Wat die woord, VERSOENING , beteken, soos waargeneem – Fanus Rautenbach

‘Bring my ‘n dubbel heen-en-weertjie “ (ek giggel, dit is darem vakansie!) “’n jeneweertjie, maar in twee glase…in een glas genoeg ys en suurlemoen en niks in die ander glas nie. Bring ook ‘n blikkie, Chelè.”

Dis vakansietyd in die Kaap, en selfs die fliektye het verander: gedurende die jaar is die eerste vertoning om 12.00; daarna om 2.30 nm ; en dan elke twee uur tot laat. Maar in Desember begin dit al om 9.30….en gaan deur na 11.30…1.30 nm…3.30…en 5.30 nm….tot laat. As jy om 4.00 daar aankom, moet jy wag tot 5.30…Nou as jy moet jy wag…. die geselligste plek om te wag , is die plek waar hulle weet wat ‘n heen-en-weertjie is…en die plek wat die ansjovis op die roosterbrood die dikste in die dorp smeer.
Ek was al daar.

Daar is 121 houttafeltjies en 484 houtstoele. Ek het hulle getel. Maar dit doen mens in die winter. Vandag is daar te veel interessante mense, en toeriste. Dophou is ‘n somersport; skuins agter my sit ‘n voorbeeld van ‘n mooi man. Ek het gesien toe hy kom sit het. Hy loop soos ‘n bokser, wiegend, op die rondinge van sy voete. Hy is oor die ses voet, breë skouers, swart hemp en broek. Sy nek is gespierd, sy hare is kort geknip en hoewel hy niks ouer as veertig is nie, is dit grys. Setperk-kort en grys. Hy het ‘n goue Rolex aan sy regtergewrig. Onderstebo.

Hy maak Time oop en begin dadelik lees. Die kelner buk oor hom en hy bestel , sonder om na die spyskaart te kyk.
Intussen het die hoofspelers reg voor my plaas geneem : ‘n swartman in ‘n nuwe grys rooikappie-reënjas. Die kappie bly op sy kop. Die oorbel word dadelik langs die spyskaart neer gesit. Sy gesellin is blonderig, het ‘n blommetjieshemp aan, en ‘n naelskrapie. As sy gaan sit, wys haar geblomde fynstetjie se getande broekieskantjiekragie. Dis baie seksie. Sy is bruin gebrand deur Clifton se son.

Eers hang sy haar nuwe jakkie oor die leuning van een van die 482 stoele. Nou kom die selfoon op die spyskaart, maar dit gee dadelik ‘n SMS-tjankie, en sy tel op, lees, glimlag , en deel die telegramvonkie met haar tafelgenoot. Hy vat die oorbel by haar. Sy naels is lank en professioneel versorg. Die kelner buk vertrouelik oor hulle. Hulle bespreek belangrike sake. Die kelner gaan weg, bring ‘n maatjie saam. Die maatjie luister beskaafd. As hulle oor die prys kibbel, doen hulle dit baie beheersd.
Net voor die tweede kelner gaan, staan my bure albei op, vat hulle oorbelle, maar laat hulle motorsleutels daar lê. Blondie tel die nuwe jakkie op, kyk vraend na die kelner, hang dit weer netjies oor die stoel. Die skeletklets is duidelik: ‘ons gaan net ‘n draai loop…is dit veilig as my baadjie hier bly hang..?

As antwoord streel die kelner oor die jakkie, en glimlag gerusstellend. Terwyl die tweetjies weg is, word daar ‘n bottel skitterwater gebring, ‘n bruismelk, een klein bordjie met ‘n mes en vurk, toe gerol in ‘n papierservet, asook ‘n biefstuk-houtbord met ‘n getande vleismes, en ‘n vurk.
Een heen-en-weertjie later is hulle terug. Ek is steeds besig om my eie drankie te meng: ek gooi die tonikumwater in die glas met die ys, ek roer, skink kwart in die leë glas, drink stadig, smak met die lippe.

Blondie vat aan haar jakkie, net om seker te maak dat dit nog daar is. Rooikappie gaan sit en sy foon lui. Lui-lui druk hy die foon teen sy oor, vat ‘n diep sluk van sy wit bruismelk, gee vir Blondie aan, wat ook ‘n slukkie vat. Sonder om op te hou praat, vat hy sy meisie se waterbottel, skroef dit oop, skink in haar glas. Hy lig sy melk in ‘n saluut. Nadat hy gegroet het en die oorbel gebêre het, is daar weer’n kelner. Blondie kyk bewonderend in haar tafelgenoot se oë, terwyl hy bevele aan die kelner fluister.
Hy sê iets belangriks aan die kelner, hulle staan weer op, los weer die jakkie, maar hierdie keer vat hulle die motorsleutels saam. Ek wil weet hoe lank ek nog moet wag: ek kyk na die ou spoorweghorlosie wat net onderkant die naam bokant die kroegtoonbank hang. Die naam van die plek registreer eers nadat ek op die spyskaart na vandag se datum gekyk het : 16 Desember . Dingaansdag ! Sit, Stefaans, jou ouderdom hang uit ! Geloftedag! Fanus, waar was jy heel jou lewe ? Wat noem hulle dit deesdae ? Versoeningsdag . Dis hom ! Maar vir my sal dit maar altyd Dingaansdag bly.

Toe kyk ek weer na die horlosie en die naam van die restaurant :B. RIVER. Blood River? Ek giggel vir my eie kinderagtigheid. Bloedrivier is lankal vergete, hopelik ook vergewe. Dis nou werklik Versoeningsdag. Is my bure nie ‘n mooi voorbeeld daarvan nie. ? Daar sit hulle twee en paapsmul sorgeloos aan die calamari en filet mignon .

  • Ek doen wat ek altyd doen as ek moet wag : ek maak sommetjies.
    Sprinkelwater R7,00
  • Bruismelk R8,00
  • Calamari R45,00
  • Filet R70,00.
    Totaal : R130,00,
  • plus 10% diensfooi = R140, 00.

Nou gebeur dieselfde ding : Rooikappiekoning wenk die kelner nader. Blondie tel haar jakkie op, hang dit weer oor die stoel; almal glimlag vriendelik, die gentleman in die kappie wys, nooi haar met sy groot hand, met die mooi naels, ‘na jou, my darling !’ Hulle stap uit. Nie toilet toe nie. By Macdonalds verby. Uit.

Ek wag en wag en wag. Dit is later 17h23. Oor sewe minute begin Robert de Niro harte te smelt. In die Stad By Die See. Maar ek kan nie nou
loop nie. Die finale moet nog afgespeel word.

Dit vat nie lank nie. Die eerste kelner kom kyk na die borde wat amper leeg geëet is. Die dametjie kom en lig die jakkie op. Hang dit weer op.
Die hele Bloedrivier wag. My fliek gaan begin. Soos ek uitgereken het, is die advertensies ook reeds verby, iets van die verlede, want dit is 18h00, op Dingaansdag…e.e.e.Versoeningsdag.

Nou kom die versoening; ek weet hulle sal terug kom om te kom betaal, want daardie jakkie is splintenuut. Skielik weet ek ! Ek staan op, stap ewe bona fide na die jakkie toe, tel dit op, kyk na die etiket waarop die prys nog is, hang weer die jakkie op, grinnik en p na Die Stad Toe By Die See.
Ons het almal mooi geversoen.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest