Hendrika Gaan Blomme Kyk – Gerald Young

Het al mos gehoor van die gesegde, ‘sameloop van omstandighede?’ Nou ja, soms loop die omstandighede sommer gou-gou saam, ander kere neem dit `n bietjie langer voordat hulle bymekaar kom om dan saam te kan loop.

Elk geval, dit laat my aan Hendrika dink. Vaal, preuts, en so oninteressant soos `n leë glas joghurt hierdie oujongnooi. En so lomp! `n Lewenslange stryd gevoer met swaartekrag die arme mens. Haai siestog! Altyd oor haar eie voete geval of goeters laat val en breek maar wonderbaarlik nooit arms of bene gebreek nie. Heeltemal in staat om oor haar eie skaduwee te struikel!

Nie lelik nie hoor, want die Liewe Vader maak nie lelike mense nie. Maar waaragtig een van die minder-mooies. Alhoewel, sy was eendag amper mooi gewees. Letterlik vir een enkele dag. Sien, Hendrika was `n onderwyseres, en een jaar met `n lentedag makietie, het die koshuis se matriek meisies haar bygedam en haar `n ‘make-over’ in die kleine gegee. Dit was die dag toe sy amper mooi was. Ook `n probleempie gehad met B.O. die arme siel. Dis nou mos ‘body odour’. Dié wat die Hoofmeisie hulle, ook haar armholtes en beenhare wou takel, maar die opsigter wou nie sy weedeater uitleen nie! Jitte mense, haar beenhare het gelyk soos telefoon kabels nadat `n appy met hulle klaar was. Dik en in alle rigtings gelê!

Daar word vertel dat Hendrika wel op Universiteit `n kêrel gehad het. Vaal Freddie Bleeksiel van die Kaap. Maar hy het haar glo gelos oor die oopmond ‘biesigheid’. Alhoewel onse Hendrika met haar paar uitsteek-voortande die spreekwoordelike appel deur `n tennisraket kon eet, was dit nie die oopmond soenery wat gelol het nie. Daai was vir hulle altwee nogal `n lekker uitdaging. Nee, dit was die etery. Sien, Freddie kon Hendrika se oop mond etery nie meer vat nie. Vreeslik lelik dié gewoonte van haar. Die geluide wat uit haar mond gekom het en die spoeg wat gespat het as sy geëet het, mense! Dit was ‘most un-lady like’! Genoeg om enige man se hormone antikloksgewys te laat draai en op vroeë pensioen te laat gaan. Smaak my Vaal Freddie se hormone het ook nie kans gesien vir Hendrika se oopbek eetstyl nie! Die B.O. het sekerlik ook `n rol gespeel.

Nou ja, Hendrika se gebreekte hart het haar nooit weer toegelaat om in `n verhouding in te gaan nie. Tussen ons gesê, niemand het eintlik regtig weer in haar belang gestel nie. Maar moet asseblief nou nie gaan staan en uitpraat nie hoor. Sy het ook `n binneste!

Een jaar, met haar ‘iets-in die dertig’ verjaarsdag, besluit Hendrika om op een van daai Namakwaland blomtoere te gaan. In die geheim het sy gehoop om `n ryk, losloper spierpaleis van `n Chippendale los te slaan, maar ons weet mos wat die kanse was daarvoor. Geklee in `n wye 50’s tipe rok, met sulke ou-tannie skoene, bestyg sy die toerbus met arms vol handbagasie. Dis mandjies en plastiek sakke en ‘vanity cases’ wat mense teen die kop klap en hulle brille van hulle gesigte afstamp soos wat sy verbybeweeg na haar sitplek.

“Vorsiegtig naau dame! Vorsiegtig!” haak `n verwinterde Hollandse man af terwyl hy sy kop met sy arms beskerm. Hendrika kry haar sitplek en prop haar bagasie by die oorhoofse rakkie in. Skaars gesit, toe stop die kelnerin `n verwelkomings Martini in haar hand, kompleet met sambreeltjie, kersies en fieterjasies. Te fraai! Toe kom daar `n bordjie soutigheidjies ook by en Hendrika lê weg, op haar kenmerkende oop-bek manier natuurlik!

Toe verskyn die toergids voor in die bus en Hendrika snak na haar asem. Op die spot verlief! Haar droom Chippendale! Toe sy sien hy skuif agter die stuurwiel in en double toe sommer ook as die busdrywer, raak haar oë skoon waserig en sy klok uit. “O’ daardie sterk arms wat die stuurwiel so manlik vashou!” dink sy by haarself. Haar mond hang wyd oop van bewondering en haar tande lyk soos een van daai ‘cow-catcher’ goeters voor op die stoomtreine van ouds. Die half gekoude salty cracks, vieannas en suuruitjies en goeters lyk te naar op haar tong!

In haar beswyming, vergeet sy toe skoon van die Martini in haar hand en sy tiep dit uit op haar skoot. Toe sy die skielike koue tussen haar duie voel, spring sy regop en stamp haar kop met `n slag teen die bagasierak. Dit veroorsaak toe `n moewiese ‘avalanche’ van sakke en mandjies en ‘vanity cases’ wat arme Hendrika amper toegooi. Die ander toeriste skarrel toe om haar te help, maar die Hollandse Omie bly sit waar hy sit en sê vir sy vrou, “Vraau, diet gaan gewoon `n ienterezante toor weez hierdie!” Nou ja, so was dit ook.

