Mooigeit – Ben Beukes

Dit was in die jaar 1933, in die middel van die allervreeslikste droogte en depressie dat Ystertjie Breekman die lig gesien het.

Die Breekman-gesin was maar taamlik aan die milde kant, want oom Toggels het nie op hom laat wag nie. Skaars drie maande getroud gewees met tant Kwassie toe kom daar ‘n drieling. Die het ook skaars mooi grondgevat en pram gelos, toe word Ystertjie, Lunsie en klein Kleppie gebore.

Van die staanspoor af, sommer daar in die eerste strale van die “Coleman” by ou suster Kotter, het al wat leef en beef gesien dat hierdie kind ‘n skoonheid oor hom het wat geen mens kon beskryf nie! Kyk, ‘n baba bly maar ‘n mooi ding, maar hierdie kind het byna nie ‘n babageit aan hom gehad nie. Man, die rooiste wange en die langste, blonne hare wat sommer sulke diep golwe oor daai koppie gemaak het. Die twee vensters van die hemel van daai Ystertjie wat so kennelik in daai kop van hom gesit het, was nou behoorlik so blou soos ouma Koekie se bloemers.

Man, en dan moet ‘n mens darem ook net noem van die wimpers van daai beeld van ‘n kind. Daar was oggende wat ek bygestaan het wat sy ma die goedjies behoorlik moes oopkam sodat hy kon sien waar om bek te gooi vir die suipslag.

Mens, en dan… daai twee hande van die kind was so geseën met die langste kunstenaarsvingers, en alles wat nou by ‘n seunskind langerig moes wees, was daar. Hy was nou soos hulle sê, ‘n mens tot in lengte van dae!
Jong, en as hy daai stelletjie melktande van hom kom uitpak het, was dit ‘n geglinster van ‘n ander wêreld. Kompleet soos permanente tande gelyk en sommer binne veertien dae gewissel.

Ag, dit was nou vir jou ‘n gedoente met die kind saam. Oom Toggels moes die hele huis beslaan met spieels dat mens nou vir Ystertjie van alle kante kon besigtig. Hy was nou behoorlik in “stereo” te siene!

Die arme oorle oom Toggels en tant Kwassie kon omtrent nie hulle neuse by daai huisie se deur daar op O My Bliksem uitsteek nie. Dit was nou vir jou so goed Hitler self het daar skuiling loop soek soos die mensdom daarheen gestroom het. Man, as dit nie die koerante was nie, dan was dit die Vouelandbou Unie, en as hulle nou net hulle ry gekry het, dan het die OVV weer daar aangesit gekom. Daar was nou om die waarheid te sê, nie rus of duurte vir die Breekmanne nie. Almal wou die skoonheid van Ystertjie kom bewonder.

Hy was dan ok skaars drie, toe het hy al ‘n rits diplomas en skilderye en koerantfoto’s dat dit nou vir jou ‘n aardigheid was. Die ander klompie Breekman-kinders het die ding aangevoel en was maar selle by die huis, om nou nie te veel aan die pyn van miskenning blootgestel te wees nie.

So het die jare maar sy loop geneem en die Breekmans moes maar aanhou koes en doen om uit die oog van die pebliek te bly. Moet ek darem bysê, soos die tyd nou aangeskuif het, het Ystertjie net al mooier en mooier geword. Kyk, as Michael Angelo die kind gesien het, sou hy baie meer beelde daar gestel het en dalk sommer hier in Suid- Afrika kom aftree het.

Hy was nou later so mooi dat jy nie na hom kon kyk nie. Dit was nou so goed jy kyk met jou twee blote oë na die blits van ‘n sweismasjien.

Later het krampwater en roompies vir babas die lig gesien met klein Ystertjie se glimlaggende gesiggie op.

Hier op vyf, toe was daar nie meer huis te houe met klein Yster nie en die dominee het aanbeveel dat hy maar skool se kant toe moet staan.

Maar, was dit nou vir jou ‘n gedoente! Man, die dag toe hy voet aan wal sit in daai skool, toe was die gort gaar. Slim is nie die woord nie. Hier het ek met my eie oë gesien dat onderwysers wat al jare daar in die tuig gestaan het, moes gaan oorleer en kursus op kursus doen om by die mannetjie se lis en vernuftigheid by te bly.

Man, dit was nog sommer vroeg, ek dink dit was hier teen dertien se kant, toe skryf daai klein Yster mos standert tien. Mens, die een onderskeiding na die ander. Nou moet jy darem weet, hy het ook vreeslik uitgeblink op sportgebied en hy was een van die jongste spelers wat nog ooit aan die Craven-week deelgeneem het.

Dink ek nou so terug aan die dag daar op Bloemhof toe ou Danie Craven daar saam met ons langs die veldjie staan en braai en hy vir Ystertjie die eerste maal in aksie sien. Sy woorde sal my altyd bybly toe hy sê: “Liewe bliksem… maar dis ‘n mooi mens daai…! As rugby maar so kon lyk!”
Ja, so is Ystertjie deur die skool met lofprysinge, prestasies, oorkondes, medaljes, bekers en sommer plein ou briefies van al sy bewonderaars.

Daar in die skoolsaaltjie van sy ou skooltjie, Is dit die Pad? is een hele ererol op suiwer geelhout spesiaal vir hom opsygesit. Daar hang dit tot vandag toe.

Yster was ten spyte van alles nie ‘n ydel mens nie, nee, hy het ‘n inbors gehad wat skrik vir niks nie! Mens moet dit sê, want hy was nederig en met sy twee engelvoete mooi plat op die aarde. Hy was nou soos ‘n sterk mens wat nie geweet het hy’s sterk nie. Hy het nooit met sy mooigeit te koop geloop nie. Hy was nou soos hulle sê, ‘n regte yster.

Jong, en die kêrel word al mooier. Sy blonde hare lê in sulke “waves” oor daai kop van hom en sy twee bloues kyk ‘n vroumens net een keer dan is dit nou so goed jy skiet haar twee bene op daai oomblik met ‘n kartets af. Sy knak behoorlik soos die spreekwoordelike riet mooi in die middel.

Vat aan ‘n vroumens kon hy glad nie. Dit was nou vir jou ‘n hopelose saak. Want vat hy, dan gaan lê sy sommer, nou behoorlik soos ‘n skaam hond. Dit het menige verleenthede in die openbare oog tot gevolg gehad.

Yster kon nie in die bondel vry nie, want die vroumense het agter hom aangetou. Hy sou moes vrouvat om van die gejaag na sy atletiese lyf ontslae te raak.

Mens, maar die man se twee hanne het vir niks verkeerd gestaan nie en alles wat hy aangepak het, was ‘n sukses. So word hy toe ‘n meganiese ingenieur en hy verrig wondere. Bou hy nie ‘n brug nie, dan is dit ‘n wolkekrabber. Wesselbron se stadsaal is byvoorbeeld een van sy meesterstukke wat nou nog staan vir die nageslagte wat gaan kom. So word sy skoonheid en sy meesterbrein alom bekend – van die Kaap tot in Marabastad.

Uiteindelik kon Yster nou die alewige gegons van die vrouens om hom net net nie meer hanteer nie, en hy trou met Aluintjie. Ag, hoe moet ek sê….? Sy was nou nie ‘n vreeslike aanvallige ou dingetjie nie, maar goeie saaigrond en teelaarde was sy wel.

Hoe dit ook al sy, die twee word toe mos daai Saterdag van die 12de Desember daar in die Moedergemeente op Snotkombers in die eg verbind.

Man, maar was dit nou vir jou ‘n aardigheid en ‘n groot affêre! Met die inkomslag moes arme Yster die “weil” dra, want arme Aluintjie sou nooit enige oog op haar en haar pragtige gewaad gekry het nie. Daar onder die oë van ds. Knypknater was dit ok maar ‘n ding, want toe daai “weil” lig, toe vergaap die orrelis haar so aan Yster dat sy sommer Suikerbossie in plaas van die troumars speel.

Na die troue wou al die vroumense net met die bruidegom dans en arme Aluintjie sit en suig maar alleen daar aan die vaatjie Jeripico in die hoekie van die saal. Selfs ou tant Maaima Vosser van ou Blokkies, raak toe half orig en raak aan die Charlston met die einste Yster. Dat haar ou twee heupe nie uit potjie gespring het nie, was ‘n wonder…maar boeta, sy’t hom goed geroer daar op daai sementvloertjie van die saaltjie.

So is Yster en Aluintjie toe getroud en dit was ook nie lank nie, toe is daar sommer ‘n hele stringetjie pienkvoete. Maar snaaks hoe die ou lewe darem maar werk: nie een van die kinders lyk toe na Yster nie. Die laaste een trek nou op ‘n haar na Aluintjie. Die ding van die verlore skoonheid moes Yster gevang het, maar hy het dit nooit laat blyk nie.

Ja, so het die dae gekom en so het die dae gegaan, maar Yster het ‘n stil man geword. Nog steeds was hy ‘n beeld, maar die aandag het algaande getaan en die feit dat nie een van sy ou kinnertjies nou juis aansienlik was of iets van sy besonderse skoonheid geërf het nie, het sy tol begin eis.
In die proses het Yster begin om gledaais te kry en hy het begin rondkyk na al die gemiste geleenthede wat hy in die lewe moes prysgee. Nou kyk, daar is niks so erg om prys te gee, as goed op ‘n skinkbord vir jou aangebied word en jy maak nie daarvan gebruik nie. Hoe sê die ou spreekwoord nou weer: “Iets no joes kraaiing over spilt milk”!

Maar ander weivelde was hy nou maar eenmaal aan die soek. As daar nou ‘n man was wat nie hoef te gesoek het nie, dan was dit nou Yster. Kyk, dit was nou so goed hy het in die middel van die paradys self gebly. Al die ou verbode vruggies en geurige ou blommetjies het sommer in sulke beddinkies hier vlak by hom gestaan en gesmag na ‘n ou watertjie of ‘n snoeitjie of net die ou plukkie van ‘n blaartjie.

Man, dit was nou vir jou ‘n neukery die ge-gledaais van Yster. Want sien, hy was ‘n man wat kon wyd kies onder die evasgeslag, maar moenie glo nie, hy slaan toe vas by ‘n getroude ou vroutjie, Katrolletjie, wie se man, ou Brolloksie, ook maar alewig aan die sukkel was om die mas op te kom.

So vind Yster toe nou na twee of drie glimlaggies en ligte aanrakinkies uit dat die vrou eintlik twee groot Kalahariplase gaan erf die dag van haar ouers se oorlye. Dis toe net hier waar Yster sy vernuftigheid en skoonheid en al sy langerige bedeeldhede begint inspan om nou ‘n tweespalk in die geledere van die ou vroutjie en haar hopelose mannetjie te bewerkstellig.

So is Brolloksie en Katrolletjie toe uitmekaar en Aluintjie en die kinners is terug na haar ma-hulle op Vaalharts.
Die eerste naweek na die groot egbreek is Yster met Katrolletjie daar in sy bakkie af Kalahari toe om te gaan ouers vra, te ontmoet en te doen.

Man, daar het die Yster van ons skaars sy voete op daai warm sand by oom Sakkels en tant Jou Wie neergesit, of hy kry ‘n ontvangs wat selfs konings asemloos sou laat. By die hek waar mens nou so tussen die duine deurry, was daar ereboë en vaandels wat die pad oorspan. Selfs die Vierkleur het hoog bokant die kameelbome aan ‘n lat gewapper. Die plaasmense het ‘n erewag met duinbosfakkels gestaan en die kinders het “Ver in die wêreld, Kittie” gesing.

Mens, en die spul raak daar aan die dans en drink dat hoor en sien vergaan. Die jolyt het so ‘n week of wat geduur, en so raak Yster en oom Sakkels en tant Jou Wie vreeslik geheg aan mekaar.

Yster het ook nie op hom laat wag na die groot ontvangs om nou verdere indrukke te verdiep by die aanstaande skoonmense nie. Hy het sonder om te wik of te weeg dadelik ingeval by die plaas se werksaamhede en gou-gou was die twee plase so reggevat dat daar niks meer werk oor was nie.

Dit was te pragtig om hom saans so teen skemer op sy appelblou skimmel te sien sit in die laaste strale van die son so teen die rooiduin daar naby die opstal besig om die wêreld te betuur.

As hy terugkeer van sy verspiederstog daar in die veld, dan sit hy en oom Sakkels nou lekker agteroor met ‘n bottel whisky so tussen hulle en dan drink hulle en sing ou FAK-liedjies dat die duine antwoord gee!

In die kombuis was ant Jou Wie besig met kook en doen en elke tweede aand was daar ‘n lekker kerrieafval en ‘n brannewynpoeding op die tafel. So wat van eet het ‘n mens in jou dag des lewens nog nooit gesien nie.

