COUNTRY LEGENDES, SANTA VORSTER – Marius De Vos

In ons vierde aflewering van ons country legendes kyk ons na die merkwaardige loopbaan van ons eie JODELPRINSES in die Suid-Afrikaanse country-arena, Santa Vorster. Sy is sekerlik een van die beste jodellers wat diè musiekgenre in ons land nog opgelewer het, en daarby ‘n fantastiese kunstenaar en mens wat oral geliefd is en respek afdwing! Dankie Santa vir jare se luistergenot en vir jou bydrae om country- en afrikaanse musiek te laat groei!

Susanna Louisa Vorster is op 26 Maart 1953 in Vereeniging gebore as die derde van ses kinders, vier susters en twee broers. Reeds vanaf geboorte het sy die noemnaam van Santa gehad. Sy het haar skoolopleiding ontvang aan die laerskole Handhawer en Peacehaven in Vereeniging, en aan die hoërskole Vereeniging en Vereeniging Handel & Tegnies. As 9-jarige het haar sangloopbaan reeds afgeskop toe sy in die skoolkoor begin sing en aan operettes deelneem. Haar ouers, pa Vossie en ma Elsie, en oudste broer Duimpie, het besef sy het ‘n besonderse talent en het haar ingeskryf vir ‘n plaaslike talentkompetisie. Sy is bekroon met ‘n eerste plek… en as prys ‘n Hammerstein radio. Santa het geen formele musiekopleiding ontvang nie, maar wel aan die begin van haar loopbaan leiding en raad van Charles Jacobie gekry. Sy het op gehoor klavier leer speel, terwyl haar sang en jodel natuurlike talente is wat sy “geërf” het. Jodel is beslis in haar familie se bloed, byna soos ‘n ingebore oorerflike talent, en haar vader was ook ‘n uitstekende jodeller!

Charles Jacobie het dadelik haar moontlikhede raakgesien en geweet dat sy ‘n uitstekende vertolker van die afrikaanse- en countrylied sou word. Hy het haar destyds beskryf as Suid-Afrika se grootste musiekfonds in jare, en haar gereeld gebruik as gaskunstenaar tydens sy optredes. Hy het haar ook aangepor om aan talentkompetisies deel te neem. Sy het toe ook verskeie gewen, o.a. die in Vereeniging, Bapsfontein en Oos-Londen. As 10-jarige maak sy in 1964 haar opnamedebuut met die solus-sewe My Moeder / In My Hart Sal Ek Jou Min. Haar eerste langspeler, The Yodelling Princess, is in 1965 uitgereik en besorg aan haar onmiddellike sukses landwyd. Vanaf hierdie uitreiking het sy reeds die titel as Suid-Afrika se eie jodelprinses verwerf. Santa se besonderse jodeltalent is verder geslyp deur haar bewondering vir die drie Amerikaners Slim Whitman, Elton Britt en Rosalie Allen. Sy het by hulle “eie” lesse geneem deur saam met hulle te sing. Sy was met groot blydskap bevoorreg om Slim Whitman tydens sy 1965 toer deur Suid-Afrika by Bapsfontein te ontmoet. Met haar unieke talent, fraiinghemp, “cowgirl”-stewels en egte Amerikaanse stetsonhoed het sy behoorlik die musiekpubliek se harte verower. Interessant genoeg was van haar “cowgirl”-uitrusting deur Charles Jacobie se vrou, Susan, ontwerp en gemaak.

Santa Vorster se eerste afrikaanse album, Die Swerwerskind, is in 1966 uitgereik. Hierop verskyn een van haar bekendste liedjies, Daar’s Geen Kos In Die Huis, wat sy in duet met die legende Charles Jacobie sing. Hierna het haar loopbaan nog meer geskitter en is nog twee Engelse albums uitgereik, Yodelling Along With Santa Vorster (1967) en My Friend Mr. Echo (1968). Sy is ook drie keer benoem vir Sarie-toekennings en kan haarself baie ongelukkig ag dat sy nie ten minste een verower het nie. Na skool het Santa by ‘n prokureursfirma begin werk. Charles Jacobie het op die stadium na Nelspruit verhuis, en Santa ontmoet haar toekomstige man, oud-Rhodesiër Hannes Kok, wat toe haar bestuur oorgeneem het. In 1973 is hulle getroud, en uit hul huwelik is twee kinders gebore, Pieter en Susan. Beide Santa en Hannes (toe nog in die S.A.P) het besluit om hul werksloopbane voorkeur te gee. Dit het toe veroorsaak dat Santa musiek as net ‘n stokperdjie beskou het, en byna heeltemal van die toneel verdwyn het. In 1978, op aandrang van wyle Hansie Roodt, keer sy egter terug met haar tweede afrikaanse langspeler, getiteld Lente In Die Berge. Met diè album het sy ‘n vraende publiek tevrede gestel en getoon dat sy nog steeds ‘n groot aanwins vir die musiekmark was. In 1982 reik sy haar laaste langspeler, Let It Be Me, uit saam met die groep Shinnery. Weens haar man se moeilike werksomstandighede kon sy nie veel aandag aan haar musiekloopbaan gee nie, en het sy weereens van die toneel verdwyn.

In 1992 word 2de-graadse kanker by Santa gediagnoseer. Sy is geopereer en het met die hulp van chemoterapie ten volle herstel, maar dit het haar tog ‘n sielkundige knou toegedien en haar weer ‘n tydperk van haar musiekloopbaan weggehou. Dit was te danke aan ‘n uitnodiging aan haar om ten bate van die fondsinsameling vir wyle Cora Marie op te tree, dat sy weer haar selfvertroue herwin het. Sy het weereens net besef dat haar talent ‘n Godsgegewe gawe was, en dat sy dit ten volle moet benut. Hierna het vele optredes gevolg en ook nuwe aanvraag na haar musiek. In 1997 reik Gallo ‘n versameling van haar treffers op CD uit getiteld Die Jodel Prinses. Die verkope daarvan het alle verwagtinge oortref en op aanvraag van die publiek word in 1998 ‘n tweede versameling van haar treffers uitgereik getiteld In My Hart Sal Ek Jou Min. In 2000 toets Santa die mark met ‘n paar nuwe opnames op demo-CD en behaal sommer ‘n nommer-1 treffer daarmee. In 2001 word 16 van haar splinternuwe opnames deur Select Musiek uitgereik op die tweetalige CD Daddy’s Hands, terwyl Gallo haar gewilde 1968 langspeler My Friend Mr. Echo in 2002 digitaal hermeester en uitreik op CD.

Sedert 2000 het sy ses Top 10 treffers opgelewer op IFM 102.2 se nasionale Country Top 10 en ook twee keer die gesogte nommer-1 posisie bereik. Diè treffers was I’m Gonna Be A Country Girl again (no-1 vir 4 weke in 2000), Blanket On The Ground (no-1 vir 1 week in 2001), ’57 Chevrolet (no-4 – 2001), Somewhere (no-7 – 2001), God Bless America Again (no-6 – 2001 – spesiaal opgeneem na die tragedie van die Twin-Towers in New York) en He Taught Me To Yodel (no-8 – 2003). Onder haar vele afrikaanse treffers is juwele soos Oor Die Drakensberge, Aloha Oe, In My Hart Sal Ek Jou Min, Bergliedjie, My Moeder, Reënboog In Elke Traan, Daar’s Geen Kos In Die Huis, Ek Soek ‘n Klein Liefling, As Die Blou Maan Weer Verskyn, Die Swerwer Verlang, Switserse Bergliedjie, Silwermaan en ‘n Vreemdeling Is Nog ‘n Vriend. In haar loopbaan tot op datum het sy die volgende musiek-uitreikings; 10 solus-sewes, 1 verlengde kortspeler (EP), 6 langspeelplate en 4 laserskywe. Santa beskou drie kunstenaars as haar mentors wat haar ongelooflik bygestaan en aangemoedig het deur haar loopbaan nl. Charles Jacobie, Min Shaw en Billy Forrest.

Santa Vorster is sonder twyfel volksbesit en een van ons land se mees geliefde kunstenaars.

Sy is al vir meer as 40 jaar in die musiekbedryf en vandag nog ‘n kampvegter vir afrikaanse- en countrymusiek. In 2001 verower sy twee Melodie-toekennings onderskeidelik as countrysangeres en Top-10 kunstenaar van die jaar, en in 2002 word sy vereer met die Legende status toekenning vir haar bydrae tot plaaslike musiek. Sy is woonagtig in Vanderbijlpark en sommer nog baie gelukkig getroud met Hannes. Sy is werksaam by die M.W.U. Solidariteit en is tans besig met die opnames vir haar splinternuwe CD. Sy doen nog verskeie optredes landswyd. Sy is na al die jare nog steeds ons Jodelprinses en ons sien met groot verwagting uit na nog vele van haar briljante opnames en optredes!

Save

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest