KRAG IN DIE NAAM -JESUS

Die innemende sanger Rudi Muller loof en jubel op sy jongste album Krag in die Naam – Jesus. Dit is Rudi se negende album en sy vierde in die gospelgenre.

Dié bekroonde sanger-liedjieskrywer bely: “Ek probeer om met al my foute diensbaar te wees en om as instrument gebruik te word. Ek glo elkeen van ons kan ‘n verskil maak, op watter wyse dit ook al mag wees.”

Die nuwe album, Krag in die Naam – Jesus, volg op Rudi se vorige geestelike albums Deurbraak, Tetelestai en Loflied– wat die klank van geestelike musiek in ‘n nuwe wentelbaan geplaas het en gekenmerk word deur ‘n grootse, fyn georkestreerde versameling van liedjies met ‘n internasionale klank wat ver anderkant die grense van gospelmusiek die hartsnare roer.

“Ek voel baie sterk dat wanneer ‘n geestelike repertoire saamgestel word, moet dit ‘n werklike toonbeeld van ‘n persoonlike boodskap of ervaring wees,” sê Rudi. Vir die nuwe album is van die beste werk van die vorige drie albums gekies en met twee nuwe snitte verpak.

Die nuwe snitte is besonders. Die titelsnit, uit die pen van Rudi en die vervaardiger Stass, besing God se genesing en ons Vriend wat vrede bring. Die sanger kniel in eerbied en eer, prys en aanbid. Dan is daar die snit Tiame, wat Rudi aan sy dogtertjie opdra. In dié lied besing die aardse pa sy liefde vir sy kind, maar dit is ook die versekering van haar Hemelse Vader se beskerming, wat haar seën om haar vlerke te sprei.

Die ander begeesterende liedere is Draai na die Kruis – Jy bly my kind – Maak my nuut – Tetelestai – Vriend in Jesus-keurpsel – Alfa en Omega – Deurbraak – Lofsang-keurspel – Vlambaar – Our God Medley – Gee jou hart – Hoe Groot is ons God – Maak gelyk die pad – JMRMR – Neem my lewe, laat dit Heer – Vader – Oorwinngslied.

Dit vier die seisoene van dankbaarheid,” sê Rudi. “Die album bied geestelike salf. Die doel is om mense te begeester en om Jesus Christus as die alfa en die omega te eer.”

Ervaar ʼn versameling besielende en opheffende geestelike liedere,

met eerlike oorgawe en opregte geloof vertolk deur ʼn gouestatus-kunstenaar.

MEDIA-UITREIKING

Uitgereik deur VONK-Musiek

Kontak Lydia Winchester vir meer inligting

Tel: (011) 475 2187 – Sel: 082 554 8453 

E-pos: lydiaw@mweb.co.za

Pin It on Pinterest