger gemaak.

As veertienjarige het hy van sy moeder ‘n akoestiese kitaar as geskenk ontvang. Op sestien was hy reeds ‘n sanger van formaat en ‘n skitterende kitaarspeler, wat reeds in 1966 saam met sy skoolmaats sy eerste groep gestig het.  In 1967 het Tommy ‘n nuwe groep onder die naam Teen 4 gestig, maar die naam is later na The Pipe Pipers verander. Hulle het gereeld by funksies en by die Tambuti Inn Hotel in Rustenburg opgetree.

Na skool het hy as inspekteur op die myne in Rustenburg gewerk, en in 1971 het hy die groep Sounds Gravitation gestig. Hierdie groep was baie gewild en het gereeld by The Crazy Horse op sy tuisdorp gespeel. Teen hierdie tyd het Tommy ook gereeld by Bapsfontein en Robinson Lake opgetree.

In April 1973, onder aansporing van Tommy Dell, het Tommy Oliver een van sy eie komposisies, I wanna live, by G.R.C. opgeneem.  Die snit het hy reeds ‘n geruime tyd by sy optredes gesing en dit was baie gewild by die publiek. Met die uitreiking van die solus-sewe was dit onmiddellik ‘n treffer,  en die snit het die nasionale Springbok Top 20 bereik en vir sewentien weke daar gebly. In November 1973 het die snit die hoogste posisie, naamlik die derde plek bereik. Dié treffer het in die jaar vir Tommy ‘n dubbele goue toekenning verwerf.

In September 1974 het hy weer ‘n groot treffer opgelewer toe sy Just an everlovin’ woman die sewende plek op dieselfde treffersparade bereik het. Dié snit het aan Tommy ‘n goue toekenning, en aan die komponis, Norman Cousins, die Sarie-toekenning vir liedjie van die jaar besorg!

Hierna het Tommy Oliver en sy groep gereeld op versoek by Fiestaland naby die Hartebeespoortdam opgetree. Sy opname van Daddy Daddy saam met Tony Steyn is deur S.A. Mirror opgeneem en landswyd by inryteaters en teaters vertoon.

Tommy het in 1974 sy televisiedebuut in Rhodesië gemaak, en hy is dié jaar deur die pers as die tweede gewildste kunstenaar in Suid-Afrika aangewys. Later die jaar het hy en sy groep in die rolprent Die afspraak verskyn, waarin hulle die volledige I wanna live gesing het. In 1975 het Tommy ook in die rolprent Wat maak oom Kallie daar? opgetree en die snitte Life is beautiful en Just tell her that I love her gesing.

Albei die snitte was Tommy se eie komposisies. Nog liedjies wat Tommy self geskryf het was I wanna live, I wanna love you, Your love had taken me that high, Take me in your arms,  One lonely day, Will you be mine, I’ll sing my song for you, Tell me why, Daddy Daddy, She’s mine, My boy en you’re the sun in my day.

Tommy het in die sewentigerjare regoor die land opgetree en vyf toere in die destydse Suidwes-Afrika onderneem, waar hy ook die manne op die grens vermaak het. In 1981 het hy sy eerste Afrikaanse langspeler, 10 goue jare, uitgereik. Later die jaar het ‘n groot terugslag Tommy getref toe hy sy been gebreek en dit hom ‘n jaar uit die bedryf gehou het. Die respek wat sy medekunstenaars vir hom gehad het, is bewys deur ‘n reuse konsert wat deur 23 van ons land se top kunstenaars gereël is om hom met sy mediese onkoste en verlies aan inkomste te help. Die Tommy Oliver Benefit Show is by Fiestaland gehou.

Tommy Oliver het hom ook as ‘n briljante regisseur bewys en gehelp om verskeie kunstenaars se loopbane op die regte pad te plaas, byvoorbeeld Tony Steyn, Ray Thomas, Peter Brady en Danie Jansen. Tommy was in 1984 die regisseur tydens Die Ierse Boertjie. Ken Mullan se eerste opnames in Suid-Afrika, Careless hands, het Ken hierna ‘n nasionale ster gemaak!

Tommy se been het nooit volkome  na die breek herstel nie, en moes ongelukkig in 1986 geamputeer word. Dit het hom egter nie ondergekry nie, en ‘n jaar later was hy terug met die skitterende album, It’s only make believe, wat twee nommer 1-treffers op die destydse program, Radio Highveld Country Hits, opgelewer het. Die twee treffers was I’ve been around long enough to know en I’m hurtin’.

Verskeie TV-optredes, byvoorbeeld in programme soos Tempo, Gentle on my mind, Sing country en Good vibrations het Tommy se gewildheid verder laat toeneem.  Soos reeds genoem het Tommy sy opnamedebuut in 1973 gemaak met die eerste van sy veertien solus-sewes, naamlik I wanna live / My boy. Sy eerste langspeler, I wanna live, is ook later dié jaar uitgereik.

Hierna het nog vele uitreikings gevolg, waaronder Just an everlovin’ woman (1974), A Portrait of Tommy Oliver (1975), Bigg Boss Bones, 10 Goue jare (1981), It’s only make believe (1987), The rockin’ 50’s, The best of Tommy Oliver I wanna live (1997), Rosy (2002) en Van toeka tot nou- ‘n honderd jaar (2005).

Sedert 2002 het hy drie Top 10-treffers op IFM 102.2 se nasionale Country Top-10 opgelewer, en twee keer die gesogte eerste posisie bereik. Dié treffers was Rosy (no. 1 vir drie weke in 2002), Cheryl Moana Marie (no. vyf in 2002) en I can’t stop loving you (no. 1 vir drie weke in 2003). Onder sy ander country-treffers wat nog nie genoem is nie, tel Heaven is my woman’s love, Baby blue, Nothing at all, Say so long but don’t say goodbye, The world needs country music, Till you and your Lover are Lovers again, It’s not easy loving you en Little girl little boy.

Van sy Afrikaanse treffers sluit juwele soos ‘n Honderd jaar, Dink aan my, ek dink aan jou, Groot rooi neus, Een myl trein, Skaduwees van gister, Ek wonder somtyds, Mense van jong Suid-Afrika, Net soos ‘n roos, Jy’s die een, Huise van papier, Ek is verlief en Skottie en die Boeremeisie.

In 2002 en 2003 het hy onderskeidelik die Melodie-toekenning as die Top 10 Country-kunstenaar van die jaar en die Top 10 Country-treffer van die jaar met sy nommer 1-treffer, I can’t stop loving you, verower.

Tommy Oliver is al vir meer as 35 jaar voltyds in die musiekbedryf en is vandag nog ‘n vegter vir Afrikaanse en country-musiek. Uit sy pen kom een van die beste Suid-Afrikaanse komposisies ooit, naamlik I wanna live, wat baie maklik die plaaslike country-treffer van die eeu kan wees. Hy tree gereeld landswyd op, en is nog net so gewild soos altyd. Hy is meer as net ‘n lewende legende en beslis een van ons musiek-ikone! Dankie Tommy Oliver!

Save

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Pin It on Pinterest