RSG se Fonnie du Plooy – Twana Roets

So rustig as wat sy stem oor die radio is, so rustig is Fonnie du Plooy. Ek het verwag om ‘n rustige mens te ontmoet, ‘n mens wat niks teen enige haas of spoed doen nie, en dit het ek gekry. ‘n Mens wat vertroue inboesem en mens vorentoe op jou stoel laat sit om na hom te luister, want wanneer hy praat, al is jy in watter gemoedstemming ookal, raak jy rustig in jouself en luister met oorgawe.

Fonnie het as alleenkind groot geword en op 11 jaar oud kry hy sy eerste radio as geskenk. Dit was die grootste geskenk ooit en word dit sy enigste geselskap. Hy het saam met die omroepers nuus gelees en sport uitgesaai. In sy matriekjaar, wanneer ons almal mos maar moet besluit wat ons met ons lewens gaan doen, was daar niks anders vir hom as om omroeper te word nie.

Daardie jare moes die manne egter eers diensplig doen, en is Fonnie na die Polisiekollege vir sy diensplig. Fonnie beskou sy tyd in die polisie as ‘n verrykende ondervinding en dit het hom baie gehelp om mens te word. Daarna gaan studeer hy onderwys in Bloemfontein en dit is ook waar hy sy vrou, Ria ontmoet. Hy en Ria kry albei poste by ‘n skool in Virginia. Die skoolhou was lekker maar die omroeper ding het nog steeds by hom gespook. In 1975 hoor hy ‘n advertensie oor die radio dat omroepers gesoek word by die Afrikaanse Radiodiens. Fonnie gaan doen ‘n stemtoets en slaag en op 1 Januarie 1976 begin hy as omroeper werk in Johannesburg.

Van Virginia na Johannesburg was ‘n yslike sprong en Johannesburg was net een te veel vir die Du Plooys. In Oktober 1976 gaan daar ‘n pos oop in Port Elizabeth en word Fonnie daarheen verplaas en nou, byna 30 jaar later, is hy nog steeds daar.

Fonnie en Ria het 2 dogters, Belinda en Tilana, en ja, daar is darem al kleinkinders ook wat Oupa netjies om hulle vingertjies draai.

Fonnie het in die dertig jaar alles uitgesaai wat daar uit te saai is. Van sport, nuus, dokumentêre programme en onderhoude. In hierdie tyd het hy bykans 9000 onderhoude gedoen, met baie interessante mense, en soms minder interessant.

Die mense met wie hy gepraat het, het hom opgehef en het hy baie geleer. Hy onthou veral mense soos Chris Barnard en Cliff Richard. Fonnie het ook as seremoniemeester opgetree vir kunstenaars en hy voel hy kan ‘n boek skryf oor ons kunstenaars se klein goedjies en gesegdes en manier van dinge doen wanneer hulle “backstage” is.

Fonnie bied ook baie musiekprogramme aan en enkeles van hulle is ‘n Raps voor Middernag op ‘n Saterdagaand op RSG asook Konsertinaklub. Hy is lief om sport uit te saai en rugby geniet voorrang bo krieket. Fonnie is ook op ‘n Dinsdagnag van 12 tot 5 te hoor op RSG en elke Dinsdagoggend het hy insetsel op Oggend op RSG waar hy ‘n onderhoud doen met ‘n mens wat oor sy pad gekom het en wat hy voel ‘n noemenswaardige storie het.

Hierdie onderhoude verg baie navorsing en gelukkig is Ria daar om hom te help en is sy, sy regterhand. Hulle doen omtrent alles saam en is ‘n gedugte span.

Fonnie is erg oor sy musiek en voel as mens ‘n deuntjie kan fluit, dan is dit ‘n ordentlike liedjie. Gelukkig stel hy sy eie speellys op vir sy programme en as mens luister kan jy hoor dit is musiek wat jou raak, musiek waarna jy maar kan luister.

Fonnie en Ria het darem tyd vir hulleself en vir ontspanning fliek hulle graag, eet uit en lees baie. Hy hou van outobiografieë en sê die boeke oor Frik du Preez en Mannetjies Roux is die beste sportboeke wat geskryf is, maar dit is maar sy opinie.

Fonnie is self ‘n ghitaarspeler en het ook al een of twee liedjies geskryf waarvan een, Wals van die Somer, deur Arina de Witt opgeneem is.

Fonnie is bekommerd oor die antagonisme van die Afrikaners onder mekaar en dan meer spesifiek van die kunstenaars onder mekaar. Daar is ‘n plek vir elkeen onder die son en die kunstenaars moet mekaar dit gun.

Die uitsaaidae van vroeër was baie meer gedissiplineerd, maar mens moet maar aanpas en as mens in die ou dae net een foutjie gemaak het, was jy op die rooi tapyt. Sy baas is nou Magdaleen Kruger en het hy baie respek vir haar en werk hulle lekker saam.

Fonnie sou graag ‘n boek wou skryf oor interessante mense, en ek sal die eerste een wees wat so ‘n boek sou koop. Die bietjie wat ek met hom gesels het, het my net lus gemaak om soveel meer van hierdie rustige maar eksentrieke mens te wete te kom. Hy is ‘n steunpilaar in die uitsaaiwese en sou sy stem eendag stil word, sal daar ‘n baie groot leemte in die uitsaaiwese wees.

Dankie Fonnie vir die klein kykie in jou lang en baie interessante uitsaailoopbaan. Dit was vir my ‘n voorreg.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Pin It on Pinterest