Soggens vroeg dan is die pa en die skoonseun uit bees toe of skaap toe, of sommer net om gou ‘n paar bokkies te gaan neertrek vir biltong en die pot.

Katrolletjie was ‘n ander mens, man, sy was nou behoorlik aan die dartel daar oor die duine en sy en haar ma lê net konfyt in, bak koeksisters en kook seep vir ‘n vale. Haar voete was soos die van ‘n hert in dorre streke. Elke more het sy wakker geword met sommer ‘n hele bondel sterre in haar oë, kompleet soos die melkweg.

Maar soos dit nou maar gaan met die skoonheid, dis ok mos maar soos lekkerkry – net vingerlank. Die son, wind en weer het stelselmatig ok maar sy erosietekens op Yster se pragtige gelaat begin agterlaat.

Mens, maar tant Jou Wie staan bont. As sy hier los, vat sy daar en as sy daar gevat het, het sy al lankal annerkant gelos. Saans as almal al gaan lê het, was sy die een wat met die kers eers ‘n draai daar in Yster en Katrolletjie se kamer loop maak het en gesorg het dat hulle goed en warm ingevou was vir die nag. Dan het sy ‘n piksoentjie vir Katrolletjie gegee en vir Yster ‘n lekker klapsoen op die bek om nag te sê.

In ‘n ommesientjie het daai twee verlate, droë plase in ‘n paradys begin verander. Man, dit was nou so goed jy loop in die land van Kanaän in. Die Kalahari het hierlangs soos ‘n tuin begin lyk en die mense het van heinde en verre gekom om die besigheid te aanskou.

Yster was die man aan roer van sake en oom Sakkels het maar net die heeldag daar onder die serinkie gesit en suip en liedjies sing. Uiteindelik het die ou mense ook maar die gees gegaf en is die ewigheid daar in – oom Sakkels al singende en tant Jou Wie met ‘n verestowwer in die hand.

Yster en Katrolletjie was nou die base daar op “In Sille Se Moer In” en dit gaan te lekker. Die een jaggeselskap na die ander besoek die tuin en die een verbode vrug na die ander word deur Yster daar in sy eie paradysie gepluk. Katrolletjie wat nie gewoont was aan die gefuif en die geleeglê nie, het die ding lankal sien kom, maar sy was so verslaaf aan haar wederhelf se skoonheid dat sy maar laat begaan het.

Die vrouens was al weer aan die draai om Yster en koer hier en kekkel daar en Yster staan in die middel met drome in sy oë.

Man, dit was nie ‘n jaar na die oorlye van die ou mense nie, toe het die jagtogte, drinkery, die son en gekafoefel vir Yster so gevang dat sy skoonheid ‘n geweldige knou gekry het. Hy was nou van die plooie en so bruin verbrand dat dit nie snaaks was nie. Nou moet jy darem weet, as sy twee blou oë so tussen daai verwronge velle uitskyn, lyk dit te aardig. Dit was nou kompleet asof daar twee waterpoeletjies soos oasetjies uitloer uit ‘n vreeslike dor en droë wereld. Snaaks, want jy kon die verlorenheid rondom sien, maar het nooit dors geword nie.

Katrolletjie kry toe ok gledaais en sy is sak en pak daar weg met ‘n Amerikaanse jagter van Kentikkie.

So sit Yster ook nou daar in sy verlore paradysie onder die serinkie van oom Sakkels en hy sing van verlore skoonheid met ‘n lekker doppie in die hand. Ja, die ou spreekwoord lui mos: “Skoonheid vergaan, maar deug bly staan!”

Weet mens nou ook nie so mooi van Yster se deug nie, want hy was teen die tyd al soveel keer geknie en vol rimpels gedruk dat hy soos ‘n mislukte erosieskema gelyk het.

Die ou holrug, appelblou skimmel staan skemeraande nog so teen die rooiduin en knibbel en Yster se liedjies van verlange, ego weg, in die leë holte van sy glas.

Hoe sê die ou spreekwoord nou weer: “Mens kan maklik jou watsenaam sien, sonner ‘n spieel!”

 

One thought on “Mooigeit – Ben Beukes

  • 27/01/2017 at 9:39 nm
    Permalink

    Lekker om weer Ben se stories te lees

    Reply

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Pin It on Pinterest