Die geliefde Suid-Afrikaanse kunstenaar Arno Jordaan bring op 6 Desember 2024 sy nuutste enkelsnit, “Vêr Inni Wêreld Pietie,” na die wêreld – ’n vars spin op ’n ou Afrikaanse gunsteling wat beloof om nostalgie en goeie tye te laat herleef.
Hierdie tong-in-die-kies Desember-treffer is geïnspireer deur daardie een vriend wat almal van ons ken: die komiese Pietie. Hy is die ou wat altyd grappies uitlok, wil braai maar vergeet om vleis te bring, en ’n lekker kuier verkies—maar nie by sy eie huis nie! Met humor en warmte gee Arno erkenning aan hierdie unieke karakter, terwyl hy luisteraars aanmoedig om soms net soos Pietie te wees: minder bekommerd oor wat mense dink en meer ingestel op die lekker dinge in die lewe.
“Vêr Inni Wêreld Pietie” kombineer die nostalgiese klanke van die geliefde lied “Vêr Inni Wêreld Kittie” met moderne, aansteeklike melodieë wat ongetwyfeld in jou kop gaan vassteek. Saam met Kobie Koen van Vonk Musiek en Tertius Human van CoolerBox Studios, het Arno hierdie liedjie tot lewe gebring. Die keuse om hierdie FAK-treffer nuwe lewe te gee is nie toevallig nie – 2025 merk 100 jaar van Afrikaans, en Arno sien hierdie liedjie as die perfekte manier om dié mylpaal te vier.
“Dis net ’n lekker Desember-oorwurm,” sê Arno. “Ek wil hê mense moet hierdie liedjie kliphard speel in elke vakansiedorp, op elke strand, en langs elke braaivleisvuur. Dit gaan oor die goeie tye saam met vriende en familie, en miskien ook oor om minder ernstig oor die lewe te wees.”
Hierdie snit, met sy aansteeklike ritme en treffende lirieke, weerspieël Arno se vermoë om musiek te skep wat beide vermaak en blywend byval vind. Dit is ’n viering van vriendskap, humor, en die eenvoud van lekker tye.
Laai “Vêr Inni Wêreld Pietie” vanaf 6 Desember 2024 af op alle digitale platforms en maak seker dit is deel van jou Desember-speellys.
Vir meer inligting, besoek Arno se sosiale media platforms en bly ingeskakel vir opwindende nuus oor sy musiek in 2025!
Geniet die liedjie op die platform van jou keuse – https://linktr.ee/arnojordaan