Vonk Musiek

NUUS

KOOS KOMBUIS VERSKYN VOËLVRY OP YOUTUBE.

Koos Kombuis se album, Elke Boemelaar Se Droom is nou beskikbaar op Youtube in die vorm van liriekvideos wat kitaar akkoorde insluit.

Vanaf die Rooi kombuis tot op Lisa se balkon het Koos kombuis se musiek soos ‘n koppie appelkoostee getrek en sterker geword. Die Boer in Beton het ‘n groot impak op Afrikaanse musiek gehad en sy Elke Boemelaar se droom album het groot in deels die weg gebaan vir wat kontemporêre Afrikaanse musiek kon word.

Die album is in 1994 by Downtown Ateljees in Johannesburg opgeneem onder leiding van liedjieboer Anton Goosen en die bekroonde Peter Pearlson as ingenieur. ‘’Ek dink nie ek het al so hard aan die regie van enige album gewerk soos hierdie een nie. Daar was verskillende fasette in Koos se skryfwerk en ek wou sy liedjie-kuns so holisties as moontlik probeer uitstal op een album o.a. sy liefdesliedjies, sy humor, die meer kontroversiële liedjies,’’ onthou Goosen.

Elke Boemelaar Se Droom was  Koos se eerste opname op CD en die resultaat was ‘n ikoniese baken in Afrikaanse musiek. Van kultus-status na popster. Dit is waarom Anton Goosen in samewerking met Vonk Musiek besluit het om op 27ste herdenkings jaar van die album dit vir die eerste keer digitaal beskikbaar te stel.

“Radio Kombuis is terug! Ja, dit is vir my ‘n riem onder die hart dat hierdie album  nou digitaal beskikbaar gaan wees. Dit herinner my aan daardie eerste geskiedkundige samewerking tussen my en Anton Goosen,’’ het Kombuis gedeel

Vandag is niemand seker of “Elke Boemelaar se Droom” die laaste Afrikaanse album van die Ou Suid-Afrika of die eerste Afrikaanse album van die Nuwe Suid-Afrika was nie, maar dit gryp terug na van die seerste, deurmekaarste, en tog ook mees kreatiewe oomblikke van ons lewens. Dit is waarom dit uiters belangrik was om te verseker dat die musiek wat op hierdie album saamgevat word behoue sal bly.

As deel van die Kuratorskap van hierdie album is daar besluit om liriekvideos saam te stel van die verskillende liedjies en dit op youtube beskikbaar te stel. Hierdie liriekvideos sal ook kitaar akkoorde insluit sodat mense by die huis kan saam speel. Die videos wat saamgestel is sluit in Travel in Staail, Boer In Beton, Bicycle Sonder Slot, Kytie, Rooi Kombuis, Prayer For Port St. Johns, Ons En Hulle, Kaptein Koebaai, Lisa Se Klavier, Springbok Held, 30 Silwer Sikkels, Johhny Is Nie Dood Nie, Babilon en Voete Van Johannesburg in.

Ter vieringe van die bekendstelling het Vonk Musiek besluit om ‘n kompetisie te loots. Aspirante musikante word uitgedaag om hulle eie weergawe van een van hierdie liedjies op te neem om in aanmerking te kom ’n kans te staan om ’n Yamaha F-310 akoestiese kitaar te wen.

Hoe om deel te neem.

  • Alle inskrywings moet digitaal gelaai word op sosiale media (Youtube, Facebook, TikTok of Instagram) 
  • Tag Vonk Musiek(op sosiale media)
  • Stuur die skakel van jou weergawe op whatsapp na 061 3122 160 of per epos na francois@vonkmusiek.co.za . 

Vir Kombuis is dit verblydend dat die album wat bekend staan as sy eerste kommersiele deurbraak nou digitaal beskikbaar is. “Dit is veral verblydend dat ‘n liedjie soos “Die Rooi Kombuis”, geskryf deur my en getoonset en geproduseer deur Anton, nie verlore gaan nie. Vir die eerste keer in ‘n kwarteeu gaan “moenie aan daai knoppie raak nie!” weer meme-status behaal! Dankie vir die memories,’’ het hy gedeel.

Shopping Cart
Send this to a friend