Stories van Ossewasrust – Marula Boom

Wie gaan jy roep ? Spookstoppers ? –

 

Ek wou gistraand die storie wil julle uitskryf maar net die gedagte om weer deur daardie nag se gebeurtenisse in my kop te gaan was te veel om op n donker aand aan te pak. Ek stel ook voor dat jy nie hierdie storie te laat in die aand lees nie.Hier op die Ossewa platteland kry die nag se donkerte nuwe betekenis. Hiers nie die liggies van die stad en aanhoudende verkeer nie. Nee, hier omsingel die donkerte vir jou en kyk hoe bang hy jou kan maak…

Ek was laat een aand in die ou Chev bakkie oppad terug plaas toe. Ek het gaan varke aflaai en aan die kuier geraak. Nou nie met die varke nie, maar met die vriendelike mense wat die varke koop. In hierdie eensame platteland sien jy nie baie mense nie en die keer wat jy wel iemand raakloop gebruik jy dit om n goeie kuier in te kry. Waar was ek nou weer…O ja, ek was oppad terug plaas toe, toe hierdie storie begin vorm neem.Ek het nie besef dat die brandstof so naby aan klaar is nie. Eers toe die ou bakkie daai eerste ruk gee het ek die erns van die saak besef.Die naaste dorp was myle weg. My voorland was om maar langs die pad af te trek en die aand so deur te bring met die hoop dat iemand hulpvaardig die volgende dag sou verbykom.

Dis op daardie bedroewe oomblik dat ek die lig van ʼn plaashuis van uit die hoek van my oog opgetel het. Ek kon die blydskap nie keer nie. Die ou karretjie moes my blydskap aanvoel want tot hy het weer nuwe lewe gekry.Ek het voor die huis tot stilstand gekom. Iemand loer by die verster uit. n Ouerige vrou maak die voordeur oop en stap flink na my. ‘Naand meneer, wat mekeer so laat in die aand?’ ‘Goeie naand mevrou, my motor se brandstof is op sy einde. Ek het maar gehoop…’ ‘Natuurlik sal ons help, bring jou bagasie in sodat ons uit die koue kan kom’ Sy was baie gaaf. Gesê ek het gekom asof ek gestuur is want haar man is ook uitstedig vir daardie aand en sy is ook so onrustig dat sy nie kan slaap nie. Na die lekkerste boontjie sop en vars boere brood was ek reg vir die bed. Sy het my gewys waar my kamer is vir die aand en my ʼn goeie nagrus toegewens. Ek het nie op my laat wag nie, kersie uitgeblaas en onder die warm komberse ingespring.

Klasvakie het net aan my ooglede begin hang toe begin dit gebeur. Ek hoor die aakligste kraak geluid gevolg deur ʼn “boo hoo” “boo hoo” geluid en dan trek iets my komberse af na die onderste punt van die bed toe. Ek het toe besef daar is iets of iemand saam met my in die kamer… Net toe ek dit waag om asem te haal gebeur dit weer. Die aakligste kraak geluid gevolg deur die “boo hoo” “boo hoo” geluid en dan die trek van die komberse. Ek het begin planne maak om baie vinnig uit die kamer uit te hardloop, maar ek kon nie roer nie. Elke keer as ek bietjie moed bymekaar geskraap het gebeur die ritueel van voor af. ‘Krrraaakkkkgggg, boo hoo boo hoo’ en die kombers wat met mening getrek word. Dit het nog so drie keer gebeur toe maak ek die nou of nooit besluit.

Soos weerlig skiet ek deur se kant toe. Opstaan! Wegstaan! Terugstaan! Toe ek die deur voor my oopswaai staan dit daar, reg voor my met n kersie in die hand. Die kers se lig vang die gesig hier reg voor my net so effens effens en dit lyk vir my of Dracula se ouma my kom haal! My knieë verander in suurlemoen jellie, my maag immigreer na my keel en al wat ek kon uitkry om te se was, ‘o vo’ Die laaste letter het verdwyn in die angsgyt van die aand. ‘Liewe seun, dit lyk of jy ʼn spook gesien het’ ‘O dankie tog! Dis tannie… Ek dog tannie is ʼn spook… ek hoor geluide wat kraak en ‘boo hoo’ maak en iets trek heeltyd aan die kombers… ek weet nie wat aan die gang is nie… ek gaan in die motor slaap…’
‘Rustig ou seun, word rustig. Laat tannie jou vertel dat jy niks het om oor bekommerd te wees.’

Sy vertel my toe dat dit die sinkdak is wat so kraak. Deur die dag is die son so warm dat die sinkdak effens krul deur die dag. In die aand is dit weer koud en die sinkdak krul dan weer terug en dis wat die onaangename geluid maak. Die ‘boo hoo’ is ʼn uil wat in die groot boom langs die huis woon. Die kombers trekkery is die werk van hulle klein hondjie, Snoepie, wat baie lief is daarvoor om warm te slaap en gereeld aan die kombers steel is. Dis juis vir Snoepie wat sy gesoek het toe sy voor die kamer deur gestaan het. Maar nog voor sy kom klop het ek die deur oopgeruk en in my skok toestand my verbeel sy is familie van die Dracula. So dis my spookstorie. Of is dit nou nie n spook storie nie ? Daar was nie n regte spook in die storie nie… Moet n spook storie n spook in he ? Ek weet nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Pin It on Pinterest