Vonk Musiek

NUUS

STEYN DE WET SE NUUTSTE ENKELSNIT “POTIFAR SE VROU” BRING BYBELSE HUMOR EN DIEPER GESPREKKE NA DIE VOORGROND:

Die geliefde Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Steyn De Wet, stel sy nuutste enkelsnit, “Potifar se Vrou”, op 25 Oktober 2024 vry op alle digitale platforms. Dié liedjie beloof om nie net ‘n unieke perspektief op ‘n Bybelse storie te bied nie, maar ook luisteraars te laat glimlag met sy humoristiese benadering en diep onderliggende temas.

Steyn se liefde vir die Bybel as ‘n stuk literatuur was die kerninspirasie agter “Potifar se Vrou”. Hy sê: “Ek het altyd gewonder oor Josef se rol in die storie van Potifar se vrou. Was hy heeltemal onskuldig? Wat as sy haar kant van die storie moes vertel?” Steyn het die storie met ‘n moderne lens ondersoek, in die lig van kontemporêre feminisme, en gevra hoe die narratief moontlik herskryf sou word. Die liedjie is ook ‘n skerp, maar ligte kommentaar op hoe oordeel binne geloofsgemeenskappe mense dikwels weghou, eerder as om hulle in te nooi.

Steyn verduidelik dat “Potifar se Vrou” vir hom gaan oor die vermoë om met humor na jou eie lewe en foute te kyk: “Dit is ‘n liedjie wat jou help lag oor jou mislukkings en ook oor die kere wat jy jou goeie dade te ernstig opgeneem het.” Die liedjie het oor tien jaar tot stand gekom, en was ‘n lang kreatiewe reis wat diep persoonlike betekenis vir Steyn het. Hy het die eerste dele van die lied al in die vroeë 2010’s geskryf, maar dit was eers tydens die pandemie dat hy die finale weergawe voltooi het.

Die liedjie is reeds ‘n gunsteling by Steyn se vertonings, waar mense hom dikwels vra om dit te speel. Hoewel die liedjie dalk kontroversie kan uitlok weens sy verwysings na Bybelse karakters, het Steyn daarop gewys dat dit juis die punt is – om gesprekke aan te wakker. “Ek hoop mense kan ‘n bietjie lag, maar ook vrae vra,” sê hy.

Steyn en sy mede musiekant vriende het ook ‘n chaotiese en humoristiese musiekvideo geskiet vir die liedjie. Bekende gesigte soos “Tino Singe”, “Esme Fox” asook “Andrew Veldman (Kaptein Rofjol”) en “Louwrens Labuschagne (Gebou-om-te-hou-Louw)” lede van beide “Kontras” en die “FAKboiz”, verskyn in die video, wat by “James Boland” van “Posduif” se huis verfilm is. Steyn het tydens die verfilming die vryheid van kreatiwiteit geniet en hoop die malheid in die video sal met luisteraars aanklank vind.

Steyn is ook op toer in Desember saam met “Afrikalt” teen die Suid-Kus en beplan om op 10 November saam met “Twee” en “Glaskas” in Wellington op te tree, asook op 16 November saam met “Herman Kleinhans” in Stellenbosch. Hy speel ook gereeld by “Du Kloof Lodge” naby die Paarl.

Met “Potifar se Vrou” nooi Steyn luisteraars uit om saam met hom te lag, te dink en deel te neem aan die ryk gesprek wat hierdie unieke liedjie inspireer. “Potifar Se Vrou” is beskikbaar vanaf 25 Oktober 2024 op alle digitale platforms.

Geniet die enkelsnit op die platform van jou keuse – https://vyd.co/PotifarSeVrou

PUBLISITEIT & BEMARKING :

Vonk Musiek

Ashley Du Toit

Sel: 083 963 3055

E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

 

Kyra Grobler

Sel: 072 107 0069

E-pos: kyra@vonkmusiek.co.za

E-pos: pr@vonkmusiek.co.za

 

PLATEMAATSKAPPY :

Vonk Musiek

Francois Roux

Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Shopping Cart
Send this to a friend