Vonk Musiek

NUUS

“HEY KAROLIEN”: FANUS PIENAAR STEL SY NUUTSTE ENKELSNIT VRY:

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar en musikant, Fanus Pienaar, is terug met sy jongste enkelsnit, “Hey Karolien,” wat op 16 Augustus 2024 op alle digitale platforms beskikbaar sal wees. Hierdie vrolike en aansteeklike liedjie ondersoek die dinamika van die manlike fantasie en die soeke na die ideale vrou—’n tema wat baie mense sal herken en daarmee sal kan identifiseer.

Volgens Fanus is “Hey Karolien” geïnspireer deur die universele aantrekkingskrag wat mans voel wanneer hulle iemand spesiaal in die oog het. Die karakter van Karolien is fiktief, maar sy verteenwoordig daardie beeld van die ideale vrou wat elke man in sy gedagtes het. “Jy het al self dalk na haar kant toe geloer in ‘n kuier plek of by die see,” sê Fanus. Dit is hierdie tipe aantrekkingskrag wat die liedjie dryf—die idee dat elke man daardie perfekte beeld in sy kop het, selfs al bly dit net ‘n fantasie.

Vir Fanus het die skryf van “Hey Karolien” ‘n nostalgiese element. Hy herinner aan sy jong dae op hoërskool, waar die mure van sy kamer bedek was met posters van helde en pragtige modelle soos Roxy Louw en Candice Hillebrand. “Nie almal is gelukkig om met ‘n sportmodel op te eindig nie,” lag hy, “maar die droom bly altyd leef.” Die liedjie verwoord hierdie realiteit—dat die soeke na die perfekte vrou dikwels net ‘n droom bly, en dat die lewe dikwels iets anders inhou as wat ons as jong mans voorgestel het.

Die kernboodskap van “Hey Karolien” is eenvoudig maar kragtig: Moenie jou tyd mors op oppervlakkige aantreklikhede nie. Fanus se eie ervaring het hom geleer dat daar meer in die lewe is as net die mooi gesiggies waarop ons ons oë rig. Hy moedig luisteraars aan om nie hul harte te mors op iemand wat dalk nie die moeite werd is nie, want daar is soveel meer in die lewe wat werklik betekenisvol is. “Droom mag jy, maar maak seker jy mors nie tyd op die verkeerde een nie,” sê Fanus.

Met “Hey Karolien” bring Fanus nie net ‘n lekkerluister liedjie nie, maar ook ‘n herinnering aan die belangrikheid van dieper verbinding en die keuses wat ons maak in ons soeke na liefde.

Besoek jou gunsteling digitale musiekplatform op 16 Augustus 2024 om na “Hey Karolien” te luister en die nostalgiese reis saam met Fanus te beleef.

Geniet die liedjie op die platform van jou keuse – https://linktr.ee/fanuspienaar

PUBLISITEIT & BEMARKING:

Vonk Musiek

Kyra Grobler

Sel: 072 107 0069

E-pos: kyra@vonkmusiek.co.za

E-pos: pr@vonk.co.za 

PLATEMAATSKAPPY:

Vonk Musiek

Francois Roux

Tel: 011 823 1771 / 061 312 2160    

E-pos: francois@vonkmusiek.co.za 

Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Shopping Cart
Send this to a friend