Wat wil jy vir Kersfees hê? – Lucas Maree

“Wat wil jy vir Kersfees hê?”

Hierdie vraag het ek al soveel keer gehoor en elke keer het ek ‘n ander antwoord gegee, maar een ding wat altyd maar dieselfde gebly het, was die feit dat die geskenk nooit presies was wat ek gevra het nie. Daar het altyd iets kort gekom.

Toe ek vyf jaar oud was, wou ek vreeslik graag ‘n treinstel hê – soos die een wat Basie van der Bent se pa gehad het. Dit het ‘n spesiale kamer in hulle huis volgestaan, met tonnels en berge en karretjies en alles. ‘n Wêreld in die kleine. Ek kon myself daarin verloor. Daar was selfs mannetjies op die perron wat gelyk het of hulle gesprekke met mekaar voer. Te pragtig vir woorde. Daar was ‘n melkman tussen ‘n klomp miniatuurkannetjies. Daar was ‘n kondukteur met ‘n vlag: ‘n groene! Daar was ‘n tannie met ‘n stootwaentjie en ‘n klein babatjie ingeverf. Daar was ‘n man met ‘n groot, bruin koffer wat swaar aan sy arm gehang het, maar my gunsteling mannetjie was die een met die seuntjie, by die kaartjieskantoor. Ek het my altyd verbeel dat ek hy was, die man wat vir die kind ‘n kaartjie koop om met die trein op vakansie te gaan.

Ek het ‘n trein gekry, maar dit was van blik, en ‘n mens moes dit opwen. Daar was nie berge en mannetjies op perronne nie. Die spoor het ook nie deur tonnels gegaan nie, maar het ‘n agt gevorm, met ‘n kruis in die middel. Dit het nie met elektrisiteit gewerk nie. My pa het gesê hy koop nie goed wat met batterye werk nie.

Toe ek ses was, wou ek ‘n modelvliegtuig hê wat regtig met petrol vlieg. Ek het hulle Sondae by die Wonderboom lughawe gesien. Daar was ‘n klub vir miniatuurvlieëniers. Weer was dit die menspoppies aan die binnekant wat my verbeelding aangegryp het. Hulle het regtig gelyk asof hulle diep in gesprek oor tegniese goeters soos wolke en turbulensie was. Dit was te wonderlik om te dink dat daardie mannetjies regtig op Sondae kon vlieg.

My geskenk was ‘n blik Boeiing met geverfde vensters. Dit het ook nie met batterye gewerk nie.

Ek het daardie Kersfees toe verder die fout gemaak om vir Mammie te vra waarom net Kersvader vir ons geskenke gee, en nie hulle ook nie. Toe vertel sy my van Vader Krismis, en sommer van die tandmuis en die Paashasie ook. Rien, my sussie, het per ongeluk gehoor en die hele dag gehuil omdat daar nie meer ‘n Kersvader was nie. Nou was daar nie meer illusies nie.

Toe word ek groot, en as mense my nou vra wat ek graag vir Kersfees wil hê, gee ek sogenaamde slim antwoorde: “Liefde.”
“Kos vir arm mense?” So iets. Ek het selfs ook al vir wêreldvrede gevra. Ook hierdie geskenk het te kort geskiet, maar dit was ook nie asof ek werklik verwag het om te kry wat ek vra nie. My antwoorde op sulke vrae was met sinisme gelaai: akademies en bitter soos net ‘n voortvarende student s’n kan wees wat dink dat hy al die antwoorde het. Ek het darem opgehou om my Ma-hulle daarvoor te blameer.

Toe kry ek ook kinders en leer ‘n klomp nuwe lesse. Die belangrikste was om nie vir iets te vra nie. Hoe minder die verwagting, het ek agtergekom, hoe groter die verrassing!

Hierdie jaar het Monica matriek geskryf. In die hittige somer was ons met Kersinkopies besig, toe ek haar hoor kla: “Ek weet nooit wat om vir Pa te koop nie, want hy het alles..!“ Dit was so waar, het ek gedink. Ek hét alles: liefde, gesondheid, relatiewe vrede in die huis. Ek kry gereeld drukkies by my dogters, al moet ek soms speels daarvoor bedel.

Daar is tog niks meer wat ek wil hê nie.

Behalwe…tyd!

2003 November Vonk Tydskrif

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Pin It on Pinterest