Muggievul en Versuip – Ben Beukes

Ja, die ou plaas, Seringboomkop, lê vandag nog daar, op die warm vlaktetjie. Die plaas was die jarelange eiendom van oom Sagrys en ant Ketrein. Die twee ou mense was, soos hulle nou sê, goeie siele. Ja, nog mense van die aarde!

Hulle het twee dogters gehad. Die jonge was Marie, of dan Meelslang, soos die jong mense haar genoem het, oorlat sy sulke witterige hare gehad het. Haar suster se naam was Patrys, en sy het `n bos rooi hare gehad, en haar bynaam was Stoplig. Jong, en die dogters het maar daar in die huis grootgeword, onner die waaksame ogies van ant Ketrein.

Hulle was baaskooksters en -baksters, en het met alles daar op die plaas gehelp en gedoen. Jarelange geswoeg en gesweet het vir oom Sagrys hulle vooraanstaande mense gemaak in daai gemeenskappie van ons. Hy was nou soos hulle sê, ‘n vermoënde man!

So met die tyd saam, het Meelslang en Stoplig, ok maar later oor die onnerdeur begint te loer, en dit was ok nie lank nie, toe het die kêreltjies kom inloer vir `n proetjie! Jong, dan’s die kys in, en dan’s daai kys uit. Dit was nou behoorlik `n siftingsproses van ‘n ander wêreld! Dan hou die oom van dié of van daai, maar die tante nie, en dan weer hou die tante van daai of van dié, maar dan wil die oom weer nie inval nie. So word daar dan gestry, en selfs warm woorde geslinger oor die geaanlê by die dogters!

Maar nou weet mens mos hoe loop die dinge, want uiteindelik is dit maar die kinders self wat die finale keuse van vryers, of aanstaandes moet maak. Mens, en so kies Meelslang vir Muggievul, of te wel, Hansie Herselman, so `n groot, dikke, en Stoplig, dié loop slaan vas op Versuip, die seun van ou Ferdie Verkuil, ok maar aan die gesette kant!

Uiteindelik, na vele opsitkerse, is albei die susters sommer so op een dag daar op Seringboomkop, in die huwelik bevestig deur ou dominies Hatting.

Nou kyk, as dit nou by Sagrys se dogters gekom het, het hy wat oom Sagrys is, nie kostes ontsien nie. Uithang is nie die woord vir daai troue nie. Alles was daar in overvloed! Daar was nou vir jou kos, en drank, en koek, en lekker musiek, dat dit nie snaaks was nie!

Jong, en tot laatnag is daar gekuier en gelag dat hoor en sien vergaan! Selfs ek het `n paar swaaie gevat, daar in die skuur met Meelslang en met Stoplig.

Mens, en die einste plaas, wat `n baie goeie saai- en veeplaas is, word toe gelykop tussen Muggievul en Versuip. Verdeel. Oom Sagrys en ant Ketrien trek toe dorp toe, om in die dorpshuisie te gaan rietaaier.

So begin Muggievul, en Versuip. Jong, en dit gaan te lekker! Elkeen het `n nuwe bakkie aangeskaf, en ry net die heeldag op die plaas rond. Dan is Muggievul in die kampie by sy bees, en dan is Versuip op`n landjie besig om te ploeg. Saterdae dan sit die tweetjies af dorp toe, en ry reguit kroeg toe! Daar sit hulle dan en fuif tot so laatmiddag se kant, en dan skommel hulle maar weer huis toe, want die mammies wag!

So boer hulle al reisende en geselsende hul dae om. Elke langnaweek of vakansietjie wat daar is, gebruik hulle tot die dood toe. Dan hoor jy hulle is in Natal vir `n jagtog, en dan weer in Mosambiek, of hulle het gaan visvang in Hentiesbaai. Tog te lekker!

Maar geld is mos rond en rol weg van ‘n mens af, en kort voor lank, toe is die geldjies op, en die plaas en al sy goedjies wat oom Sagrys en ant Ketrien opgebou het, moes op `n veiling verkoop word. Daar sit die twee ou mense toe met byna niks! Ja, die twee skoonseuns se geswier het hulle duur te staan gekom! Hoe dit ok al sy, die koeël was deur die kerk, en die plaas is verkoop.

In dié moeilike tyd is die twee oues van dae baie getrou bygestaan deur `n prokureur, met die naam van Gerbertjie. Sy ou kantoortjie het in die hoofstraatjie gesit, met ou, staalplafonne en mooi, geskuurde houtvloere. Kort-kort was oom Sagrys se F100 daar voor sy kantoortjie te siene.

Of dit nou die skok was oor wat die twee simpele skoonseuns aangevang het, weet mens nou nie, maar op `n dag hoor ek dat ant Ketrein so `n groot beroerte gehad het! Gelukkig het sy in so ‘n mate herstel, dat sy darem met krukke oor die weg kon kom. Gerbertjie moes ok later die boedel van oom Sagrys-hulle hanteer.

Gerbertjie het `n vaste gewoontetjie gehad, veral so hier teen eenuur die middag se kant. As etenstyd aanbreek, dan trek hy die kantoordeur toe, en haal `n klein matrassie agter sy deur uit. Sodra hy dan hoor dis stil, gooi hy die matrassie neer, en gaan lê dan `n bietjie skuins op sy kooitjie!

Die mirrag lê hy nog so, toe hy die bekende tok-tok van ant Ketrien se kierietjies in die gang af hoor, en hy weet sy is op pad na hom toe! Hy vlieg toe maar op, en gaan sit agter sy tafel. Ok skaars sy sit gekry, of die tante stoot die deur met haar een krukkie oop en kom in. Voor Gerbertjie nog `n woord kan sê, praat die ou vrou.

“Gerbertjie,” sê sy, “jy weet die liewe Vader het vir elke mens `n siel en `n agterwêreld gegee, maar vir daai twee skoonseuns van my, Muggievul en Versuip, het die liewe Vader net agterstewes gegee!” Daarmee draai sy om, en stap weer tok-tok by sy kantoortjie uit.

Hoe gaan die gesegde nou weer? Sommige mense weet net hoe om alles deur hulle alies te trek!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Pin It on Pinterest