Die geliefde Suid-Afrikaanse musiekgroep, Vrede, wat bestaan uit Storm Opperman en François Roux, stel met groot opgewondenheid hul jongste enkelsnit, “Dagbreek”, vry op 20 September 2024. Hierdie lied, wat op alle digitale platforms beskikbaar is, bring ‘n diep persoonlike en emosionele boodskap oor die krag van ware liefde en hoe dit ons kan red uit ons donkerste oomblikke.
Volgens Storm Opperman is “Dagbreek” geïnspireer deur die eenvoudige, maar diepgaande gevoel van waardering vir ‘n lewensmaat. “Dit gaan oor daardie oomblik wanneer jy besef met wie jy jou lewe deel – die persoon wat saam met jou opstaan en die dag aanvat. Die lied is ‘n erkenning van die onskatbare waarde van daardie beter helfte,” verduidelik hy.
Storm beskryf die skryfproses as eenvoudig, maar emosioneel ryk. Hy verduidelik: “Ek het wakker geword met die gevoel van ‘contentment’ – die wete dat daardie spesiale iemand op die regte tyd in jou lewe gekom het. Dit was ‘n geval van ‘net betyds’ – voor ek sou opgee, voor die alleenheid te oorweldigend geraak het. Liefde bring vrede in ‘n mens se gedagtes en help om jou stil te maak van die daaglikse oordink.”
Die kernboodskap van “Dagbreek” dra egter veel dieper. Vrede wil luisteraars, veral mans, aanmoedig om hul emosies te erken en te verwerk. “Mans hou dikwels hul gevoelens terug en probeer vergeet van die slegte tye in hul verlede. Ware liefde dwing ons om daardie emosies te konfronteer en daardeur te werk sodat ons vorentoe kan beweeg. ‘Die reën’ in die lied verteenwoordig die aanvaarding van emosies – ‘n reiniging wat uiteindelik vrede bring,” sê Storm.
“Dagbreek” is meer as net ’n lied oor liefde – dit is ‘n herinnering dat ons almal, op een of ander tydstip, deur liefde gered kan word van ons eie gedagtes en angste. “Die boodskap is om te besef dat jou geliefde jou red elke dag. Jou red van jou eie mal kop. Jou red van alleen wakker word. Jou red van jouself” sê Storm. Met hul unieke klank en diep lirieke het Vrede weereens ’n treffer geskep wat aanklank sal vind by luisteraars van alle ouderdomme.Maak seker om “Dagbreek” nou op jou gunsteling digitale platform te luister en deel in hierdie opregte viering van liefde en genesing.