Vonk Musiek

NUUS

VONK MUSIEK VEREER KUNSTENAARS TYDENS GLANSGELEENTHEID BY DIEMERSFONTEIN WINE AND COUNTRY ESTATE

Afrikaanse musiek kunstenaars het gisteraand saamgetrek by Diemersfontein Wine and Country Estate vir die Vonk Musiek Erkenningsaand.

Met ‘n tema van “fotogenies”, het bekendes, media en gaste saamgekom om kunstenaars se besonderse prestasies in Afrikaanse musiek te vier. Die aand is aangebied deur akteur en TV-aanbieder Arno Greeff en het ‘n gesellige ete en spesiale musiekvertonings ingesluit.

Dozi en sy seun, Storm, het die aand op ‘n treffende noot geopen met hul weergawe van Pink FLoyd se Wish You Were Here. Ander kunstenaars wat opgetree het, sluit in Tino, Vrede, Jakkie Louw en Herman Kleinhans. Boonop het Juan Boucher en Tasché die gaste bederf met hul enkelsnit, Suid.

Kunstenaars is op die verhoog vereer vir hul prestasies in kategorieë wat strome op digitale platforms en speelbeurte van musiekvideo’s op YouTube insluit. Hierdie toekennings is toegeken in vier statusvlakke: Goud, Platinum, Dubbel Platinum en multi-Platinum.

Van die kunstenaars wat erkenning ontvang het, sluit in: Armand Steenkamp, Zaan Sonnekus, Tino, Nicholis Louw, Herman Kleinhans, Twee, WG Nel, Tasché, Deon Groot, Jakkie Louw, Jan Rhaap, Wouter van de Venter, Jan Blohm en Juan Boucher.

Vir die eerste keer in hul loopbaan is Spoegwolf, wat onafhanklik werk, ook vereer vir hul uitmuntende stroomprestasies.

Daar is spesiale erkenning gegee aan sosiale media-smaakmakers, insluitend Lisa met die Rooi Hare, Mienke Ehlers en Zaan Sonnekus, wat hul merkwaardige bydraes in hierdie kategorie gevier het.

Die FAK het van die geleentheid gebruik gemaak om twee musieklegendes, Richard van der Westhuizen en Valiant Swart, te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek. Voelgoed Media het ook die talentvolle sangeres Andriëtte met ‘n spesiale toekenning vereer.

‘n Hoogtepunt van die aand was die toekenning van die heel eerste Stamboom-toekenning aan Wimpie van der Sandt, eienaar van Bok Radio. Hierdie toekenning, wat individue vereer vir hul diepgewortelde bydrae tot taal, kuns en kultuur, is aan Van

der Sandt toegeken vir die beduidende rol wat Bok Radio en die jaarlikse Bok-boottoere speel in die bevordering van Afrikaanse musiek en kultuur. In ‘n spesiale tradisie sal Van der Sandt die verantwoordelikheid dra om volgende jaar se wenner aan te wys.

Die Vonk Musiek Erkenningsaand het weereens bewys dat Afrikaanse musiek nie net floreer nie, maar ook voortdurend groei en ontwikkel. Dit was ‘n aand vol trots, glans en uitmuntende musiektalent.

PUBLISITEIT & BEMARKING :

Vonk Musiek

Ashley Du Toit

Sel: 083 963 3055

E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

 

 

 

PLATEMAATSKAPPY :

Vonk Musiek

Francois Roux

Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Shopping Cart
Send this to a friend