Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Zaan Sonnekus, deel sy nuutste enkelsnit, “Oor Jou,” wat op 8 November 2024 op alle digitale platforms vrygestel is. Die liedjie bied ’n intieme blik op die verlange en die pad wat elke kunstenaar soms moet stap, tussen die avontuur van die verhoog en die heimwee na dié vir wie hy die liefste is.
“Oor Jou” is geïnspireer deur ’n sonsondergang wat Zaan en sy band gesien het op pad na ’n vertoning. Zaan se band bestaan uit Duard Musk op bass kitaar, Kyle Botha op elektriese kitaar, Luke Smith op die klawerbord en Rex Maree op die tromme en hulle elkeen voeg by tot die ongelooflike optredes waarvoor Zaan so bekend is.
Die reis na elke nuwe stad en verhoog bring vreugde, maar kan ook ’n gevoel van verlange teweegbring. “Om shows te speel, is vir my die beste ding in die wêreld,” vertel Zaan. “Maar die pad kan soms lank en krom raak. Dis dan wanneer jy besef hoeveel jy die mense mis vir wie jy die liefste is, al is jy net ’n paar dae weg.” Hierdie diep verlange en die impak van die “pad-lewe” het Zaan in sy lirieke ingeskryf, wat elke luisteraar se hart sal raak.
Die skryfproses vir “Oor Jou” is ’n refleksie van Zaan se kreatiewe roetine. Tydens lang ritte na shows tik hy gereeld woorde in sy notas op sy foon, of neem hy idees op in stemnotas. Die idee vir hierdie lied het presies so na vore gekom na ’n vertoning in Bloemfontein. “Al die liedjies wat ek skryf, is ’n klein blik op wie ek is,” verduidelik Zaan. “En ‘Oor Jou’ is veral persoonlik – dis ’n verlange wat in kontras staan, en die woorde ‘Ek is oor jou, al gaan alles steeds oor jou’ weerspieël dit perfek. Die verlange is intens, selfs as alles steeds om daardie persoon draai.”
Zaan hoop dat die luisteraars hulle eie stories en gevoelens in die liedjie sal ontdek. Deur sy lirieke eindig hy sommige gedagtes met ellipses, wat beteken die luisteraar word genooi om die res van die storie in te vul. Dit is hierdie universele menslike emosie wat “Oor Jou” so treffend maak, want die pad van ’n kunstenaar is nie altyd maklik nie. “Ek sou elke dag weer die musiekbedryf kies,” sê Zaan, “maar dit is nie so maklik soos wat mense dink nie. Ek skryf liedjies oor jou, terwyl ek op die pad is.”
“Oor Jou” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, en luisteraars kan uitsien na nog vertonings waar Zaan en sy band hierdie emosioneel-gelaaide liedjie met passie sal lewer.
Geniet die enkelsnit op die platform van jou keuse – https://vyd.co/OorJou