Napoleon van die Gariep – Stef Kruger

So op pad terug van die skool af, veldlangs, het ons klomp laaities klippe omgekeer, op soek na skerpioene. Kleintjies, grotes, swartes, bruines, rooies, man, enigeen was reg vir die groot geveg.

Al die kinders het dan die middag bymekaar gekom en ‘n groot vierkantige gat van so twee voet by twee voet gemaak. Twee skerpioene is dan kwaad gemaak deur hulle in twee aparte bruin papiersakke te sit en die sakke te skud. Dan is hulle in die arena uitgeskud, tog te aardig!

Ons het dit seker maar in die een of ander fliek gesien wat oor die Romeine gehandel het toe Caesar aan bewind was en so woes in die Kolosseum baklei het. Dan is daar ook lekkergoed op die wenner verwed. Dit was groot pret!

Dit was amper so ‘n groot gebeurtenis soos atletiek of nagmaal op Philippolis, die skerpioengeveg. Soos almal teen hierdie tyd weet, is Philippolis ‘n klein dorpie in die Vrystaat. As jy mooi mik, kan jy die hele dorpie op een foto inkry. Die aanmoediging was ongelooflik, en die gees ook.

Die Portugees was ook daar, moes daar wees. Sy pa het die kafee op die hoek gehad, en waar daar ‘n kafee is, was daar lekkergoed, en dis waaroor die hele bohaai gegaan het. Lekker tye en lekker herinneringe.

Een middag na skool en na so ‘n skerpioenvangery, loop ek en Apie, my vriend, elkeen met so ‘n bruin papiersak vol angelgedoentes –  ek met skoene en hy daarsonder.

Nou moet ek verduidelik. ‘n Oogpister is so ‘n tweeduimlange gogga, pikswart, met sulke groot wit kolle op sy rug. As hy sy agterlyf op jou draai, is hy dodelik akkuraat met daardie spuitstof.

Nou loop ek en Apie met ons fonds, en oor die pad kom een van daardie oogpisters na ons toe aangeloop. Apie tel ‘n handvol sand op en gooi die gediertetjie daarmee. Die gogga draai om en spuit vir Apie sekuur in die oë. Dit brand so erg dat hy die sak skerpioene laat val en dit gaan oop. Hy staan sy oë en vashou, kaalvoet, en een vir een kruip die skerpioene uit die sak, reg rondom sy voete. Seker maar die natuur se manier om ons terug te kry.

Ek het net een gil gegee dat hy moet stilstaan, my sakkie netjies neergesit en die gevaar getrotseer. Ek het mos skoene aangehad. Ek het Apie opgetel en op ‘n veilige plek sitgemaak, en so ver moontlik die skerpioene in die sakke teruggekry.

Ek het daardie dag soos Napoleon gevoel, so op my wit perd, al was dit ‘n swart, dikwiel “baaisiekel”.

Nodeloos om te sê, die gevegte het daar geëindig. Dit is maar dinge wat gebeur as jy ‘n standerd twee laaitie is.

En dis die waarheid!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Pin It on Pinterest