Maaster Paaster – Gerald Young

Pastoor het landwyd gereis om wayward siele te panelbeat, stormagtige huweliksprobleempies uit te stryk en ander pastoorlike pligte uit te voer. Darem ook nou en dan kans gekry om die Woord te bedien, so tussendeur die huismoleste en ander sports.

Een van sy minder aangename take was natuurlik as die dood ingetree het. Nou nie by hom nie, maar by ander mense. As die dood so `n dreigende houding by die siekes en oues van dae inneem, moes Pastoor dikwels alles los en honderde kilometers ver ry om mense en hul geliefdes voor te berei vir dit wat op hande is.

Een so `n geval was êrens onder in die Kaap gewies. Mathilda het laat weet, Oupa Terrence  was op sy laaste en “Paaster moet kom, Paaster, die ou man gaat dittie maakie Paaster!”

Ten spyte daarvan dat Pastoor ver was, het hy maar plan gesien om by die mense uit te kom, want dit was sy kerk se mense dié, en hy was lief vir hulle. Toe hy daar aankom, sien hy dinge is waar. Oupa Terrence was wel op pad uit. Nou ja, hy administer toe die sterwensbegeleiding en sien toe dat die Oupa goed toegerus was vir die reis na die Hiernamaals. Pastoor sien toe hy kan niks verder vir die ou man doen nie en sê vir Mathilda-hulle hy sal moet aanskuif, die land lê vol siele wat hy nog moet gaan panelbeat

Oupa Terrence se kleinseun, Vernon, reken toe in daai geval moet Pastoor sommer ook  die ‘begeleiding met die verlies van `n geliefde’ doen vir hulle wat die naasbestaandes is. “Want dit gaat al twie maande so aan, Paaster. Dan wil die ou man sterf, dan stel hy uit. `n Mens wiet nie wanner gaat hy uitcheck nie, Paaster!” Pastoor doen toe die nodige, en is daar weg.

Skaars twee dae later bel Mathilda om te laat weet “Oupa is vroe die oggend doed. Paaster moet ‘seblief die ou man kom loep begrawe”. Maar ongelukkig was Pastoor teen daardie tyd al baie ver in die land. Hy sou eers teen die oormôre daar kon uitkom.

Deurnag moeg gery, kom Pastoor die oormôreoggend weer by Mathilda hulle aan, maar hy’t nie geweet wat op hom gewag het nie. Sommer met die intrapslag begroet `n onheilspellende doodsreuk hom. “Snaaks hoe mens `n huis kan ruik waar die dood besoek afgelê het”, dink Pastoor by homself. Maar daar in die sitkamer sien hy iets wat hy nie kon glo nie. Soos wat Oupa Terrence twee dae vantevore in sy stoel doodgegaan het, net so het Mathilda-hulle hom gelos …”sodat Paaster hom eers kan bless voorlat hy lykshuis toe gaan, Paaster!” verduidelik Mathilda.

Wil jy glo! Daar, stokstyf onder `n wit laken en met sy arms nog op die Lazy Boy se armleunings, sit die Oupa nog voor die TV, maar hy’t duidelik nie meer nodig vir `n TV-liksens nie! Pastoor bless toe die Oupa en reël inderhaas dat die lyksbesorger die lyk kom haal. Reguit kon hulle Oupa Terrence egter nie kry nie, en net so, in `n half sittende posisie het hulle hom op die trollie gelaai, en is hulle met hom daar weg yskaste toe. Pastoor glimlag onderlangs by homself, want Oupa Terrence lyk toe vir hom net soos een van daai plastiek speelgoedmannetjies wat motorbike ry. Maak nie saak hoé jy hom neersit nie, hy ry al die pad motorbike…!

Maar Oupa Terrence was nie die enigste kinkel in die kabel nie, as julle my sal verskoon hoe ek dit nou uitdruk. Daar wag toe ook `n kinkel in die storie vir arme Pastoor. Oupa móét in sy geboorte dorp, Upington, begrawe word, wat oor die agthonderd kilometer ver lê! “Maar Paaster moet saamry en die begrafnis oek doen”, soebat Mathilda. “Paaster moenie worry nie, ons sal al djou expenses betaal, Paaster!”

Maar Pastoor het geweet, van betaal sou daar geen sprake wees nie. Daar was hoeka nie eers genoeg geld om die lyk ordentlik soontoe te laat vervoer nie, maar vir hierdie mense was alles mos `n minor metter. Kleinseun Vernon negotiate toe met Oubaas Dan om hy se bakkie te leen, ook all expenses paid!  Hulle sal sommer die kis in die bakkie se kennopie  laai en self vir Oupa Terrence na sy laaste rusplek toe vat.

Dit was nou wel in die middel van die winter, maar die ontdooiing van die lyk tydens die trippie was nogal `n bekommernis vir Pastoor, veral omdat Oupa Terrence reeds `n rukkie lank dood was. Daardie Noord-Kaap se son tref mos nie onderskeid tussen lewendes en dooies nie. Dit sou hulle mos genadeloos piets en die bakkie se kennopie so warm soos `n oond maak! Oubaas Dan se bakkie was ook `n ou skedonk en kon nie juis baie vinnig ry nie.

“Nei, daais nie `n problem nie,” fluister kleinseun saggies. Hy wil nie hê Mathilda moet hoor nie, want sy was huidiglik baie upsettable. “Ons ry die agtermiddag `n skoffie tot in Calvinia, dan slaap ons by die poliestestasie oor. Die annerdagmôre vroe-vroe vat ons die pad Upington toe.”

Later die week, toe Pastoor en kleinseun Vernon Oupa Terrence se lyk gaan haal, wag daar vir hulle `n klein probleempie by die lykshuis. Die lykbesorger was af siek geboek en die opsigter was al een wat aan diens was. Die opsigter, `n lang, maer ou  man, het nie `n baie helder prentjie van slimgeit na die wêreld toe uitgestuur nie. Ek sal dit maar reguit sê, hy het ietwat dof voorgekom. Omtrent net asemgehaal, die ou siel.

Pastoor was dadelik onrustig. Kleinseun Vernon ook. “Hemeltjie Paaster, kyk net hoe lyk die man!” sê hy bekommerd. “Waaragtig soos die doed self!  En hy’s so blerrie maer!  Lyk kompleet soos `n flippin’ walking autopsy, só naby aan die been is hy gesny!”.

Hulle vrese is bewaarheid toe die walking autopsy Oupa Terrence se lyk uit die yskas uitstoot. Jou werklikwaar, Oupa is toe net so gebalsem en in die yskas gebêre. Hulle’t nie eers gebodder om hom `n bietjie platter te kry nie. Oupa Terrence was nou ook amper solid gevries en ry toe nog al die pad motorbike!

Pastoor-hulle moes toe self spook om Oupa Terrence in sy kis te laai, want dit was konsuis nie die Opsigter se job nie. Toe hulle hom egter neerlê, steek sy arms hoog en wyd uit, en sy kniekoppe lyk soos twee Sugar Loaf Mountains bokant die kis.

“Het julle nie `n groter kis nie?” vra Pastoor omgekrap, want hierdie klas goeters was definitief nie in `n pastoor se job description nie.

“Nei Maaster Paaster, daaisie kis wat hulle gekies het, Paaster. Daa’sie ene wat djulle gaat vat!” haak die opsigter af. “Dis my instructions van boe af.”

Met `n geswoeg en ‘n gesweet kry Pastoor dit toe reg om die Oupa se bene `n bietjie platter te kry, maar die arms wou niks weet nie. Hulle bly reguit en so wyd soos die motorbike se handles! Elke keer as Pastoor die arms afdruk om hulle plat te kry, hoor hy kraakgeluide, en Oupa Terrence se ribbes dreig om oop te maak soos die louvre-vensters by Newlands se ticket office.

“Wat nou?” vra Pastoor. “Die deksel sal mos nooit kan vaskom nie, en ons moet vanmiddag nog Upington toe ry!”

“Breek hom Paaster! Breek hom!” sê Autopsy uitdrukkingloos, en beduie met sy twee hande vinnig so verby sy gebuigde knieg.

“Wa’aat?!” vra Pastoor verbaas.

“Breek hom Maaaster Paaaster!” sê Autopsy weer. “Daais al genade! Hulle maak so Paaaster, regtig! Die ou kêrel is dan doed. Hy kan mos niks voellie!  Buitendien, die death certificate is klaar uitgereik en dit sê  died of netshural causes. Hulle gaat mossie nou kyk of die ou kêrel se arms gebreek wassie!”

Pastoor en Vernon kyk met skok en ongeloof vir mekaar. Hulle weet nie of Autopsy ernstig is of nie, maar die tyd is besig om hulle in te haal.

“Is jy seker?” vra Pastoor.

“Djah man, dis mossie so ergie!”

“Nou kom help dan”, beveel Pastoor.

“Nei, no ways, Maaster Paaster, ek is maar net die Janitor, ek vattie aan dooie goettie! Gaat djulle maar aan en doen wat djulle moet doen!”sê Autopsy, terwyl hy by die deur uitloop. “En ek het niks gesienie!” haak hy af, terwyl hy sy opgeskroefde oë met sy duim en voorvinger toehou.

Skielik staan Pastoor alleen, want Vernon het soos `n blits saam met Autopsy padgegee. Vir hierdie biesigheid wou hy ook nie `n eyewitness wees nie.

“Nou ja, jammer Oupa, maar pas moet jy pas!”, sê Pastoor vir die dooie Oupa Terrence. Hy spring op die tafel, en met `n slag bring hy sy knieg op en breek Oupa se een arm soos `n droë stok. “Size fit!” dink hy, en maak ook met die ander arm so. Hy gryp die kis se deksel en na heelwat gedrukkery, kry hy dit vasgeskroef. “Daar gaan al my shares in vlamme op!” dink hy en flits sy oë na bo.

“Julle kan maar kom. Dis gedoen!” roep hy vir Vernon en Autopsy terug.
Nadat hulle die lyk tot Autopsy se tevredenheid uitgeteken het, is die twee huis toe met die pasgemaakte, freshly frozen Oupa Terrence.

By die huis gaan hulle weer oor die planne vir die rit Upington toe. “Soos ek gesê het,” sê kleinseun Vernon, “ons vat nou va’middag `n skoffie tot in Calvinia, dan vat ons `n slapie by die poliestestasie, en voorlat die son ons kan raaksien, vat ons die pad Upington toe. Dan sal die oubaas mos nie kans sien om te ontdooi nie. Is mos so, nè, Paaster!”

“Maar wat van Oupa?” vra Mathilda hartseer. “Waar gaat hy slaap? Ons kan hom mos nie net so in die bakkie los nie! Hy gaan koud kry!” sê sy snikkend. Almal in die vertrek kyk vir mekaar met `n stille ongemaklikheid. Skielik bars Mathilda uit van die lag en sê: “Ag, silly me! Waar is my kop dan nou? Oupa is mos klaar yskoud doed!”

Almal lag lekker saam, en kleinseun Vernon vra saggies na Pastoor se kant toe: “Paaster, reken Paaster daar’s spietkops innie hemel?”

“Nee ek weet nie, seker maar. Hoekom vra jy?” vra Pastoor.

“Jissie Paaster, dink net hoe lekker sal Oupa daar bo kan arms swaai met daai paar af-arms van hom!” Paaster begin giggel soos `n skoolmeisie, en dink weer: “Ja, Vader, vir hierdie mense kan jy net lief wees!”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest