Vonk Musiek

NUUS

REGGIE PEACE SE PLEIDOOI AAN JONGMENSE, “KIES LEWE”.

As jy moet kies tussen reg of verkeerd, dan kies jy dit wat reg is. As jy moet kies tussen ‘n harde waarheid of ‘n pragtige leuen, kies dan eerder die harde waarheid. En as jy moet kies tussen lewe en dood, KIES LEWE.

Hierdie is die boodskap van Reggie Peace se nuutste enkelsnit, KIES LEWE. 

Sedert Reggie die slegte kant van die lewe gesien het, het hy die keuse gemaak om altyd die lewe bo die dood te kies. Dit is juis waarom hy sy verhoognaam as Reggie Peace gekies het. 

Reggie (Reginald Hufkie) vertel dat hy as jongman min vrede ervaar het. Hy het geglo dit is iets wat slegs vir sekere mense bedoel was. Dis eers toe hy hierdie siening kon verander dat hy sy naam verander het na Reggie Peace.Hy het ook ‘n belofte aan homself gemaak dat hy altyd vrede sal saai waar hy ook al mag gaan.

Reggie wil met sy opregte, vars en opbouende lirieke veral jongmense aanraak wat hulself in beproewende tye bevind. KIES LEWE is Reggie se pleidooi aan jongmense om “asseblief nie op te gee nie, maak nie saak hoe ‘heavy’ die lewe raak nie”.

Getrou aan sy styl en vorige musiek, huiwer Reggie nie om sy omstandighede as verwysing te gebruik nie. Dis te danke hieraan dat Reggie se musiek outentiek, opreg en treffend is. KIES LEWE se lirieke is ‘n oorvertelling van Reggie se oorwinning oor slegte omstandighede. Die lied kan beskryf word as ‘n perfekte balans tussen hip-hop, R&B, soul en gospel – dis mos egte Reggie-styl.

Reggie het self KIES LEWE geskryf. Die vervaardiging van die lied is ‘n spanpoging tussen DJ Darkness en Tertius Human.

Sedert hy 14 jaar oud was, is Reggie se grootste droom om stories  deur sy musiek te vertel. Min wetend dat hy sy droom ‘n paar jaar later sou kon uitleef toe hy in 2021 sy eerste album uitgereik het.

Twee van sy liedere word gebruik in die bekende kykNET & KIE telenovelle en ander musiek word gereeld gehoor op  RSG en ander radiostasies.

Reggie vind sy inspirasie by talle groot Hip-Hop- en Gospellegendes soos 50 Cent, Eminem, Coldplay, Hillsong, Parimore en Aretha Franklin. Hy voeg by dat sy uiteenlopende musiekstyl juis spruit vanuit sy wye belangstelling in verskillende genres.

Op Suid-Afrikaanse bodem luister hy graag na die musiek van Wesley West, Genii Blakk, Bouwer Bosch, Peach van Pletzen en Bernice West.

Behalwe vir sy loopbaan in musiek, speel Reggie ook gereeld in TV-reekse. Hy is tans te sien in die komediereeks, Poena, wat op kykNET uitgesaai word. Vroeër het hy ook ‘n rol in die SABC 1 reeks, Generations the Legacy, vertolk . 

Op 22 Oktober 2022 is die storiefilm, VLAMME, op kykNET uitgesaai. ‘n Projek waar Reggie as skrywer en akteur kon optree. Verder is hy die regisseur van ‘n nuwe dokumentêr wat mid-2023 te siene sal wees.

Op die ou end is Reggie se boodskap aan almal eenvoudig: “Hou dit real, daar is niemand soos jy nie. Why be a copy of someone else when you can be the real version of yourself?”

KIES LEWE is vanaf 2 Desember 2022 op alle digitale platforms beskikbaar. 

SOSIALE MEDIA

Facebook: https://www.facebook.com/ReggiePeaceInt

Instagram: https://www.instagram.com/reggiepeace

Shopping Cart
Send this to a friend