Vonk Musiek

NUUS

Neil Sandilands is “versigtig opgewonde” oor sy nuwe radio-enkelsnit wat handel oor ‘n poskaart vanaf sy Oupa Joe Sandilands aan sy Ouma Nettie tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die eerste radio-enkelsnit van die bekende internasionale akteur, sanger en liedjieskrywer, Neil Sandilands is onlangs bekendgestel en die werk wat aangebied word is van die hoogste gehalte.  Dit dwing jou tot stilte,  laat jou dink en máák jou luister.

Sandilands se lied, Huistoe, handel oor ‘n poskaart wat sy Oupa, Joe Sandilands vir sy Ouma Nettie tydens die Tweede Wêreldoorlog gestuur het.  Hy vertel in sy eie woorde:

Ek is versigtig opgewonde oor die bekendstelling van hierdie liedjie.

Verlede jaar, September 2022, was ek in Sydney, Australië toe die liedjie kom aanklop het. Ek het ’n poskaart onthou wat in ons huis was, wat Oupa Joe Sandilands vir Ouma Nettie gestuur het ten tye van die Tweede Wêreldoorlog. Natuurlik was ons eietydse belewenis onthuts deur die moontlikheid van ’n Derde Wêreldoorlog. Ek verwys na die onstabiliteit wat die wêreld beleef het (en steeds beleef) met die situasie tussen die groot moonthede Rusland, die VSA en China rondom die Oekraïne vraagstuk.

Oupa was ’n tenkbestuurder vir die Suid-Afrikaanse troepe tydens die slag van Tobruk, Libië, 1942. Dié poskaart, nou vergeel deur tyd, was ’n foto van die piramides in Egipte en regs bo is daar ’n inleg van Oupa Joe met sy militêre baret en links bo, sekerlik die enigste foto wat Oupa van sy beminde, Ouma Nettie, gehad het. Moontlik het die bestuur van die operasie dit goedgedink om vir al die troepe so ’n poskaart te maak om aan hul geliefdes te stuur, want ek ken nog ’n persoon met ’n soortgelyke poskaart. 

Oupa Joe het nie die geleenthede gehad wat ek kon geniet met betrekking tot skool en geletterdheid nie, maar hy kon sy naam skryf: Josef Willem Sandilands. Ek dra sy name. Ek het gewonder wat hy graag sou wou skryf vir Ouma Nettie. ’n Gedig? ’n Liefdesverklaring? ’n Liedjie? Ek het gedink oor die hunkering na ongedeerde tuiskoms en vereniging met die mense wie jy lief het, die omgewing wat jy lief het, die taal en kultuur wat jy ken en lief het. Ek kon op ’n manier identifiseer.

Die tweede element wat ook van waarde is, met die skepping van hierdie liedjie, was ’n persoonlike belewenis ver van Suid-Afrika op die eiland van Kauai, in die Stille Oseaan. Ek was daar rondom 1997. Dit is letterlik die anderkant van die planeet. Die pad hou op by Ke’e strand. Dis nie menslik moontlik om verder te ry of verder weg van jou oorsprong, Randfontein, Suid-Afrika, te wees nie. Toe ek weer in die kar klim en daar wegry, het die gedagte by my posgevat, dat dit nie saakmaak of ek noord, oos, wes of suid bestuur nie, op ’n manier reis ek “huistoe”. Terug na oorsprong.

Met ons onlangse toer “Woorde en Akkoorde na die Noorde” het hierdie liedjie dit self begin uitsonder as een van die gunsteling liedjies vir die gehoor. Ek dink dis omdat daar universalisme aan die gedagte van tuiskoms, hunkering, verlange, en in mees eenvoudige terme, “huis” is.

Die openingslyn is: “By Giza, in Egipte, kyk Josef in die lens…”

Ek deel graag, Huistoe.”

Huistoe is nou op alle digitale platforms beskikbaar, tesame met die eerste enkelsnit, Verkenner, wat reeds ‘n week gelede beskikbaar gemaak is. Beide hierdie snitte kan saam met ‘n skakel afgelaai word waar jy die volle album wat op 1 Mei beskikbaar sal wees kan gaan merk.  Kyk gerus uit want daar sal elke week nog ‘n enkelsnit bekendgestel word vanaf hierdie merkwaardige opkomende album.

Kry dit hier: 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

PUBLISITEIT EN BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos:  alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Shopping Cart
Send this to a friend