Vonk Musiek

NUUS

NICHOLIS LOUW SE NUWE LIED IS ’N MOEILIKE GESPREK MET ’N GELIEFDE

Wanneer jy ’n SANDKASTEEL bou, kan jy van die golwe vergeet solank jy jou oë op die gety hou. Só is verhoudings ook.

Nicholis Louw se nuutste enkelsnit, SANDKASTEEL, vertel die storie van só verhouding. Die lied is ’n ernstige gesprek met ’n geliefde. Daardie gesprek wat jy voer wanneer die verhouding soos ’n SANDKASTEEL in die see verdwyn om nooit weer in sy glorie herstel te word nie.

Nicholis Louw het in 2003 as solokunstenaar begin optree. Vandag is hy ’n Suid-Afrikaanse huishoudelike naam. Hy het bekendheid verwerf met treffers soos: ROCK DAAI LYFIE, SIT DIE LIG AAN en NET DIE EEN VIR MY.

Aanhangers kan hulle gereedmaak om verras te word deur dié nuwe lied. Nicholis, wat bekend is vir sy pop-rock musiekstyl, bewys weer dat hy een van Suid-Afrika se veelsydigste kunstenaars is deur SANDKASTEEL in ’n country-styl aan te bied.

Die lied is eg aan die genre en skroom nie om emosies op ’n rou en egte country-wyse aan te spreek nie. Die lirieke vertel ’n storie wat jou sal intrek om tot aan die einde te bly luister.

SANDKASTEEL is vervaardig deur Tertius Human en Nicholis Louw, en beloof om (soos vorige treffers) vinnig ’n plek op speellyste en die radio te vind.

Nicholis spog reeds met veelvoudige dubbel-platinumalbums. Hy verduidelik dat SANDKASTEEL ’n nuwe hoofstuk in sy lewe is. Alhoewel dit ’n nuwe rigting vir hom is, pas die lied steeds in tussen sy ander liedere.

Nicholis se diverse musiekstyl is te wyte aan sy wye musiekbelangstelling. Hy put inspirasie uit ’n groot poel wat die volgende kunstenaars insluit: Bon Jovi, Aerosmith, Def Leppard, Dmitri Hvorostovsky, Placido Domingo, Andrea Bocelli, Kenny Rogers en Don Williams.

Hy beskryf sy loopbaan as alles behalwe vervelig. Hy spog met ’n repertoire van liedere in bykans elke genre en taal, van pop, rock en opera tot jazz.

Verder is hy deel van die groep 4Werke saam met Elizma Theron, Liezel Pieters en Ray Dylan. Dié groep spog reeds met vier albums waarvan drie goue status bereik het. Hy is bekend as een van die KRONE-kunstenaars en sy talent kan op 7 KRONE-albums gehoor word.

Wanneer jy vir Nicholis vra waarom hy steeds musiekmaak, is sy antwoord eenvoudig: “Eerstens wil ek die Here verheerlik met my talent, en tweedens wil ek vir mense iets gee waarmee hul hulself kan vereenselwig. Om te weet iemand kan hulle emosies deur my lirieke uitdruk, is vir my ’n groot eer en verantwoordelikheid.”

SANDKASTEEL bewys weer dat Nicholis Louw sterk op pad is om een van ons land se musieklegendes te word.

SANDKASTEEL is beskikbaar op alle digitale platforms.

SOSIALE MEDIA

Shopping Cart
Send this to a friend