God is groter as enige struikelblok; Hy oorwin elke styd. Dit is die tema van Morné se enkelsnit DIE OORLOG BEHOORT AAN U.
Morné se nuwe lied is geïnspireer deur die verhaal in 2 Kronieke 20. Josafat vrees vir sy lewe omdat die Moabiete en Ammoniete hom wil doodmaak. Hy roep tot die Here om hulp. Die Here maak dit duidelik dat die oorlog se uitslag nie deur Juda bepaal word nie, maar dat dit ’n saak vir God is.
Hierdie opboudende lied, geskryf deur Phil Wickham en vertaal deur Zani en Morné Coetzee, wil die luisteraar herinner aan die woorde wat ons lees in 2 Kronieke 20: “Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, die Here sal by julle wees.”
Die lirieke is vertroostend met die versekering dat God altyd alles ten goeie laat meewerk.
DIE OORLOG BEHOORT AAN U is vervaardig deur Tertius Human. Die lied plaas jou op die oorlogsveld. Die lied los jou met dankbaarheid, afhanklikheid en verligting. Die sterk dromklanke beklemtoon die ernstige oorlogstema van die lied.
Morné wil graag die Here se naam groot maak met sy musiek. Sy grootste wens is dat mense wat daarna luister weer opnuut hul vertroue in die Here sal plaas.
Behalwe vir Morné se sololoopbaan, is hy ook ’n lid van die groep Virander wat in 2019 bekendheid verwerf het met hul lied SING ’N HALLELUJA toe dit die Maroela Media top-40 gehaal het en goue status op YouTube verower het.
Morne is ’n voltydse grafiese ontwerper en fotograaf, en dien reeds vir talle jare as aanbiddingsleier in sy plaaslike gemeente. Sy hoop is dat meer gospelsangers se musiek in kerke gebruik sal word om so aan die koninkryk van die Here kan help bou.
Morné se doel is om mense op te bou, te inspireer en terug na die Here te lei. Hy besef die pad na sukses is harde werk, nederigheid en vertroue op die Here. “Hou aan droom, moenie opgee nie en bly op jou knieë,” verduidelik die sanger.
DIE OORLOG BEHOORT AAN U is tans beskikbaar op alle digitale platforms.
SOSIALE MEDIA
Facebook:
Instagram: