Neil Nachtrein se jongste enkelsnit, Altyd Jonk, is ‘n roerende lied wat luisteraars terugneem na die sorgelose dae van hul jeug – ‘n tyd van kaalvoet rondloop in die oggendson, eerste liefdes en laatnag avonture. Dit is ‘n lied wat herinneringe oproep, maar ook besin oor die onvermydelike realiteite van grootword en verlies.
Volgens Neil is die lied geïnspireer deur sy eie kinders. “Soos wat jy jou eie kinders sien grootword, onthou jy meer van jou eie kinderdae,” sê hy. “Ek dink dit is hulle wat die saadjie geplant het om hierdie lied te begin skryf.” Die lirieke weerspieël ‘n kombinasie van persoonlike ervarings en algemene waarnemings – ‘n verhaal wat vir enigeen wat al ooit aan hul kinderjare teruggedink het, bekend sal voel.
Die lied begin met ‘n nostalgiese toneel: “die oggendstond gooi goud op die grond, ons twee loop kaalvoet daarop rond.” Vir Neil simboliseer dit die begin van iets nuuts – ‘n lewe vol moontlikhede en onskuld. “As jy klein is, dink jy nie daaraan om oud te word nie,” verduidelik hy. “Jy dink net daaraan om groter te word. Maar eendag word daardie dae net herinneringe.”
Die refrein se hartseer waarheid – “vir altyd jonk is vir altyd verby” – spreek tot ‘n universele realiteit: daar kom ‘n tyd wanneer ons almal besef dat die sorgelose dae van ons jeug iets van die verlede is. “Dit verskil seker van persoon tot persoon,” sê Neil. “Maar dalk is dit wanneer jy vir die eerste keer jou eie huur moet betaal of jou eie inkopies moet doen. Of dalk is dit ‘n hele era wat verby is.”
Die lied speel ook in op die verlies van onskuld en die onvermydelike veranderinge wat die lewe bring. “Ons almal word gekonfronteer met groei en verlies,” sê Neil. “Die een is ‘n keuse, die ander een is nie ‘n keuse nie.”
Die nostalgiese atmosfeer van Altyd Jonk word versterk deur sy klank – ‘n mengsel van Afrikana en folk, met ‘n melancholiese ondertoon. “Ons het ‘n minor en ‘n seventh akkoord ingesluit om ‘n sekere emosie te vang,” verduidelik Neil. “Die walking bass laat dit voel asof jy saamstap op die ritme van hoe die lewe verander.”
Verder het hy ‘n ouer styl van kitaarspel, genaamd Travis picking, ingespan om ‘n “terug-in-die-tyd” gevoel te skep. Dit is verder beklemtoon deur ‘n ou Harmony-kitaar met snare uit die sewentigs.
Hoewel Altyd Jonk sterk op herinneringe en verlore tye fokus, dra dit ook ‘n dieper boodskap. “Op die ou end is die belangrike vraag: het jy die Here ontmoet?” sê Neil. “Maak nie saak hoe jy grootgeword het, waar jy grootgeword het en wat in jou lewe gebeur het nie – dit is wat regtig saak maak.”
Vir hom is nostalgie ‘n sentrale tema in sy musiek, iets wat sy eie kunstenaarsnaam geïnspireer het. “Ek het in 2006 op ‘n plaas in Fouriesburg gebly, naby ‘n treinstasie,” vertel hy. “Snags het ek wakker geword van die trein wat verbygaan en ‘n diep, heimweë-gevoel ervaar. Dit het my laat besluit ek wil musiek maak wat daardie selfde emosie in mense wek.”
Met Altyd Jonk bewys Neil dat hy ‘n meester is van storiegedrewe musiek. Hy beplan om voort te gaan om sulke persoonlike liedjies te skryf. As hy ‘n brief aan sy jonger self kon skryf, sou sy boodskap eenvoudig wees: “Slow down en skryf dit neer.”
Vir luisteraars wat hulself in die lirieke van Altyd Jonk herken, bied Neil troos en perspektief. “Goed of sleg, mooi of lelik – niks gebeur tevergeefs nie. Leer en groei.” Met hierdie lied gee hy luisteraars ‘n oomblik om stil te staan, terug te kyk, en dalk selfs ‘n traan weg te vee oor dae wat nie meer is nie – maar altyd in ons harte sal leef.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za