Sangers Henning Joubert en Tino het uit twee verskillende stasies vertrek toe hulle, hul loopbane in die musiekbedryf begin het, maar op hul nuwe enkelsnit, Transkaroo, het die twee manne hul stemme op een spoor gelê om ‘n nuwe weergawe te skep van die gewilde ou Herman Holtzhauzen treffer.
Henning was ‘n lid van die Revolutionere Afrikaanse Rock Groep, Beeskraal en het gereeld saam met die orkes getoer. Tydens die toere het Henning heelwat musikante ontmoet wat hom genader het om vir hulle kitaar te speel. Hy het later weggebreek van Beeskraal en begin speel op ‘n vryskutbasis vir kunstenaars soos William Blackrose, Steyn Fourie en ‘n paar “cover bands”. Gedurende ‘n optrede in London, het Henning en Dozi ontmoet en ‘n maand later het hy op ‘n permanente basis saam met hom begin toer. Volgens Henning was Dozi sy diensplig.
Hy het later ook vir Robbie Wessels en Bok van Blerk gespeel, maar in 2001 het hy die Sakkie-Langarm-Boereorkes kompetisie gewen en het dit hom gemotiveer om ‘n solo-loopbaan aan te pak. Hy het verskeie albums vrygestel ondermeer; Vuuraansteek Boeremusiek, Spookfontein en Namib Nagte.
Tino aan die ander kant is nog redelik groen in die musiekbedryf. Tino oftewel Tinotenda Singe is in 2002 in Harare, Zimbabwe gebore. As kleuter het hy saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis en hulle in Swellendam gevestig, en woon tot vandag nog op hierdie plattelandse dorp in die Wes Kaap.
Tino was nog altyd lief vir Afrikaanse musiek en het toe besluit om sy talent op TikTok te deel. Sy aanhangers op sosiale media het hom leer ken met covers van kunstenaars soos Jan Blohm en Spoegwolf, maar het in 2021 sy eerste Afrikaanse enkelsnit Katariena Malherbe, geskryf deur sanger en Akteur Hennie Jakobs, vrygestel.
Beide Henning en Tino is geteken by Vonk Musiek en na platemaatskappy die twee aanmekaar voorgestel het, het die twee besluit om saam ‘n projek aan te pak. Henning was op daardie stadium reeds besig om aan ‘n verwerking van Transkaroo te skaaf en hy het vir Tino genooi om dit saam met hom op te neem. Tertius Human van Coolerbox Studios het al die tegniese aspekte, opnames en finale meng hanteer.
Die twee het dit reggekry om ‘n psalmagtige weergawe van ‘n bekende ou treffer wat by jou sal spook te skep. Tino en Henning se bariton stemme harmoniseer langs mekaar soos ‘n trein se spore en die eindbestemming is hoendervleismooi.