Met sy nuutste enkelsnit, Oomblikke, bring Rudi Kleingeld ‘n diep filosofiese en introspektiewe boodskap na die Afrikaanse musiektoneel. Die lied, wat deur ‘n kombinasie van 90’s rock en sokkie Afrikaans gekenmerk word, dwing die luisteraar om te besin oor die aard van tyd, verandering en identiteit.
Volgens Rudi het die idee vir Oomblikke ontstaan uit die besef hoe vinnig tyd beweeg – ‘n gevoel wat net al hoe sterker raak namate mens ouer word. “Die wêreld en samelewing ontwikkel so vinnig, maar dit voel nie asof die mens se ‘menswees’ saam vooruitgaan nie. Persoonlik voel dit soms asof ek wakker word in ‘n wêreld wat ek nie ken nie,” sê hy. Hierdie besef het hom gelei om lirieke te skryf wat ‘n balans tref tussen nostalgie en ‘n soeke na betekenis.
Die reël “Ek’s nie gister se kuns werd nie” is veral treffend en weerspieël sy besef dat, hoewel hy geïnspireer is deur die kunstenaars voor hom, hy nie net kan herhaal wat sy helde gedoen het nie. “Ek moet my eie manier vind om my merk te los. So skryf my naam op die horison, want dit is waar ek myself sal vind,” verduidelik hy.
Kleingeld beskryf die klank van Oomblikke as ‘n kombinasie van 90’s rock met ‘n tikkie nostalgie en grunge. “Daar is baie meer harmonie bygevoeg, en ek was veral geïnspireer deur Queen se musiek,” sê hy. Hy noem ook dat hy kunstenaars soos Soundgarden, Collective Soul, Nothing But Thieves en Jan Blohm geluister het tydens die skeppingsproses van die lied.
Die produksie van die snit is gedoen deur Tertius Human, wie Kleingeld beskryf as een van die beste vervaardigers in Afrikaans. “Ek geniet elke kreatiewe oomblik saam met hom,” sê hy oor die ervaring van die opnameproses.
Die lirieke van Oomblikke dra ‘n rebelsheid in sig, wat ‘n uitdaging aan die norm bied. Die frase “Tattooer my ‘n ruglyn” is ‘n metafoor vir die behoefte aan rigting in ‘n wêreld waar tegnologie en sosiale media mense maklik koersloos kan laat voel. “Soms moet ons iets hê om ons te herinner aan ons doel en waarheen ons oppad is,” sê hy.
Die reël “Ons is oomblikke gemaak in harmonie, vandag hier en more uitgespoel” verwoord die kortstondigheid en onvoorspelbaarheid van die lewe – ‘n sentrale tema van die lied. “In vergelyking met die groter tydlyn is ons maar ‘n spikkel wat skaars gesien word. Dit gaan vinnig verby en niks word gewaarborg nie,” voeg hy by.
Kleingeld hoop dat luisteraars hul eie betekenis in sy musiek sal vind. “Ek voel dat iemand wat my musiek luister, hul eie boodskap of betekenis daaruit sal kry,” sê hy. Hy meen ook dat Afrikaanse musiek tans vinnig ontwikkel en dat ernstiger temas weer gewild gaan raak, in plaas van die braai-en-brandewyn-liedjies wat lank die mark oorheers het.
Met opwindende projekte in die vooruitsig, insluitend ‘n cover van een van sy gunsteling Afrikaanse liedjies, beplan Kleingeld om Oomblikke so wyd moontlik te deel. “Indien die geleentheid daar is, sal ek dit graag live wil opvoer,” sê hy.
Oomblikke is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Moenie hierdie diep, sielvolle weergawe van verganklikheid en identiteit misloop nie – dit is ‘n lied wat jou laat dink oor die oomblikke wat verbygaan en dié wat jy vir altyd wil vashou.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za