Die talentvolle Suid-Afrikaanse kunstenaars, Zoé het saam met die bekroonde Zaan Sonnekus kragte gesnoer om hul jongste enkelsnit, “Klein Dorpie Mentaliteit”, vry te stel. Hierdie roerende liedjie, geïnspireer deur werklike gebeurtenisse, duik diep in die uitdagings en emosies wat dikwels in klein gemeenskappe ontstaan wanneer stories vinnig versprei en wantroue wortel skiet.
Volgens Zoé is die liedjie gebore uit ‘n baie persoonlike ervaring wat sy in haar klein tuisdorpie gehad het. Terwyl sy baie liefde vir haar dorpie het, is sy diep geraak deur die manier waarop stories soos ‘n “telefoontjiespeletjie” oorgedra word, dikwels heeltemal verdraai. In 2022 het sy haar inspirasie begin put uit haar verhouding met ‘n man wat sy liefgehad het, en het sy verskeie liedjies rondom daardie ervaring geskryf. Een van daardie liedjies was “Lief Hê”, wat die begin van hierdie emosionele reis weerspieël.
Die liefdesverhaal het egter ‘n donkerder draai geneem toe sy vermoed het dat hierdie man haar verneuk het met haar beste vriendin. So is “Crazy Meisie” toe ontgin in hierdie tyd van onsekerheid en vantroue. Hierdie vermoede het later waar geword, en die intense emosies wat daarmee saamgegaan het, het gelei tot die laaste lied in haar trilogie, “Klein Dorpie Mentaliteit”. Soos Zoé verduidelik, is die liedjie ‘n weerspieëling van die pyn en verlies wat sy ervaar het, nie net van die geliefde nie, maar ook van vriende wat kante gekies het.
Vir Zoé was “Klein Dorpie Mentaliteit” ‘n afsluiting van ‘n moeilike tydperk in haar lewe. Sy het in 2022 aan die liedjie begin werk, maar het gesukkel om dit af te rond. In Maart 2023 het sy ‘n klavieropname gemaak en dit vir Zaan Sonnekus gestuur met die hoop dat hy saam met haar die liedjie sou voltooi. Tot haar verbasing en vreugde, was Zaan dadelik entoesiasties oor die liedjie, en het hy binne 15 minute sy vers geskryf.
“Die emosionele konneksie wat ek met hierdie lied het, het oor die jare verander,” sê Zoé. “Aanvanklik het elke woord soos ‘n mes gevoel, maar nou voel dit soos ‘n afsluiting van my ou self.” Sy is dankbaar dat Zaan, een van haar gunsteling kunstenaars en vriende, saam met haar aan hierdie projek gewerk het.
Hoewel die liedjie self nie ‘n diepgaande boodskap dra nie, erken Zoé dat dit veral aanklank sal vind by enigiemand wat al in ‘n soortgelyke situasie was. “Die liedjie sê basies: ‘Hey, moenie op mense verneuk nie!’ Dit is ‘n stuk waarin mense wat deur verraad gegaan het, hulself kan herken,” sê sy. Zoé voeg by dat sy hoop om mense te inspireer om te besef dat hulle sterker as hul pyn is en dat dinge wel beter sal raak.
“Na ‘n jaar of twee sal jy terugkyk en besef hoe baie jy gegroei het. Jou vyande sal die oorlog verloor voor jy selfs ‘n kans kry om te skiet.”“Klein Dorpie Mentaliteit” is beskikbaar vanaf 18 Oktober 2024 op alle digitale platforms. Maak seker om dit nie te mis nie!
Geniet die enkelsnit op die platform van jou keuse – https://vyd.co/KleinDorpieMentaliteit