Die busdrywer, uitgeslape kalant wat hy was, het gou agtergekom dat arme Hendrika `n oog op hom gehad het, en hy speel toe saam. Maar só het hy feitlik in elke toergroep `n ‘Sorry Suzie’ uitgekies om op te prooi. Gereken hulle moes desperaat wees, die vark!

Hoe meer die Chippendale vir Hendrika in sy truspieël gewink het, hoe meer het sy aan die Martini’s weggelê, en teen die tyd wat hulle in Namakwaland aangekom het, was onse Hendrika so getrek soos `n sirkusbobbejaan!

Toe hulle by die hotel stilhou, strompel sy al giggelend tot voor in die bus, haar handbagasie genadiglik skoon vergete. Chippendale, galante vark wat hy was, spring toe uit en ewe sjarmant, help hy haar by die trappe af. Maar ongelukkig vir hom was daar twee of drie Martini’s te veel in Hendrika se lyf en sy verloor hulle saam met al die vieannas en kaas en agurkies en goeters, so met `n boog bo op Chippendale se ‘company logo’ hempie. Nou ja, Chippendale se belangstelling in `n moontlike ‘gelukkie’ met Hendrika het net daar `n duik gevat. Hendrika aan die anderkant, het vas geglo dié ou was versot op haar en vir die res van die toer het sy `n oorlas van haarself gemaak by die arme vark.

Anderdagmôre vertrek die groep toe om die kontrei te verken en die besienswaardighede en blommeprag te gaan besigtig.

Hendrika is so opgeruimd en verlief soos `n tiener meisie maar siestog, die gebeure daai dag, so in die Namakwaland se versengende son, was regtig nie haar skuld nie. Wel nie heeltemal nie. Eintlik was dit niemand se skuld nie, dit was net dat die omstandighede besluit het om saam te loop. Maar laat ek vertel!

Toe hulle by `n groot plaat blomme aankom, hou die busdrywer langs die pad stil en sê die mense kan maar uitklim en foto’s neem. Soos blits spring Hendrika op en met `n klikkety klik van haar haai polfaais, vlieg sy by die bus se trappe af. Letterlik gevlieg sê ek jou!

Sy trap ongelukkig die tweede trap mis, en duik kop eerste by die deur uit. Arme Hendrika val haarself toetental ‘lights out’ op die grondpad en daar lê sy, op die naat van haar rug! Haar arms en bene is so wyd uitgesprei soos die vlaktes self en haar rok is opgetrek tot verby haar naeltjie. Haar verbasend min, en durf ek dit sê, ‘sexy’ onderklere is aan die wêreld tentoongestel!

Nou is dit net hier waar die omstandighede ongelukkig erg beginne saamloop het. Julle onthou mos van Hendrika se ‘B.O.’ probleempie? Nou ja hou dit in gedagte.

Aan die anderkant van die bus, ongelukkig, toevallig, soos die noodlot dit wou hê en al daai ander clichés, het `n dooie jakkals of `n dierlike ding êrens in die veld gelê en vrot. Die warm son het natuurlik die reuk wat daardie karkas afgegee het ekstra woema gegee. `n Alle verskriklike reuk sê ek jou!. Die toeriste druk hulle neuse toe en Chippendale sit skielik tussen twee vure. Hy wou eers die bus `n paar meter verder wind op getrek het, maar hy kon ook nie sommer vir arme Hendrika net daar los nie. Die galante ‘chancer’ besluit toe om liewers vir Hendrika te help. Natuurlik aangespoor deur die arme vrou se skrapse onderklere,… die lae luis!

Intussen, het die Hollander Omie, wat verdiep was in `n potjie dambord met `n Suid-Afrikaanse toeris, nie gesien wat daar voor in die bus gebeur het nie en hy skroef sy neus op en vra, “Kenugtig menze, wat der donder stienk zoo?” Toe staan dié twee mans gelyk op en kyk by die venster uit. Haai siestog, daar slaan hulle oë vas op die arme wyd uitgestrekte Hendrika, wat toe nog so uit soos `n kers langs die bus gelê het! Hulle kyk vir mekaar en na `n oomblik van ongemaklike stilte haak die Hollandse Omie af en sê, “ Dies zeker nie….. nay, aagh nay! Menze ek’t nie bedoel….. ek’t nie gezinspeel op die vraau ….!,” en hoe meer hy probeer verduidelik hoe meer giggel die ander toeriste. Naderhand lag almal kliphard saam,  “Zoete moeder, hoe maakt ek my ze naam tot gat!” haak hy af en lag saam.

Hendrika het darem gou bygekom, nogal in die arms van Chippendale wat haar mooi toegemaak het en haar waardigheid herstel. Hy het haar ook met yswater gelawe en so saggies die bloedjies van haar voorkop afgevee.

Dit was natuurlik vir Hendrika die hoogtepunt van haar romantiese lewe toe sy haar oë oop maak en in Chippendale se gesig vaskyk.

Alhoewel Hendrika soos `n bytjie by `n blom, al om ou Chippendale gezoem het vir die res van die toer, het hy toe nie dinge verder gevat nie.

Weet ook nie of dit die beenhare of die ‘oopmond biesigheid’ was nie. Maar hy het nie kans gesien nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest