Musiek en Liriek – 40

Innibos Nelspruit Hoërskool Ouditorium Wo. 26 Junie 18h00, Do 27 Junie 11h00, Vr. 28 Junie 16h00, Sa. 29 Junie 09h00

Die musiek-beweging MUSIEK EN LIRIEK vier vanjaar, 2019, sy 40ste verjaardag by Innibos.

24 Maart 1979 in die Laager van die Markteater-kompleks in Jhb het die nuwe Afrikaanse musiek sy eerste treetjie gegee. Daar was 80 teatergangers. N.a.l.v. Merwede van der Merwe se gelyknamige TV produksie van 4 programme met grootliks die musiek van Anton Goosen en Koos du Plessis uitgevoer deur Laurika Rauch, Mynie Grove, Des Lindberg en Sias Reinecke  het Rosa Keet en De Waal Venter die konsep van substansiële Afrikaanse musiek verhoog toe geneem. Van die kunstenaars wat hul eie werk of toonsettings uitgevoer het was o.a Jannie du Toit, Clarabelle van Niekerk, Louis van Rensburg,  Laurika Rauch (Kinders van die wind het later in 1979 verskyn en Anton Goosen (Kruidjie-roer-my-nie het in Maart 1979 verskyn). Beide liedjies het die amptelike treffersparades gehaal in 1979.

Met Musiek en Liriek is die Rubicon van Afrikaanse musiek oorgesteek om as teenvoeter te dien teen die klakkelose vertaling van Europese schlager-liedjies wat aan die orde van die dag was. Weens die sukses en media-belangstelling is ‘n latere weeklange reeks weer in die Laager gedoen asook teen die einde van die jaar. Daarna is dit na groter teaters soos die Arena in Rosebank, die Wena Naude en Unisa in Pretoria, Truk-toere deur Gauteng en Limpopo ( Transvaal) en Sukovs toere deur die Vrystaat. Later in die jaar was daar in die destydse SFW (Distell) amfiteater Stellenbosch ‘n twee-week speelvlak, ens. ‘n Weeklange simposium is by die S.AU.K. gehou om die nuwe tendens deeglik te bespreek. Kunstenaars wat later aangesluit  het, is o.a. Coenie de Villiers, Amanda Strydom, David Kramer, Annelie van Rooyen, Koos du Plessis, ens . Die media was gaande en die Engelse pers het dit New Wave Afrikaanse musiek gedoop. Later sou die Luisterliedjie afsplinter met ‘n gereelde tuiste in die Staatsteater in Pretoria en het Jannie du Toit ook sy Mageretastraat huiskonserte gehou waar onder andere Lucas Maree begin optree het..

Oor die 4 dekades sedert Musiek en Liriek het o.a. die Voëlvry-beweging (Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel), Houtstok (1990) die Wildebeestjare (Piet Botha, Jan Blohm, Adam Tas, Bacchus Nel ens), die Zoid-generasie (Karen Zoid, Gian Groen, Akkedis, Beeskraal, ens. ontstaan tot en met vandag waar ‘n horde nuweling-kunstenaars en bands (Tribal Echo, Churchill Naude, Refentse, Herman Kleynhans, Spoegwolf, Pietman Geldenhuys en andere)  in Afrikaans skep en dit lewendig uitvoer.

Dit is dus tyd vir feesvier.

Van die oorspronklike kunstenaars is Jannie du Toit, Coenie de Viliers en Anton Goosen en die nuweling Steffie Leroux gaan die verhoogproduksie uitvoer, gewapen met die talentvolle Schalk Joubert op bas-ghitaar asook die ghitaarmaestro Mauritz Lotz en met die hulp van Jannie du Toit se tjellis, Susan Mouton om die 4 dekades te vier.

“ Ek sien baie uit na die volgende 4 dekades van musiek en liriek”
– Anton –

“Dis wonderlik om weer saam met ou (en jonger!) musiekvriende die Musiek & Liriek-jare ná vier dekades te kan her-besoek.  Anton het voorgeloop, en maak nog met mening deel van ons musiek-landskap uit.  Jannie se voorkamer was my eerste openbare musiekverhoog, en ons loop sinsdien saam die pad.  Steffie is ‘n opwindende nuwe stem – ek sien uit om saam met haar te kan optree.  Die konsert is meer as ‘n blote homage aan ‘n musiekbeweging.  Dis ‘n versameling van die mooiste musiek en liriek uit die Afrikaanse musiekskat – moet dit nie misloop nie!”
– Coenie –

“Ek is baie opgewonde oor my optrede saam met my ou vriende Anton en Coenie, ter herdenking van ‘n uitsonderlike oomblik  in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis waarin ons al drie gedeel het. Dié Musiek en Liriek-Beweging het ‘n onuitwisbare invloed op Afrikaanse musiek gehad en was bepalend in ons al drie se solo-loopbane. Die jong ster Steffie le Roux tree saam met ons op om saam met ons te vertel van Musiek en Liriek se baanbrekerswerk, sy ryk nalatenskap  en haar eie werk wat in die voetspore daarvan volg. Die opwindende nuus is dat Andy Lubbe, die grootbaas van Innibos, ook sy verskyning op die verhoog gaan maak. Andy was saam met my lid van Trilogie en saam met nog ‘n lid, Francois (Morg) Jacobs, hoop ons om die gehoor te laat hoor waarom ons in 1996 die enigste Suid-Afrikaanse inskrywing was wat ‘n honorary mention prize in die American Song Festival verower het.”
– Jannie –

“Die ouer songs se omhelsing was vir my nog altyd warmer, en die gevoel daarvan nog altyd groter.
 Musiek wat nie in iemand anders se geskeurde jeans pas nie, maar oorspronklike direk-uit-die-hart musiek, dis die mooiste musiek om te sing. 
As jong kunstenaar is dit een groot vreugdevolle voorreg om saam met Anton, Jannie en Coenie ‘n paar tydlose treffers te deel.”
– Steffie –

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest