Vonk Musiek

NUUS

Pieter Marcato bring ‘n ode aan ware liefde met nuwe enkelsnit, ‘Sy’

Daar is iets besonders aan ‘n liedjie wat die gevoel van liefde vasvang—daardie gevoel van warmte, passie en ‘n diep verbintenis. Dis presies wat Pieter Marcato vermag met sy splinternuwe enkelsnit, “Sy”, ‘n opregte en lewensgetroue liefdesverklaring aan die spesiale vrou in sy lewe.

Volgens Pieter was dit ‘n natuurlike proses om hierdie liedjie te skryf. ‘n Kitaar-riff het eerste na hom toe gekom, en die lirieke het moeiteloos ingevloei, aangesien hy iemand spesiaal het oor wie hy só voel. “Dit is ‘n samevatting van die gevoelens wat ‘n spesiale persoon in jou lewe vir jou gee. Dit is ook ‘n ware verhaal—baie van die lirieke is toepaslik in my huwelik,” verduidelik hy.

Liefde is vir Pieter soos “gom wat twee mense bymekaar hou”, en hy glo vas dat dit jou deur donker tye kan dra, jou inspireer en die lewe die moeite werd maak.

Van die eerste reëls af is dit duidelik dat “Sy” ‘n lied is wat liefde deur beeldspraak en emosie uitleef. Sy beskryf die vrou in sy lewe as “die vlam in die kole” en “die vleisie op die vuur”, wat nie net haar aantrekkingskrag beklemtoon nie, maar ook die warmte en gemak van ‘n diep verbintenis. “Dit gaan minder oor ‘n vrou se persoonlikheid en meer oor die gevoel wat sy jou gee,” sê Pieter.

In die koor verklaar hy sy toewyding met die woorde:
“Vat my asem, vat my alles, vat my net saam met jou.”
Vir Pieter is ware liefde ‘n wedersydse gee en neem—wanneer jy die regte persoon kry, is dit maklik om jou lewe saam te bou en elke oomblik te koester.

Hy gebruik ook die beeld van “Saam met jou tot in Timbuktu” om die idee oor te dra dat ware liefde geen grense ken nie. “Jy sal enigiets doen vir die persoon wat jy liefhet, maak nie saak hoe moeilik dit is nie, want hulle is dit werd,” sê hy.

Soos met al sy musiek, het Pieter besluit om “Sy” rondom ‘n akoestiese kitaar te bou. Hy glo vas dat ‘n lied nie meer as dit nodig het om sy emosionele kern oor te dra nie. Hy het saam met Josh Oosthuizen (ekstra kitare), Thys van Deventer (bykomende stemme) en Jacques Lotter (vervaardiger) gewerk om die eindproduk te skep.

]Wanneer gevra word watter deel van die liedjie vir hom die meeste beteken, antwoord Pieter sonder huiwering: “Vat my asem, vat my alles, vat my net saam met jou.” Dit verwoord sy oorgawe aan die liefde en die diepe respek wat hy vir sy vrou het.

Hy erken ook dat hierdie lied ‘n belangrike les vir hom ingehou het: “Ek het nog altyd geweet hoe ek oor my vrou voel, maar dit was lekker om dit in woorde te sit. Ek het ook geleer om nie so hard op myself te wees as ‘n liedjieskrywer nie.”

“Sy” is net die begin—Pieter beplan om nog baie liefdesliedjies uit te bring, maar altyd met ‘n upbeat en energieke aanslag. Hy werk reeds aan sy volgende opname en beloof dat aanhangers ‘n “lekker liedjie om saam te kan lit skud” kan verwag.

Vir nou is “Sy” hier, gereed om harte te verower. Maak seker jy luister en ervaar die sielvolle klanke van Pieter Marcato se nuutste meesterstuk!

PUBLISITEIT & BEMARKING :

Vonk Musiek

Ashley Du Toit

Sel: 083 963 3055

E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

 

 

 

PLATEMAATSKAPPY :

Vonk Musiek

Francois Roux

Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Shopping Cart
Send this to a friend