DIE “SUPERSTAR”, DIE DUBBELWIELE EN DIE A-1 POSTER – BLACKIE SWART

Ek lees in elke VONK-uitgawe Eugene Vos se interessante rubriek oor die ware “kleure” van die musiekbedryf en ek wonder onwillekeurig:  Verstaan hulle ooit of vra hulle ook:  Hoe meen meneer dan nou…?

Die rede vir my twyfel is hier op my lessenaar opgestapel.  Die torings van TDK, Verbatim, Sony en ‘n paar onbekende CDR-produkte met name soos Yamihuti, ens.   Vier sulke torings………..DEMO CD’s!!  Ek  skat so kort duskant 200.

So ongeveer 70% van die demos, (meestal Afrikaanse Musiek) bevat die liedjies, PAMPOEN, SOOS BLOED, LEPELLê, OU RYPERD, PERS KOMBERS en MEISIE, MEISIE.  So nou en dan verras iemand met iets anders soos ROOI ROK BOKKIE, LIEWE LULU of SKA-RUMBA.

Dis maklik om ‘n suksesvolle partytjie-reeks CD’s saam te stel deur net na die aspirant sterre se liedjiekeuse te kyk.

As dit nou klink of ek negatief is teenoor onontdekte talent in ons land, moenie glo nie.  Die rede hoekom al hierdie CD’s by my uitkom is dan juis omdat my platemaatskappy, Blêr Musiek, bekend is daarvoor dat ons ons gewig agter jong kunstenaars gooi.

As al hierdie sangers en liedjieskrywers Eugene se rubrieke vanaf die begin gevolg het, sou hulle dalk meer moeite gedoen het met hul demos, voorlegging en liedjieskryfpogingsOorspronklikheid, geloof in jouself en

‘n passie vir musiek en vir die verhoog is wat nodig is. En, o ja, terloops, talent ook!

Ek weet nie hoe lyk dit op ander platebase se lessenaars nie, maar in my dag is daar net soveel tyd om na Soos Bloed te luister , soos gesing deur   nog ‘n Theuns Jordaan-kloon.  WAT……vra ek jou,  laat jou dink dat jou weergawe van daai song beter is as Theuns s’n, wat reeds dubbel-platinum verkoop het? Iemand sê nou die dag daar is nou meer ouens wat soos Theuns klink as hyself.  Figure that out!

Ek het ‘n vriend in België aan wie ek gereeld Afrikaanse Musiek stuur en hy kan soms sy ore nie glo oor hoeveel weergawes van dieselfde liedjies daar aankom nie.

Dan is daar die demo wat oornag gestuur is, DRINGEND!!!  gemerk is, en nie eens ‘n telefoonnommer by het nie.  Net die volgende dag bel Ta, trap die arme, onskuldige ontvangsdame uit oor ons “attitude’ waarmee ons dit nie sal maak in die musiekbedryf nie en dreig ook sommer om onmiddellik na ‘n ander platemaatskappy te gaan om daar oornag ‘n Superster te word …JULLE SAL NOG SIEN! O, hoe soet die wraak.

Ek wil graag glo dat elke demo op een of ander stadium aandag sal geniet, en as die songs, musiekstyl en die kunstenaar “fresh” is, is jou kanse goed en sal iemand jou kontak om meer uit te vind.

Probeer jouself indink in die volgende scenario:

Gemiddeld 15 demos per week kom hier by my aan. Dis bo en behalwe die ouens wat bel, jou probeer oortuig dat hulle gereeld saam met Steve en Kurt optree en daarom nie eens ‘n demo nodig het nie.  Jy het seker al van Steve en Kurt gehoor nê, vra hulle dan!

Om 15 demos van gemiddeld 45 minute elk deur te luister, behoort so ongeveer 12 ure te neem.  “No big deal”, want ‘n dag het dan 24 ure!

Om  die kunstenaar te kontak en die inhoud van die CD asook sy/haar superster-toekoms te bespreek en soms selfs berading aan te bied wanneer ‘n stortvloed trane of ‘n paar frisgeboude vloekwoorde jou kant toe kom, mag dalk ook so ongeveer 6 ure uit jou week neem.

Dis al 18 ure.  Meer as wat die gemiddelde staatsamptenaar in ‘n week insit.  En ons word kwaad vir Randall as hy die arme ou bloedjies op IDOLS so uithaal.

Sorry om jou verder te ontmoedig, maar sepiesterre en top-tien Idols-finaliste het nie eens demos nodig vir platekontrakte nie, Hulle het klaar die job!  Dis hoe dit is.

Soms, tussen al die rumoer in die hoenderhok, mis ons dalk ‘n ware ster.

So iemand sal egter wel die “gap” kry as musiek jou lewensroeping is.

Ek moet bysê, entoesiasme is volop onder “nuwe” kunstenaars.  Kyk nou maar na die toerbussies en die A-1 grootte plakkate wat die heinings plattrek by die kunstefeeste. Wie die opnames, die toerbussie met ‘n “larger than life” viniel-advertensie met ‘n foto van die ster by, betaal, weet ek nie, maar hulle is daar.  Dis amper soos Paris Hilton en Liz Hurley..

Ek probeer nou nog uitfigure wat hulle nou eintlik gedoen het om soveel in die nuus te wees.  Maar hulle is daar!  Ek moet dalk meer lees!

My vriend Ian luister eendag na ‘n onbekende “ster” wat by KKNK sing en sug: “As entoesiasme darem die dag talent oorskry……”  ‘n Ander sêding van vriendin Ingrid is: Hoe hoër die kunstenaar se profiel, hoe meer agterwiele het sy toerbus. Eish!!!   Sonder om geleenthede weg te vat van hulle wat dit verdien, kan ek nie anders as om terug te dink aan die dae toe die kunstenaar man- of vrou-alleen die harde werk gedoen het… EN die “speakers” gedra het  nie.  Salute!

Ongelukkig is daar nie ‘n ander pad as die demo of die verhoog nie.  Die dae toe ‘n liedjieskrywer of sanger op die platemaatskappy se stoep met sy kitaar en  ‘n bottle Jack  in ‘n slaapsak gekamp het vir ‘n oudisie, het in elk geval net in Hollywood-movies gebeur.

Alles is darem nie verlore nie en more is daar sekerlik weer ‘n paar demos in die pos.  En wie weet, dalk is een daarvan net die stem waarvoor die wêreld al so lank wag.  ‘n Avril of ‘n Keith Urban of dalk ’n Nicholis Louw-kloon. 

Luck en dinge soos “being in the right place at the right time” speel ook ‘n rol, maar ek wil my verstout om te sê dat met die hoeveelheid kunstenaars wat huidiglik op Afrikaans toesak, lyk die odds maar skraal.

Dus, voor jou pa ‘n tweede verband uitneem of die boot verkoop om vir jou demo te betaal, vra jouself af.  Sal dit wat voor by die luidsprekers uitkom, rêrig ‘n “record-producer” impress, of beter nog, die publiek wat van winkel tot winkel ry om jou CD te soek,   opgewonde maak?

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest